web uni tv guide
kykNET_Boer_soek_n_vrou_S17_CTE_Boer_1600x160

kykNET soek nuwe boere wat liefde soek – Boer soek 'n vrou

Nuus
04 Augustus 2024
Hierdie maatsoekreeks is beslis ’n wenresep waardeur tientalle Suid-Afrikaanse boere reeds die liefdes van hul lewens gevind het. Dit is meer as genoeg inspirasie om die pen nader te trek en in te skryf!
BSV S17 CTE Presser

Met die 16de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou nou in volle swang, is dit die ideale geleentheid vir ander hoopvolle boere op soek na liefde om in te skryf vir die volgende seisoen, wat in 2025 uitsaai.

Hierdie maatsoekreeks is beslis ’n wenresep waardeur tientalle Suid-Afrikaanse boere reeds die liefdes van hul lewens gevind het. Dit is meer as genoeg inspirasie om die pen nader te trek en in te skryf!

Marciel Hopkins, gesoute Boer soek ’n vrou-aanbieder, het vanjaar aangekondig dat sy die plaasbakkie gaan parkeer om ander projekte te takel, maar die lewenservaring wat Marciel die afgelope vier jaar opgedoen het, is vir haar van onskatbare waarde. 

“Jou mensekennis verbreed ontsaglik baie. Jy leer om aanpasbaar te wees en op jou voete te kan dink. Jy leer om te alle tye ’n spanspeler te wees, maar ook om onafhanklik te wees.”

“Om lief te hê, is een van die grootste geskenke in die lewe. En liefde is onverwags,” sê sy.

Maar dis nie net Marciel wat positief voel oor Boer soek ’n vrou nie. Wat dink boer Hennie de Villiers (seisoen 15) daarvan? Hy het immers die liefde van sy lewe tydens die reeks ontmoet en in Desember 2023 het hy en Eloïse van Heerden voor sowat 100 gaste trou aan mekaar beloof.

“Dit klink seker soos ’n cliché, maar die proses werk definitief. Jy leer meer van jouself want jy beweeg uit jou gemaksone. Terselfdertyd verbeter jou selfvertroue en jy kan die liefde van jou lewe ontmoet.”

Nog ’n boer wat glo deelname Boer soek ’n vrou is beslis die moeite werd, is boer Tyson Zunckel (seisoen 14). En hy het goeie rede om dit te glo, want nie net het hy en Alri Vorster in September 2022 voor die kansel gestaan nie, maar die aller-oulikste klein Nina Zunckel het 10 maande gelede haar opwagting gemaak.

“Ek dink ’n mens het niks om te verloor nie. As jy op soek is na liefde, vat ’n kans en kyk wat kan gebeur. BSV gee ’n mens baie blootstelling wat jy nie op jou plaas of by ’n plattelandse sokkie sou kry nie,” verklap die gelukkige boer.

“Jy leer om oopkop te bly – dat daar nie ’n spesifieke resep of ‘tiekboksie’ is van hoe ’n mens by liefde uitkom nie. Elke mens se manier is heeltemal anders, maar dit kan werk,” vertel Marciel oor haar eie ervaring tydens die vier reekse wat sy aangebied het.

“So, vat ’n kans op liefde. Jou lewe kan in ’n oomblik verander!” is haar aansporingsboodskap vir boere op soek na hul pasmaats.

Boer Niel Bruwer (seisoen 13) het tydens sy Boer soek ’n vrou-reis liefde by Cheréze Maree gevind en hulle is vandag die trotse ouers van Catrine en kleinsus Joané.

“Wie nie waag nie, wen nie. Ek wou ook nie inskryf nie, maar ek was so onder groepdruk wat maar aanmekaar aan my geknaag het en my nie wou uitlos nie. Dit is maar ’n dobbelspel. Jy kan of een ongelooflike vrou ontmoet of jy gaan een ongelooflike journey hê – of jy gaan altwee hê. Dit was lewensveranderend vir my, 100%.

“As jy kans sien vir ’n avontuur van ’n leeftyd, letterlik ’n avontuur van ’n leeftyd, en jy’s bietjie lus vir die onbekende, skryf in vir Boer soek ’n vrou en jy weet jou lewe gaan heel moontlik handomkeer verander, vir die res van jou lewe.”

Boer Niel sê dis hoe dit ook met die boerdery gaan. Jy weet nie wat môre gaan gebeur nie en daar word kanse gewaag. Vir hom is daar nie enige twyfel dat hierdie ’n kans is wat aangegryp moet word om boere se lewens onherroeplik te verander.

Hy het ook ’n boodskap vir diegene wat huiwerig is om in te skryf: “Ai mense, julle weet nie wat ons weet nie . . . Kom vind uit wat ons weet!”

Is jy een van die braafste ongetroude boere of plaasbestuurders wat reg is om jou eie liefdesreis saam met kykNET en Boer soek ’n vrou aan te pak? Wees deel van die oes, manlik of vroulik, wat tydens die 17de seisoen die soektog na hul eie pasmaat gaan afskop. 

Só kan boere inskryf:

·       Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;

·       Bel: 079 614 2229

·       Stuur ’n e-pos na [email protected]

Belangrike inligting:

·       Foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel. 

·       Diegene wat wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.

·       Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 29 Augustus 2024 bereik.

·       Die top-tien boere vir die 17de seisoen sal op Sondag 27 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op kykNET aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.