web uni tv guide
web uni tv guide

Die Groot Ontbyt

144AktualiteitPG

Su-an (en so aan) sluit aan by Die GROOT Ontbyt

Nuus
20 Augustus 2024
Die GROOT Ontbyt, tans die langsdurigste regstreekse program op kykNET, kry ‘n nuwe aanbieder!
Su-an (en so aan) sluit aan by Die GROOT Ontbyt

Alhoewel Su-an Müller Marais nuut is as mede-aanbieder van Die GROOT Ontbyt, is sy nie ‘n vreemde gesig of stem vir kykers nie. Su-an het kykers gereeld bederf met haar kookvernuf en -kuns, as deel van Die GROOT Ontbyt se kombuisinsetsel. Haar stem is ook bekend, aangesien Su-an van 2013-2020 ‘n bekroonde omroeper was op GROOTfm 90.5.

Ná die geboorte van haar seuntjie, het sy besluit om vir eers die mikrofoon op te hang, en te fokus op haar gesin, wat intussen uitgebrei het na ‘n volle vier ná die toevoeging van haar dogtertjie. Albei die kinders het al (willens of wetens, slapend of wakker) saam met Mamma op die kassie gekook! Su-an is ook bekend vir haar rolle in verskeie radiodramas en het al in 7de Laan en Binnelanders gespeel.


 
Haar mede-aanbieders is opgewonde om haar saam met hulle op Die Geelbank te hê. Jennifer Myburgh sê sy is opgewonde oor Su-an, want sy is nie ‘n nuwe gesig wat by die span aansluit nie, en dat sy boonop baie veelsydig is. Pierre Breytenbach kan persoonlik nie wag om soggens saam met Su-an te kuier nie! “Haar spontaniteit, menslikheid en nuuskierigheid gaan perfek pas in die oggendspan. Hier kom lekker tye!” Inhoudsvervaardiger, Izaan Steenkamp sê dat Su-an ‘n nuwe perspektief op sake gaan bring met onder meer haar leergierigheid, en dat sy uitsien na hoe Su-an kykers met haar dinamiese persoonlikheid gaan vermaak.
 
In Su-an se terugvoer op haar besluit om by die span aan te sluit as mede-aanbieder, beklemtoon sy die genot wat sy daaruit put om kinders groot te maak, maar, dat mens ook net soveel doeke kan ruil voordat mens smag na konkrete breinwerk wat vervulling bied op 'n persoonlike vlak. Sy sê dat hierdie geleentheid ook gekom het op 'n perfekte tyd. “My kinders is al bietjie ouer en ná 4 jaar van Ma-wees en slegs deeltyds uitsaai, is ek gereed om meer gereeld my passie uit te leef. Dit help ook om 08:00 soggens klaar uitgesaai te wees, want dan het my dag steeds grasie vir my moederskapsverpligtinge. Dit pas my huidige seisoen soos 'n handskoen.”
 
Su-an het die interaksie tussen haar, luisteraars en kykers baie gemis. Alhoewel dit aanbieders baie blootstel, is dit vir haar ‘n wonderlike vooruitsig om op daardie punt te kom waar sy saam met die luisteraars/kykers kan lag oor hul menslikheid, kwaadword oor die boosheid en huil oor die broosheid van die lewe. Hiermee saam sê sy dat sy opnuut uitsien na gesprekke met volwassenes! En na onverwagse, snaakse en selfs diep oomblikke soos nét regstreekse uitsendings kan oplewer.


 
Rakende wat sy wil hê kykers van haar moet weet, sê sy: “Nes Nataniël se ouma, sê my Ma altyd: My kind, ek verstaan niks van wat jy doen nie, maar dis vir my pragtig."  “Ek kan niks meer as myself gee nie, maar gaan niks minder as my beste gee nie,” sê Su-an.
 
Die GROOT Ontbyt is opgewonde om haar uitsonderlike talent by die reeds besonderse span te voeg. Die GROOT Ontbyt is toegewy daaraan om nie net te sorg vir ligsinnige vermaak vir hul kykers nie, maar, om hul in te lig rakende relevante – en aktualiteits-onderwerpe. Nou kan Su-an ook voortaan die geleentheid kry om nie net die kos te bedien nie, maar saam met die span daaraan te smul.

  • Su-An is reeds vanaf 20 Augustus (hierdie week) op die kassie te sien. As jy op soek is na groot en goeie geselskap, weeksdae tussen 06:00 en 08:00, is dit tyd dat jy inskakel by, en op, Die GROOT Ontbyt!