Logo
Welkom by Pronk Primêr, ’n laerskool in ’n klein dorpie, waar ’n wiskunde-onderwyseres, Ada, terugkeer na haar alma mater en waar van haar skoolvriende – Earl, Charl, Driena en Filip – ook skool hou.
web uni tv guide

Pronk Primêr

144Komedie13

Tussen tonele met Tobie Cronjé

Nuus
25 Julie 2024
Daar is geen twyfel daaraan  dat Tobie Cronjé ‘n lewende legende en skat is in die Suid-Afrikaanse televisie-industrie nie.
Tussen tonele met Tobie Cronje

‘n Akteur met oor die 50 jaar se ervaring wat saam met grotes van ouds gewerk het, maar wat ook daarvan hou om met nuwelinge te werk.

Ons het Tobie beter leer ken.

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

Ek het nie items wat onmisbaar is nie. Selfs 'n tandeborsel kan mens gou gaan koop. My teks is natuurlik allerbelangrikste. Ek slaap op haar, sit op haar; lees haar oor en oor. Sy gaan saam met my toilet toe, bad, en selfs by vriende kuier. Die belangrikste plek waarheen sy MOET gaan is die stel. Sonder haar sal ek nie oorleef nie.

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom?

Wat nou by my opkom is Lafras, een van die hoofkarakters in "Lafras Verwey", 'n film geskryf deur Chris Barnard en sy seun Simon. Simon was ook die regisseur en hy het geen van my maniërismes aanvaar nie. Dit was dus 'n gunsteling oor die uitstekende teks, al die veranderings wat ek aan my speelstyl moes toepas, en die absolute toewyding wat 'n ieder en 'n elk op die stel gehandhaaf het. 'n Groot uitdaging.

Maar nog 'n groter uitdaging was Alvin in "I Love My Wife" in 1978. Ek moes 'n Amerikaanse aksent leer asook leer dans en sing. Die produksie (vir die Brickhill Burkes) het altesaam vir 'n jaar en vyf maande geloop.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het?

Ek leer iets op elke stel. Selfs al is dit leer om NIE goed te doen nie.

Die laaste filmstel waarop ek gewerk het was "Noise and Neighbours": 'n Jong dogtertjie met die naam Malaika Adonis het my geleer van eindelose energie en speelsheid en vreugde. Sy was 'n plesier net om na te kyk!

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag?

In Suid-Afrika sou ek graag wou speel saam met iemand soos Carel Nel. Oorsee sou ek saam met Anthony Hopkins wou werk.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET/Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Ek het onlangs eers gekyk na "Die Byl". Dit was internasionale kwaliteit. Ek sou baie trots voel om daarin te gespeel het. (Maar dis tog nie my koppie tee nie!)

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Ek motiveer myself ná 'n moeilike dag op stel deur te ontleed wat so moeilik was... wat ek daarby geleer het en hoe ek daardie les in die toekoms kan implementeer. Teen daardie tyd verdwyn die probleem gewoonlik heeltemal.

Wat is jou motto in die lewe?

My motto in die lewe is: "Moenie ooit weer 'n motto in die lewe hê nie"...  Die lewe verander te vinnig. Dan moet die motto ook verander.

As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?

Ek sou baie graag in 'n heel paar celebrity-skoene wou staan: Nataniël, Streep, Horovitz, Hopkins, Einstein, Monroe, Monet en Yuja Wang.

En nog baie meer.

Skakel Maandae om 20:00 in vir Pronk Primêr op kykNET, kanaal 144. Noise & Neighbours debuteer by die 12de Silwerskermfees in Augustus.