kyknet channel logo

Groot vermaak wag op kykNET-kykers hierdie September

Nuus
02 September 2024
Dis heerlike lente, en in September wag daar die een hoogtepunt ná die ander op kykNET.
September highlights

Dis heerlike lente, en in September wag daar die een hoogtepunt ná die ander op kykNET. Nie net begin die langverwagte Nêrens, Noord-Kaap Deel II nie, maar ook ’n nuwe seisoen van Wie word ’n miljoenêr?. Van die Silwerskerm-films wat vanjaar op die fees was, maak hulle kykNET-debuut, en kykers kan uitsien na ’n splinternuwe komedie en ’n leefstylreeks wat in Namibië verfilm is. En by Boer soek ’n vrou begin dinge in ’n spannende rigting beweeg.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II

Ná afloop van die wankelrige reis terug na hul ouerplaas, Nêrens, probeer drie broers en hulle pa mekaar ná jare van vervreemding opnuut leer ken. Maar hoe leer jy liefhê as die dolk van ’n ma se dood steeds diep in almal se harte steek? Soos met Deel I, is daar tonele in die hede, asook in die verlede toe die drie broers nog jonk was, wat help om die legkaart te bou van hoe hulle beland het waar hulle vandag is.

Pa Lourens (Frank Opperman) boer saam met sy oudste seun, Frans (Geon Nel), op Nêrens, die familieplaas in die Noord-Kaap. Lourens het nooit oor die dood van sy vrou, Katja (Tinarie van Wyk Loots), gekom nie en het ’n slegte verhouding met sy seuns. Ronnie (Albert Pretorius) is die middelseun, geskei en ’n sukkelaar. Hy is die pa van klein Lourens (Arnold Swart). Andries (De Klerk Oelofse) is die jongste broer en reis die wêreld vol.

Maggie (Ilse Klink) is die Adendorffs se huishoudster en soos ’n ma vir die seuns. Haar seun, Jan-Jan (Dean Balie), en sy vrou, Chrissie (Bianca Flanders), woon ook op die plaas, en in Deel I het Lourens vir Jan-Jan ’n stuk grond gegee om op te boer.

Ans Adendorff (Marion Holm) is Lourens se suster en besit die kroeg op die dorp. Lorrie (Shana Mans) is ’n veearts, en aan die einde van Deel I kom sy en Frans uiteindelik bymekaar. Suzette (Daneel van der Walt) is in die polisie en Ronnie se geliefde. Suzette en klein Lourens het ’n baie goeie verhouding. Fleur (Melissa Willering), ’n Nederlander, is Andries se meisie wat hy op sy reise ontmoet het.

In die eerste episode word Frans 40 en daar word partytjie op Lorrie en haar ma se plaas gehou. Ronnie, Suzette en klein Lourens kom van die Kaap af, en Andries en Fleur vlieg van Nederland om daar te wees. Pa Lourens, Maggie, Jan-Jan en Chrissie en hulle kinders is ook deel van die feesvieringe. Daar is potjiekos op die spyskaart, en dit gee vir veral Frans ’n terugflits na toe hulle kinders was.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II begin op Dinsdag 17 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Banana Air

Banana Air is ’n humoristiese blik op die dramatiese en dikwels chaotiese lewens van die bemanning van ’n fiktiewe laekoste-lugredery. Die reeks volg die persoonlike en professionele verhoudings van die lugwaardinne en vlieëniers, en elke episode is vol gekke situasies en onverwagse wendings.

Die reeks begin met opgewondenheid oor ’n nuwe loods, Brand, wat by die lugdiens aansluit en die nuuskierigheid rondom sy verhoudingstatus. Koekie, ’n lugwaardin wat lief is vir flirt, probeer Brand beïndruk, terwyl Hester, die meer ernstige en mededingende lugwaardin, sukkel met haar verhouding met Piston, Banana Air se gesoute vlieënier. Daar is hewige turbulensie in die lug wanneer Hester ontdek dat Piston dalk nie so toegewyd is as wat sy gedink het nie.

Rodney Reddy, die baas, sukkel om orde te handhaaf terwyl sy werknemers in verskeie skandale verstrengel raak, insluitend aanlyn dobbel, geheime liefdesverhoudings en hoogs onprofessionele gedrag op vlugte.

Sakkie, ’n vlieënier en Rodney se assistent, word ’n sentrale karakter in die komedie wanneer hy ná sy egskeiding in ’n reeks romantiese verwikkelinge beland.

Elke episode bied ’n nuwe uitdaging vir die bemanning – van passasiers wat te veel drink en ’n geskeide man se avonture tot die komplekse dinamiek van liefde en jaloesie tussen die personeel.

In die rolverdeling is Liane Heyl, Kaz McFadden, Lara Lourens, Marcus Muller, Jai’prakash Sewram, Matt Stern en Danielle Retief.

Banana Air begin op 30 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Wie word ’n miljoenêr?


Die gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr? keer in September terug vir ’n vierde seisoen. Rian van Heerden is weer die aanbieder van die Afrikaanse weergawe van die wêreld se grootste vasvraprogram en sal deelnemers se algemene kennis toets wanneer hulle in die vuurwarm stoel hul sitplek inneem.

Soos in die verlede, is die eerste vangnet vir die deelnemers ná die vyfde vraag op R10 000 gestel. Daarna kry hulle die geleentheid om self hul tweede vangnet in te span vanaf die sesde tot die 14de van die 15 vrae.

Deelnemers mag net drie van die vier beskikbare hulplyne gebruik waarvan elkeen net eenmalig ingespan kan word. Hulle kan die gehoor vra vir hulp of ’n 50/50 versoek waar twee van die vier moontlike antwoorde verwyder word. Dan kan hulle ook ’n pel bel of vir Rian vra om te help met die antwoord.

Gaan vanjaar die jaar wees wat iemand daardie miljoenrand-teiken haal? Tot dusver kon nog net twee deelnemers met R500 000 uit die ateljee stap.

Die vierde seisoen se deelnemers verteenwoordig ’n ongewone en breë spektrum van beroepe. Daar is, byvoorbeeld, ’n jong mediese student, ’n rugbyskeidsregter, ’n waaghals en selfs ’n kern-ingenieur wat gaan probeer om met hul algemene kennis die R1 miljoen huis toe te vat.

’n Spesiale gedenk-episode word uitgesaai om twee groot gebeurtenisse in Suid-Afrika te vier: 6 November 1999 toe die eerste Suid-Afrikaanse Who Wants to Be a Millionaire? uitgesaai is met Jeremy Maggs as aanbieder, en 15 November 1999 toe dié vasvraprogram ’n eerste buiging op kykNET gemaak het.  Vir hierdie spesiale geleentheid is ses van die beste Wie word ’n miljoenêr?-deelnemers van die vorige drie seisoene genooi om vir liefdadigheid te kom speel.

Wie word ’n miljoenêr? word vanaf Woensdag 4 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Boer soek ’n vrou


5 September

Ná ’n paar dae op die plaas, moet een van die drie pasmaats huis toe gaan. Gemoedere loop hoog wanneer sekere waarhede ontbloot word. Wie gaan die boer vra om te bly?

12 September

Daar is nou net twee pasmaats op die plaas oor. Die boere nooi ook vriende en familie oor vir ’n braai sodat hulle die vroue kan ontmoet en ook hul opinie kan vorm.

19 September

Dit is die laaste volle dag op die plaas. Die spanning laai op, want elke boer moet binnekort weer ’n keuse maak. Almal kry tyd om individueel met mekaar te gesels.

26 September

Dis tyd vir die boer om te besluit, maar is beide pasmaats nog gretig om die pad verder met die boer te loop? Vandag kies die boer die vrou wat moontlik die liefde van sy lewe kan wees.

Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Op pad met my potjie


’n Splinternuwe reeks waarin die aanbieder, Joalette de Villiers, deur Namibië reis met haar potjie en ’n kop vol resepte.

“My ouma het altyd gesê niks bring mense bymekaar soos kos nie,” sê Joalette. “In Namibië het ons verskillende kulture, verskillende kosse en geure, maar die een ding wat ons deel, is ’n ysterpot om dit in gaar te maak.”

In die reeks besoek sy, onder meer, Swakopmund, waar sy ’n hoenderpot saam met haar ma maak; Oshaandja in die noorde van Namibië, waar sy saam met Tangi kook; die Duineveld, waar Lonnie haar leer om brood te maak as die water min is; en Windhoek, waar Eduan beesstert voorberei.


Silwerskermfees op kykNET

Die jaarlikse Silwerskermfees het deur die jare vir uitstekende speelfilms, kortfilms en dokumentêre gesorg. Skaars ’n week ná die einde van vanjaar se fees, is van die kortfilms en dokumentêre op Saterdagaande van 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)  te sien.

7 September

Marie se laaste dag (kortfilm: komedie)

Noise & Neighbours (kortfilm: drama)

Die Skynwerper (kortfilm: riller)

Liewe Dudu (kortfilm: komedie)

 

14 September

Baas se honne (kortfilm: donker komedie)

Selah (kortfilm: riller)

Ons (kortfilm: riller)

Steek vir steek (kortfilm: komedie)

Die Groot Twis (kortfilm: poppespel)

 

21 September

Liminale (kortfilm: riller)

Deuntjie (kortfilm: komedie)

In die verloop van (kortfilm: drama)

Die boodskapper (kortfilm: klei-animasie)

O, Griet! Sy’s droog (kortfilm: magiese realisme)
 

28 September

Maak stil die geblaf (dokumentêr)

Tussen die draad en die dropper (dokumentêr)

Vergeet van my (dokumentêr)

By die soutwater (dokumentêr)

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Ella vind uit LJ is siek en is woedend omdat Joe en Uys nie oop kaarte gespeel het nie. Tracy word deur die bank geteister, en sy sukkel om haar ma in die hande te kry. Uys verklap per ongeluk sy grootste geheim, en Thalia neem ’n besluit oor haar matriekafskeid.

Die Binnelanders groet een van hul mees geliefde kollegas. Elise is bekommerd oor Uys se gemoed, en kapt. Olivier ontsenu vir Tracy. Louis probeer sy bes om Naomi na ’n romantiese eiland weg te voer, en Ella vermoed LJ en Thalia hou meer van mekaar as wat hulle voorgee. Lukas sit stukke van ’n bedroglegkaart bymekaar wat skokkende feite openbaar – tot Tracy se groot ontsteltenis.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


In September is Suidooster propvol drama, spanning en onverwagse kinkels. Verhoudings word op die proef gestel, geheime ontvou en nuwe bande word gesmee. Die maand begin met Mev. J se verrassende besluit om Ruiterbosch te verlaat, wat die gemeenskap nogal ruk. Elana en Justin sit lelik vas. Dit veroorsaak ’n vurige debat wat boonop op Radio Dassie uitgesaai word. Intussen misluk Susan se geheime plan om Elana te verras lelik, wat lei tot ’n ongemaklike oomblik wat regstreeks op lug uitspeel.

Wade se verhouding met Angie begin verbrokkel, en Zoe word meegesleur in ’n passievolle verhouding met Gary, tot groot irritasie van Bridgette. Imelda, ’n vasberade sakevrou, betree die toneel en nader JPD met ’n onmoontlike projek. Riaan is vasberade om die uitdaging aan te pak. Imelda verberg egter ’n donker geheim wat alles kan omverwerp. Justin se nuwe boot camp druk die mans van Ruiterbosch tot hul uiterste, terwyl Siya sukkel om sy soettand in toom te hou. En met die lente wat aanbreek, is daar ’n romantiese verrassing, want daar gaan trouklokkies lui.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Tshepo se groot wen by die Olimpiese Spele was rede tot feesvieringe, maar kort daarna het sy gedrag almal sowel woedend as baie bekommerd gelaat. Einde Augustus het hy hard teruggekom aarde toe, en in September probeer hy om reg te maak wat hy verbrou het – by die swemklub en met Nina. Gaan hulle hom vergewe?

Liefde is behoorlik in die lentelug. Gys en Zelda is weer ná al die jare bymekaar, en Karla en Tommie het die skoot hoog deur (maar nie met mekaar nie). Daar is ook ’n verhouding wat in die geheim ontstaan, maar dan deur ’n tragedie vernietig word.

kykNET&kie

Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Dié maand is daar ’n paar vreemde karakters wat hulle verskyning maak in Skemergrond. Ons ontmoet die Cloete-familie – Brandon, Sylvia en Shakiel – asook vir Beeno, ’n figuur uit die onderwêreld wat Gloria se lewe bitter moeilik kom maak. 

Brandon (Anton Jeftha) en Sylvia (Melissa de Vries) is getroud, en hulle maak Brandon se broerskind, Shakiel (Ashley Riddles), groot. Dié gesin daag sak en pak in Gemoedsdrif op. Dis duidelik dat hulle vir iets weghardloop, maar vir wat of wie kan dit wees? 

Beeno (Duncan Johnson) het grootgeword in die rowwe dele van die stad waar hy vanaf ’n jong ouderdom baie van die onderwêreld geleer het. Hy spits skielik sy aandag op Gloria (Hunter Plaatjies) toe. Sy stel glad nie belang nie, maar dit moedig net vir Beeno aan om haar nog meer te teister. 

By Everlasting het Jasmine ’n groot besluit om te maak rakende haar gesondheid. Sy stamp omtrent koppe met haar familie ná ’n ongeluk. Sal Jasmine na haar familie luister of gaan sy hulle ignoreer en haar eie kop volg? 

Koortjies met Elwira Standili

1 September


Die sangers en aanbieders Neville D en Rouchelle Liedemann kuier by ons en vertel hoe hulle op hulle onderskeie platforms Sy woord aan ander oordra. Daar is ook musiek van beide kunstenaars wat die dak gaan lig. 

8 September

Ons praat oor hoe om jou vrese te oorkom. Euodia Samson gesels oor haar stryd met disleksie, en die sangeres Jodi Jantjies vertel hoe sy haar selfvertroue gevind het.

15 September

In dié episode gesels ons met die mediapersoonlikheid Heindrich Wyngaard oor teleurstellings en wanneer deure toe gaan. Pastoor Jeremiah Willemse kuier saam en deel advies. Joshua Jansen sing weer die ateljee aan die brand. 

22 September

Ons gesels met die gesoute akteurs David Isaacs en Oscar Petersen van Joe Barber-faam oor die belangrikheid van gesonde vriendskappe. Dan wys Marcellino Swartz hoe ’n Grabouwer kan sing.  

29 September

Ons gaste dié week is die twee Suidooster-tienerakteurs Jadon Booysen en Caleb Arnolds. Pearl Adams bederf ons met haar musiek.


kykNET NOU!

Erfenisdag word in September op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) gevier met musiekvideo’s wat die Bosveld, Namakwaland, die Weskus, boeremusiek en al ons lieflike Suid-Afrikaners in die kollig plaas. Anton Goosen, Jack Parow, Karen Zoid, Neil Sandilands, die Ndlovo Youth Choir, Elandré, Refentse, Die Heuwels Fantasties en die Klipwerf Orkes is van die kunstenaars wat te sien en te hoor is.

Die musiekblokke op Dinsdag 24 September is as volg:

08:00 – 08:30

11:00 – 11:30

13:00 – 13:30

15:00 – 15:30

18:00 – 18:30

21:30 – 22:00