web uni tv guide
kykNET_Boer_soek_n_vrou_S17_CTE_Boer_1600x160

Maak gereed vir vuurwarm vermaak hierdie Augustus

Nuus
01 Augustus 2024
Dis dalk nog winter, maar kykNET sorg in Augustus vir vuurwarm vermaak. Die Van Wyks van Een keer om die son gaan beslis kykers vasgenael hou, Boer soek ’n vrou se top-5 boere se soektog na liefde begin en ’n bekroonde en eg Suid-Afrikaanse fliek – Frankie & Felipe - word vir die eerste keer op kykNET gewys.
Augustus hoogtepunte



Boer soek ’n vrou se top-5

Die top-5 boere het op ’n onverwagte manier geleer hoe hard papierwerk kan wees – elkeen van hulle het net 24 uur gehad om hul top-10 briefskrywers te kies om op blitsafsprake met hulle te gaan. En hulle moes hulp met die leeswerk inroep.

Intussen het een van die deelnemers, boer Hendri (32 ), wel liefde gevind en het hy onttrek van die reeks. Ja, hierdie boer is tot oor sy ore verlief en duidelik baie gelukkig!

1. Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat

Marciel skop haar kuier by hom af met die slegte nuus: “Jy gaan tien teen een nie vanaand baie slaap nie . . .  want jy gaan deur al hierdie briewe moet lees,” en daarmee word daar nog twee sakke wat boepens staan van briewe vir hom ingedra.

“Is ek nou top-5?”, wil hy weet en skud sy vuiste triomfantelik in die lug.

Kollega Reinier en buurman Kosie is byderhand om broodnodige hulp, en waarskynlik ook ’n bietjie raad, te verleen.

2. Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Die jong boer van Brits het gewonder of hy selfs 10 briewe sal ontvang. Hy glo 100% sy trouvrou is in die drie sakke vol briewe wat Marciel kom aflewer het. Vir hom voel dit soos ’n droom dat daar werklikwaar meisies daarbuite is wat van hom hou – en wie weet, dalk sy trouvrou kan wees.

Vriende CJ en Lodewyk se hulp is ingeroep om te help met die briewe deurlees en sy top-10 te kies.

3. Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap 

Die man wat bekend is vir sy kwinkslae, was baie opgewonde toe hy die sak vol briewe sien wat Marciel kom aflaai het. Hy het verwoed wal gegooi toe Marciel hom vra watter meisie hy wil bel – en op die ou einde was dit ’n bedeesde(en blosende?) Jacques wat met Miné van Pretoria gepraat het.

Vriend Leroy en buurvrou Cara het gretig handjie bygesit met die lees en sorteer van briewe, alhoewel Leroy teleurgesteld voel dat nie een van die briefskrywers vir hulle biltong gestuur het nie.

4. Boer JW (24) van Villiersdorp, Wes-Kaap

Marciel vertel vir hom dat jonger boere wat vir Boer soek ’n vrou inskryf, nog nooit genoeg briewe ontvang het om met die proses voort te gaan nie. Dit is hoofsaaklik omdat die ouderdomsgroep so klein is en briefskrywers mag nie jonger as 21 wees nie.

Maar JW het meer as die kwota ontvang – ’n hele paar sakke word ingedra!

Om hom deur die briewe te help werk, maak hy staat op sy suster Alicia en een van sy vriende, DJ.

5. Boer Niel (31) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Hy kon sy oë nie glo toe een na die ander sak vol briewe die leefvertrek ingebring word nie. In ’n stadium het hy gesukkel om op Marciel te fokus, want boepens-possak op boepens-possak het baie vinnig die spasie in sy leefvertrek begin oorneem.

Niel het inderdaad die meeste briewe van die seisoen ontvang. En sy vriend André en skoonsuster Nicole is slaggereed om saam met hom deur die honderde briewe te werk.

Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal op DStv Stream ook beskikbaar wees.



Een keer om die son

In Augustus vat Ruan dit te ver as hy ’n pasiënt se man beskuldig van haar dood. Sebastian hou ’n afskeidspartytjie vir Elma en Joshua hoop om Amé se hart weer te wen. Leandri ontdek ’n donker geheim in haar ma se tuinhuis en Markus verval in ’n donker gat noudat sy dans-drome ineenstort.

Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, asook op DStv Stream en Catch Up.



Oppi Noot

7 Augustus

Sumaré, Carmen en Jade is die sangers en die gaskunstenaar is Clinton Viljoen.

14 Augustus

Megan, Wilton en Onike sing teen mekaar en Candice Thornton is die gaskunstenaar.

21 Augustus

Die derde semi-finaliste ding mee in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings en die gaskunstenaar is Ghapi.

28 Augustus

Die finaliste sing teen mekaar om dié seisoen se wenner te bepaal. Die gaskunstenaar is Danny Smoke.

Woensdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, asook op DStv Stream en Catch Up



Pronk Primêr

5 Augustus


Plaag-paniek heers. Driena maak ’n verklaring aan Earl. Dwayne is baie geskok wanneer hy van Selma se geheim uitvind en Toni erken sy moontlike nalatigheid met plaagbeheer.

12 Augustus

Driena flankeer aanlyn. Ada bevind haarself in die middel van verskeie liefdesdriehoeke. Earl raak jaloers en ’n verdagte item word in Meneer Welgehawe se laai ontdek.

19 Augustus

Driena en Charl moet hulle onderskeie passies beskerm en vuur sodoende ’n ander passie aan. Dwayne is smoorverlief. Die waarheid oor Meneer Welgehawe se hartsake word onthul.

26 Augustus

Ada beland in ’n stalletjie-oorlog tussen slaptjips en pannekoek by die Kermis. Sy word uiteindelik gedwing om te erken waar haar ware liefde lê.

Pronk Primêr begin op 1 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, DStv Stream en sal op Catch Up beskikbaar wees.



Frankie & Felipe

Die speelfilm Frankie & Felipe maak sy kykNET-debuut op 24 Augustus om 20:00. Frankie & Felipe vertel die verhaal van Franklin Blaze (Bradley Olivier), ’n hardwerkende man uit ’n verarmde agtergrond wat hy geheim hou vir sy kollegas en verloofde, Kim Fortuin (Kim Syster), besef sy opkomende troue en werk is op die spel wanneer sy biologiese halfbroer, Felipé Baadjies (Solomon Cupido), kom aanklop vir hulp. Felipé is ’n passievolle, maar verlore siel wat dringend geld nodig het en dreig om Franklin se geheime te verklap as hy hom nie help om die geld terug te betaal wat hy verskuldig is aan ’n venynige geldskieter nie. Met sy rug teen die muur besluit Franklin om toevlug te bied vir sy broer en hom in te sluit by die troue, maar kort voor lank is hy spyt oor dié halsoorkop besluit. Kan Frankie en Felipé hul broederband tot voordeel van hulle albei laat herleef? Of sal hierdie fasade die troue van die jaar verwoes?

Met regie deur Marvin-Lee Beukes en Nick Burton Moore as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere in Bradley Olivier, Solomon Cupido, Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Terence Bridgett.

Frankie & Felipe is op 24 Augustus om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Sepies




Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Die brei-marathon breek aan en ’n bekende sanger tree in Doepa op. Nicolette wag in spanning vir die uitslae van haar x-strale, en Gaby kom kuier. Delia se skuldgevoel teenoor Lukas ry haar, en sy vind troos by Conrad. Thalia word by Binneland opgeneem, en Louis en Naomi blameer vir LJ. Nie almal is ewe beïndruk met Delia se nuwe aanstelling nie, en Tertius is omgekrap oor die nuus van ’n nuwe Ongevalle-dokter.

Gaby sukkel met die morele vraagstuk van ’n situasie wanneer ’n hoë-profiel politieke figuur by Binneland opgeneem word, en Delia ontvang ’n vreemde versoek van Annetjie. Binneland word ingeperk, en Ella is bekommerd oor LJ se gemoedstoestand. ’n Hysbak-krisis kom tot ’n dramatiese einde, en Gaby word die hoofverdagte in ’n moord-ondersoek.



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Mymoena bevind haarself in die moeilikheid en beraam ’n skokkende plan om uit haar penarie te kom, maar om dit reg te maak wat sy verbrou het, blyk moeiliker te wees as wat sy verwag het. Aiden droom van ’n toekoms saam met Lisa, maar Thys se wisselvallige gedrag bemoeilik sake. Intussen, namate inwoners van Ruiterbosch begin siek word, vermoed Aiden onraad, wat lei tot skokkende onthullings wat sy wêreld ruk.

Terselfdertyd loop Bridgette se pogings om kupido vir Zoe te speel skeef, terwyl Texas Mymoena se swakhede probeer uitbuit wat haar desperate besluite laat neem. Spanning tussen Angie en Zoe bereik ’n breekpunt. Rhafiek is nie beïndruk met sy ma se besluite nie, wat spanning in die Samsodien vererger. Wade moet ook die gevolge van ’n klein foutjie in die gesig staar, en Mrs J se dogters is ongelukkig oor haar besluite.

Bridgette is ook onwrikbaar om agter die kap van die byl oor die casino te kom. Die Samsodiens kom voor deurslaggewende kruispaaie te staan.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET


Die hele gemeenskap wag in afwagting vir Tshepo se resies. Sanet en Ben oorkom ’n struikelblok in hulle verhouding. Sal Karla haar gebroke hart kan genees? Ben probeer die Leticia situasie hanteer, maar sukkel. Gys en Zelda beland onverwags in mekaar se nabye geselskap. Nelius waarsku Gys en Zelda oor die risiko's as hulle nie saam werk nie. Sanet vind uit oor die romantiese ete. Zelda en Gys sit vas oor hoe om die gebou op te knap. Leticia vertel Ben ’n treurige storie oor haar verlede. Gys rig 'n vreemde uitnodiging na Zelda. Henno is ontsteld oor Charity, en Henry is agterdogtig oor Lindsey se agenda. Henry en Pam is bekommerd oor Tshepo se gedrag. Sanet deel ‘n idee met Rossouw. Gys en Zelda se vennootskap versterk.

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie


Die liefde blom weer behoorlik in Skemergrond vandeesmaand. Van Patty en Ruan, Amber en Louis tot Kevin en Gloria. Maar dinge verloop nie so seepglad soos wat dié paartjies sou wou hê nie. En terwyl Christine al hoe meer krap om by die waarheid uit te kom, rafel dinge behoorlik uit by Atkins Affairs.

Dis baie duidelik dat Ruan en Patty ’n ogie op mekaar het, maar Cupid neem sy tyd om by dié twee ’n draai te kom maak. Dit raak al hoe duideliker dat daar iets is wat Patty wegsteek, maar sal Ruan nader aan die waarheid kom?

Louis en Amber gesels sommer van die staanspoor af lekker met mekaar terwyl hy vir haar meer leer oor die plaaslewe en hulle raak aansienlik nader aanmekaar. En terwyl die familie baie bly is dat Amber belangstelling toon in die plaas, raak Lily al hoe meer senuweagtig.

In Kaapstad is Fabian steeds besig met sy streke om tussen Kevin en Gloria te kom. En vir ’n oomblik het dit gewerk, maak nie saak hoe hard Kevin vir Gloria se liefde geveg het nie. Maar toe kom Tasneem tot Kevin se redding en Gloria sien iets wat haar tot in haar binneste skok. Is daar nog hoop vir dié paartjie?

Terwyl dit voorkom asof Christine alles onder beheer het, stamp sy gereeld koppe met haar werknemers. Elaine het haar mes in vir Christine en gaan tot die uiterste om te kry wat sy wil hê. Maar Christine is altyd een stappie voor. Is Elaine se toekoms veilig by Atkins Affairs?



Koortjies met Elwira Standili

In Koortjies met Elwira Standili in Augustus is daar verskeie bekende gaste, ’n Vrouedag-viering en natuurlik die mooiste musiek.

4 Augustus

Hierdie week vier ons mense van klein dorpies met groot drome! Shimmy Isaacs vertel van haar grootwordjare in Worcester, en Carlo Abrahams, ook van Worcester, vermaak ons met sy musiek.

11 Augustus

Ons vier Nasionale Vrouedag saam met Vinette Ebrahim. Sy vertel van haar kleurryke loopbaan. Elwira se Sondagskooljuffrou, Eunice Meyers en gaskunstenaar Abigail Thebus kuier saam. 

18 Augustus

Twee akteurs van die nuwe tellenovelle, Skemergrond, kuier by ons. Legendariese akteur Charlton George en nuweling Auden October kom vertel van hulle loopbane en die nuwe reeks.

25 Augustus

Hierdie week praat ons oor hoe om jou vrese te oorkom. Euodia Samson gesels oor haar stryd met disleksie. Sanger, Jodi Jantjies vertel hoe sy haar selfvertroue gevind het.

Koortjies met Eliwira Standili begin op Sondag 14 Julie op kykNET & Kie, kanaal 145 op DStv uitsaai.

kykNET NOU! 

Op Vrouedag vier kykNET NOU vrouwees


Skakel in vir VROUEDAG om elke faset van vrouwees te vier.

Is jy lus vir ’n girl’s night of gereed om ’n handgranaat te gooi?  Wil jy tyd maak om jou kinders te vertel om saam te sing as musiek begin speel, of wil jy net dans?

Kom sing vir liefde, kom gaan groot saam met die girls en kom geniet die vibe.

Van die kunstenaars wat julle te wagte kan wees is Juanita du Plessis, Karen Zoid, Andriëtte, Tarryn Lamb, Irene-Louise van Wyk, BlackByrd, Caroline Grace, Janie Bay, Leah, Tamlyn Wessels, Bernice West, Liezel Pieters, Elizma Theron, Franja du Plessis, Tasché, Margot Rothman en Karlien van Jaarsveld.

Vrydag, 9 Augustus 2024

10:00 – 10:30
13:00 – 13:30
15:30 – 16:00
17:00 – 17:30
19:00 – 19:30