kyknet channel logo

Kom verken Namibië en sy mense in Op pad met my potjie

Nuus
05 September 2024
Op pad met my potjie begin op 30 September 2024, en in dié reeks ontmoet die kosliefhebber Joalette ’n ryk verskeidenheid mense en ervaar hul kultuur deur kos.
Op pad met my potjie

In Namibië is daar verskillende kulture, verskillende kosse met verskillende geure, maar een ding wat almal deel, is die liefde vir ’n goeie ou potjie. In kykNET se nuwe reisprogram, Op pad met my potjie, neem Joalette de Villiers kykers op ’n toer deur Namibië waar sy elke week nuwe geheime van die land se kookkuns ontdek – met ’n driebeenpot in haar hand.

Op pad met my potjie begin op 30 September 2024, en in dié reeks ontmoet die kosliefhebber Joalette ’n ryk verskeidenheid mense en ervaar hul kultuur deur kos.



Die reeks wys al die plekke wat Joalette besoek vanuit die perspektief van die plaaslike inwoners. In die proses leer sy ook hoe om verskillende gewilde Namibiese disse te maak en te waardeer.

Joalette sê dié projek was ’n wonderlike geleentheid om haar Namibiese medemens beter te leer ken. “Ek kon sien hoe mense leef; hoe ons almal maar deur dieselfde dinge gaan. Ons is op een of ander manier almal in dieselfde bootjie. En dit was vir my so mooi om te sien hoe ons menswees ons verbind. Ek het met ieder en elke episode se gaste lewenslesse geleer wat ek nie op ’n ander manier sou leer nie,” vertel sy.

In die eerste episode maak Joalette ’n draai in Swakopmund waar sy ’n smullekker hoenderpotjie met haar ma, Elizabeth, aanmekaarslaan. Daarna besoek sy en haar vriendin Bianka ’n plaas in die woestyn waar hulle ’n pikante varkskenkelpotjie maak.

In die tweede episode leer Joalette in Duineveld in die Kalahari hoe om brood te maak met min water. ’n Smullekker biltongpotjie word ook opgedis.

Joalette besoek ook, onder meer, Oshaandja, Twee Rivier, Windhoek, Rietkuil en Walvisbaai. Van die heerlike potjies wat met groot geselligheid gemaak word, is ’n afvalpotjie, seekosbredie, bokpotjie en ’n skaappotjie met souskluitjies.

Op pad met my potjie gaan oor lekker kultuur, lekker mense en stories en baie lekker kos. Meeste van die disse is nie moeilik om self te maak nie. Kykers kan dus nuwe resepte kry vir verskillende soorte potjies en dit self tuis probeer,” vertel Joalette opgewonde.

Roger Gertze, besturende direkteur van MultiChoice Namibië, sê: “Ons is geweldig trots op Op pad met my potjie, aangesien dit ons unieke Namibiese tale, kookkuns en landskappe ten toon stel. Dit vertel stories wat ons weet sal aanklank vind by gehore én Namibië na die wêreld sal neem”.

As jy ’n potjiekosliefhebber is of net Namibië en sy mense wil leer ken, skuif op Maandag 30 September om 21:30 nader vir die eerste episode van Op pad met my potjie op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.