web uni tv guide
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 L

Diepe waters se Gys en Zelda: Ou liefde roes nie

Nuus
22 Augustus 2024
Kan hierdie twee vyande die strydbyl begrawe en hulle liefde weer laat blom? Ou liefdes roes mos nie.
Diepe Waters

Gys

“Ek wil by jou wees, maar ons moet mekaar vergewe vir die verlede. Kom ons gee mekaar kans om nou eerlik te wees oor alles wat ons aan mekaar gedoen het. Wat sê jy?”

Zelda

“Ek weet nie of ek dit wil doen nie.”

Gys

“Ons moet beken. Die verlede moet die verlede wees.”

Zelda

“Sê nou dit bederf wat ons nou het?”


Vroeër vanjaar het kykers van Diepe waters uitgevind Gys (Justin Strydom) is die pa van Zelda (Sandi Schultz) se dogter, Pam (Tracey-Lee Oliver), en dat hulle ’n verlede het wat lang skaduwees oor die hede gooi. Daar steek dus veel meer as net ’n botsing van persoonlikhede agter die vyandigheid tussen hulle.

Gys en Zelda het egter saam aan ’n projek begin werk en meer oor hulle verlede begin praat. En toe word hulle saam in ’n hysbak vasgekeer en daar vind boonop ’n ontploffing plaas. Met die ingewikkelde reddingspoging wat volg, begin beide vrees vir hulle lewe. En toe maak hulle harte oop, en Gys erken dat hy nog altyd lief vir Zelda was.


Kan hierdie twee vyande die strydbyl begrawe en hulle liefde weer laat blom? Ou liefdes roes mos nie.



“Ek dink ou liefde roes dalk nie, maar dit kan wel verander,” sê Justin. “Dit bly altyd deel van jou, en die herinneringe en gevoelens kan verweer, maar dit bly altyd iewers binne jou.”

“Eerste liefdes het altyd ’n deel van jou hart,” sê Sandi.

Diepe waters is nie die eerste reeks waarin Justin en Sandi tenoor mekaar speel nie.



“Ek en Justin ken mekaar sedert 2005 toe ons saam in Binnelanders was,” sê Sandi. “Ons is baie gemaklik met mekaar. Ek hou van die feit dat hy, soos ek, totaal verbind is daartoe om die storie te vertel en dat ons soveel pret het deur dit te doen.”

“Ek geniet die dinamiek en vonk tussen ons karakters,” sê Justin. “Sandi bring iets besonders na die tafel, en dit is altyd ’n plesier om saam met haar op stel te wees. Haar professionele houding en diepte in haar vertolkings maak elke toneel ’n avontuur.”

Hoe lyk die toekoms vir Gys en Zelda?

​​​​​​​


“Dis altyd moeilik om te sê, want in die wêreld van telenovelas kan enigiets gebeur,” sê Justin. “Gys en Zelda het al baie deurgemaak, en dit lyk of daar nog baie uitdagings voorlê. Die toekoms hou beslis interessante wendinge vir albei in.”

“Mens kan net hoop dat hulle ewige geluk vind, maar net tyd sal leer,” sê Sandi.

Diepe waters is van Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal) 144 en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.