Logo
#LoveMySelfie
#LoveMySelfie

Twaalf gelukkige mense staan die kans om ’n naweek saam met die televisiepersoonlikheid, Adele, op ’n plesiervaart van ’n leeftyd te wen. ’n Aftree-eenheid ter waarde van R7 miljoen is ook gratis op die spel! Die vroue dinge mee in oorlewingstyl-speletjies en -vasvrae om die eksklusiewe prys te wen.

Afrikaanse film oor vriendskap, tweede kanse binnekort in fliekteaters

News
15 Februarie 2024
Johannesburg, 15 Februarie 2024 - Die langverwagte dramedie, “#Lovemyselfie”, maak gereed vir sy nasionale vrystelling op 8 Maart. Na 'n suksesvolle fliektoer aan die kus en in Midrand, word die fliek by 15 teaters regoor die land vrygestel.
#LoveMySelfie

Melanie Williams, Hoof van Bemarking by Nu Metro, het haar entoesiasme uitgespreek en gesê: "Ons is opgewonde oor die vrystelling van #Lovemyselfie. In die lig van die veranderende mark na Covid-19, het Nu Metro die noodsaaklikheid besef om plaaslike industrie te ondersteun.  Ons hoop dat hierdie fliek by gehore sal aanklank vind en die ondersteuning sal kry wat dit verdien."

Gehore kan 'n mengelmoes van emosies verwag, van bittersoet tot lag-uit-maag oomblikke. #Lovemyselfie belowe pure vermaak met hart. Die fliek spog met 'n uitstaande rolverdeling wat Illse Roos, Kevin Smith, June van Merch, Hélène Truter, Joannie Combrink, en Lida Botha insluit.

Die regisseur, Lika Berning, het haar opwinding oor die teater vrystelling uitgespreek en gesê: "Ons kan nie wag dat gehore binnekort #Lovemyselfie in teaters sal kan ervaar nie. Daar is nie ’n beter manier om ’n fliek te geniet as in ’n donker fliekteater sonder afleidings nie. Ons hoop dat mense weer die ervaring van fliek-toe-gaan sal herontdek”.

Naas die hoofrolspelers, bied die fliek uitsonderlike talent in ondersteunende rolle, insluitende TikTok-sensasie Chané Grobler, komediant Moses Williams, Robyn Scott, Chanelle de Jager, Chris van Niekerk, Thokozile Ntsinga, en 'n kamee-vertolking deur die mede-vervaardiger Kurt Darren.

Oor die fliek:

#Lovemyselfie volg die verhaal van plaaslike TV-ster, Adele Swan, wat, nadat sy die verraad van haar verloofde ontdek het, 'n reis van self-ontdekking aanpak. Wanneer sy 'n kans kry om haar finansiële stabiliteit te herwin deur die gesig van 'n veldtog op 'n luukse plesierboot te word, raak Adele verstrengel in onverwagte avonture en herontdek sy ou verhoudings.

#Lovemyselfie maak geskiedenis:

#Lovemyselfie het geskiedenis gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse bemanning om 'n fliek op 'n MSC plesierboot te verfilm. Ten spyte van die uitdagings om deur die nag te werk om nie vakansiegangers te pla nie, het die rolverdeling en bemanning hul van hul taak gekwyt en altyd professioneel gebly.

"Ek kon nie vir 'n beter film en akteursspan gevra het nie. Ten spyte van lang ure, waar ons tussen 11 uur in die aand en 6 uur die oggend verfilm het, het die span professioneel en positief gebly, en dit wys regtig op die skerm. Die ondersteuning van Ross Volk en sy fantastiese span by MSC Cruises het ’n groot verskil gemaak; ons is werklik dankbaar dat hulle dit moontlik gemaak het," het Berning gesê.

Ross Volk, Uitvoerende Direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, het kommentaar gelewer op die vennootskap en gesê: "Ons is verheug om saam te werk met die span agter #Lovemyselfie. Hierdie vennootskap beklemtoon ons toewyding tot die ondersteuning van plaaslike talent en stories, veral in die lig van die uitdagings wat die filmbedryf in die gesig staar as gevolg van die COVID-19-pandemie."

Die fliek sal vertoon word by uitgesoekte Nu Metro- en Ster-Kinekor-teaters regoor die land, insluitende Nu Metro Ballito, Boardwalk, Canal Walk, Clearwater, Loch Logan, Menlyn Park, Woodlands, Welkom, en Worcester, sowel as Ster-Kinekor Brooklyn Mall, Garden Route Mall, Somerset Mall, en Tygervalley, en by die Movies@ groep se The Ridge Casino en Silver Star Casino.



Kaartjies sal beskikbaar wees via normale teaterkanale.

#Lovemyselfie word direk versprei deur Advantage Entertainment en sal  vrygestel word op 8 Maart 2024. Bly op datum deur die fliek se sosialemediablaaie te volg vir meer inligting.

Vriendskap én vergifnis in prettige #LoveMySelfie roer aan die hartsnare

News
25 Oktober 2023
In die rolprent#LoveMySelfie, moet die beste “selfie” ingestuur word en twaalf gelukkige seniors kan ’n naweek op ’n plesiervaart saam met televisiepersoonlikheid, Adele Swan, wen.
kykNET_Love_my_selfie_artikel_image

Verbeel jouself dat jy en ’n groep vriendinne kan op ’n plesiervaart, ver weg van die daaglikse bestaan, julself vernuwe en die verlede agterlaat. Hemels, reg?

Tog is dit nie altyd so maklik nie. So vind plaaslike televisiester, Adele Swan, sommer vinnig uit wanneer sy ’n geleentheid aangryp om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig van eiedomsmagnaat, George, se veldtog te word: ’n kompetisie op die luukse plesiervaart, MSC Sinfonia, om eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.

Nie net kry haar ego ’n knou wanneer sy agterkom dat sy aan die Survivor of Seniors-kompetisie aan boord van die skip sal moet deelneem nie, maar sy loop ’n ou skoolvriendin, Winnifred, raak wat die deure van haar langvergete verlede oopmaak. Herinneringe bring selfvertwyfeling, spyt en onderdrukking van sekere gevoelens vir Adele soos die druk op haar om die aftree-eenhede te verkoop, groter word en George toenemend onredelik raak.

Deur hul beste “selfie” in te stuur, wen twaalf gelukkige seniors ’n naweek op ’n plesiervaart saam met televisiepersoonlikheid, Adele, waar die vroue meeding in oorlewingstyl-speletjies en -vasvrae om die eksklusiewe prys van ’n aftree-eenheid ter waarde van R7 miljoen, te wen.

Die komiese en hartroerende rolprent #LoveMySelfie handel oor veel meer as nét ’n langverwagte plesiervaartvakansie. Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ’n reis na binne en ontdek dat dit nooit te laat is om jouself te ontwikkel en selfs te verander nie.

Die hoofkarakter Adele Swan word vertolk deur gesoute en veelsydige aktrise, Illse Roos, bekend vir rolle in EgoliDie BoekklubBoland MoordeTroukoorsFynskrif en was onlangs in kykNET-sepie Suidooster te sien. Adele se langverlore vriendin Winnifred word deur veteraan aktrise, June van Merch, vertolk en die res van swaargewig rolverdeling sluit in Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith wat die slinkse George vertolk.

Die filmmaker aktrise Lika Berning met haar veelsydige loopbaanprofiel van meer as 20-jaar in die vermaakbedryf, asook filantropiese werk, is die regisser van #LoveMySelfie. Dis haar eerste vollengterolprent as regisseur.

“Ek wou ’n prettige komedie maak maar ook een wat die hartsnare raak, en nie net vir die ouer Afrikaanse gehoor nie, maar vir almal om te geniet. #LoveMySelfie wys ’n emosioneel bevredigende reis waarin Adele die lae waaragter sy wegkruip, afskil – nes baie van ons almal soms doen,” sê Berning.

Die draaiboek is deur Hélène Truter geskryf en vervaardig deur Nigel Tattersal, Vlokkie Gordon, Kurt Darren en Berning.

Die rolprent is op twee MSC-vaarte verfilm – ’n tweenag-vaart na Mosselbaai en ’n viernag-vaart na Walvisbaai, Namibië.

Oor hul betrokkenheid by die rolprent het die besturende direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, Ross Volk, gesê: “Ons grootste doel was om ons voortdurende ondersteuning aan die Afrikaanse gemeenskap te toon deur die skeppende kunste te help – ’n belangrike deel van die vermaaklikheidsektor in Suid-Afrika. Ons hoop dat Suid-Afrikaanse gehore hierdie hartroerende en inspirerende storie sal geniet en ons sien uit na die sukses daarvan op die grootskerm.”

Kurt Darren, bekende Afrikaanse popsanger en mede-vervaardiger van #LoveMySelfie, is ook te sien in die fliek. Een van die karakters is ’n groot bewonderaar van hom en sy ikoniese liedjie, Kaptein span die seile, is ook deel van die klankbaan wat nog vele ander bekende Afrikaanse liedjies bevat.

#LoveMySelfie se premiere vind op 25 November 2023 op die Spier-wynlandgoed plaas met ’n tweede vertoning net vir die publiek Sondag 26 November. Kaartjies kan op die webblad www.lovemyselfie.co.za gekoop word vanaf Vrydag 27 Oktober om 10:00. Verskeie vertonings van die fliek word nog beplan en nuwe vertonings sal gereeld op die webblad gelaai word. Sou jy navrae hê om die rolprent in jou gemeenskap te wys of by jou behuisingslandgoed, gemeenskapsaal of enige ander gepaste venue, kontak gerus die bemarkingspan op die webblad.

Meer nuus