kyknet channel logo

'Banana Air:' Willie Esterhuizen se nuwe komedie binnekort op kassie

Nuus
03 September 2024
’n Laekoste-lugredery met ’n span eksentrieke lugwaardinne, twee vlieëniers, ’n senuweewrak van ’n bestuurder en sy persoonlike assistent wat hulself altyd in gekke situasies laat beland kan net een ding beteken – ’n plesiervlug met hope vermaak en skreeusnaakse oomblikke.
Banana Airways

kykNET se nuwe komediereeks uit die pen van Willie Esterhuizen, Banana Air, is binnekort op die kassie en beloof om kykers te laat skater. Dis nou as ’n Banana-vlug vir ’n verandering betyds is.

“Ek sit al vir jare met die idee om ’n reeks te maak oor lugwaardinne en vlieëniers. Mense het onmiddellik ’n klomp vrae wanneer iemand sê hulle is ’n lugwaardin of vlieënier. Ons almal wil dadelik meer weet van daai mense en hulle leefstyl wat so drasties anders is as ons gewone mense s’n,” sê Willie. 

Banana Air volg die persoonlike en professionele verhoudings van die lugwaardinne en vlieëniers, en elke episode is gelaai met absurde penaries en onverwagse wendings.

Ons ontmoet vir Brand (Kaz McFadden), ’n nuwe vlieënier wat by die lugredery aansluit, en daar is heelwat intrige rondom sy verhoudingstatus. 

Koekie (Lara Lourens), ’n energieke lugwaardin en ’n groot flirt, probeer Brand beïndruk, terwyl Hester (Liane Heyl), die meer ernstige en mededingende kollega, se verhouding met Piston (Markus Muller), Banana Air se gesoute vlieënier, haar grootliks frustreer.

Wanneer Hester ontdek dat Piston dalk nie so toegewyd is as wat sy gedink het nie, is daar behoorlik turbulensie in die lug.

Barbie Benadie (Danielle Retief) is ’n lugwaardin wat altyd op die uitkyk is vir ’n lekker tyd en ’n partytjiebestemming.

Rodney Reddy (Jai’prakash Sewram), die gestresde baas, sukkel om orde te handhaaf terwyl sy werknemers in verskeie skandale verstrengel raak, insluitend aanlyn dobbel, geheime liefdesverhoudings en hoogs onprofessionele gedrag op vlugte.

Sakkie (Matt Stern) is ’n vlieënier en Rodney se persoonlike assistent. Hy word ’n sentrale karakter in dié komedie wanneer hy ná sy egskeiding in ’n reeks nuwe romantiese verwikkelinge beland. 

“Kykers kan uitsien daarna om uit te vind wat hierdie klomp kleurvolle karakters alles aanvang op tussenstoppe. Die reeks is ook heeltemal anders as enige van die sitkoms wat op die oomblik uitgesaai word. ’n Sitkom se doel is tog om mense te laat lag en te vermaak. Hierdie karakters gaan dit doen en vir ’n halfuur ’n week die kyker laat vergeet van sy of haar eie probleme,” meen Willie. 

Terwyl die bemanning oorleef op ’n mengsel van humor, drama en lewenslesse, vind hulle hulself dikwels in die middel van onverwagte en soms rampspoedige situasies, wat veroorsaak dat sosiale media oorloop met video’s en foto’s van hul buitensporige gedrag.

Dis ’n unieke en vermaaklike blik op die wêreld van laekoste-lugdienste en die eksentrieke persoonlikhede wat dit laat werk. Wel, soms. Min of meer. Banana Air word vervaardig deur Westel Produksies, wat vir reekse soos Molly & Wors, Hester en Ester Bester, Poena en Huis Lelieveld verantwoordelik was. 

  • Banana Air begin op 30 September 2024 om 20:00 net op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.