kyknet channel logo

MultiChoice-groep se kragtige plaaslike inhoud oes die meeste Safta-benoemings in

Nuus
05 September 2024
Die MultiChoice-groep se uitmuntende plaaslike inhoud het oor verskeie kanale en platforms heen erkenning gekry deur 176 benoemings vir die South African Film and Television Awards (Saftas). Die groot aantal benoemings getuig van die groep se volgehoue finansiële, opvoedkundige en praktiese belegging in die vertel van ons eie Afrika-verhale.
SAFTAs

Met ’n totaal van 118 benoemings – 36 vir Showmax Originals en 82 vir gelisensieerde inhoud – het die stroomdiens Showmax die meeste van hierdie 176 kopknikke ontvang, gevolg deur 59 vir kykNET-programme, altesaam 54 vir Mzansi Magic, 1Magic en Mzansi Wethu, 12 vir M-Net-programme, nege vir derdeparty-inhoud en vier vir SuperSport. Die enigste kategorie uit 90 waarin geen MultiChoice-verwante program benoem is nie, is vir Beste aanlyn inhoud.

Die individuele programme met die meeste benoemings is Shaka Ilembe met 17, gevolg deur The River en Outlaws, wat met 11 elk die mees benoemde telenovelas is, en nege vir Binnelanders, die mees benoemde sepie. Thembinkosi Mthembu is benoem vir vier individuele toekennings – drie vir Beste akteur en een vir Beste manlike byspeler. In eersgenoemde kategorie is hy benoem as Beste akteur in ’n drama vir sy rolle in Adulting en Shaka Ilembe. Hy is ook as Beste akteur in ’n telenovela benoem vir Outlaws. Sy Beste manlike byspeler-benoeming is vir sy rol in The River.

Die dokumentêrvervaardigers IdeaCandy het 11 benoemings gekry vir hul werk aan die dokkies Convict Conman, Rosemary’s Hitlist, ’n Gids vir Louzanne, Call of the Wild, Langafsstand, Habits of Gen Z en Sex and Pleasure, met ’n 12de vir Beste kortfilm vir Thrift tot die dood. Sowel laasgenoemde as ’n Gids vir Louzanne, Call of the Wild en Langafstand is vir die kykNET Silwerskermfees vervaardig.

Die kykNET-komediereeks Taktiek het ses benoemings behaal. Rolprente wat deur die kanaal vervaardig is, het al drie benoemings in die kategorie vir Beste TV-rolprent ontvang. Die kykNET-sepie Binnelanders het nege benoemings gekry – waarvan vyf vir die rolverdeling is.

SuperSport het vier benoemings ontvang – drie vir Rise: The Siya Kolisi Story (Beste dokumentêre rolprent, Beste klank in ’n dokumentêr, Beste redigering in ’n dokumentêr) en een vir die dokkie Born Racer, wat ook vir Beste redigering benoem is.



“Ons het die hele afgelope week by MIP Africa gesê niemand belê soveel in die vervaardiging van plaaslike inhoud oor ons kontinent as ons nie – en die aantal benoemings wat ons programme, reekse, dokumentêre en rolprente ontvang het, is bewys hiervan,” sê Nomsa Philiso, die MultiChoice-groep se HUB vir algemene vermaak. “Baie geluk aan al die benoemdes, in alle kategorieë, met hierdie erkenning vir hul werk. Om te sien hoe ons Suid-Afrikaanse toptalent ons vlag vir die storievertelkuns laat wapper maak ons geweldig trots. Dit wys watter ongelooflike gehalte ons bedryf en sy mense produseer.”

Vir die volledige lys van benoemings, klik hier.

Kykers kan vanaf 9 September 2024 stem vir kategorieë waarin wenners deur die stemme van die publiek bepaal word. Vind meer uit oor die MultiChoice-groep se plaaslike inhoud by www.multichoice.com of op Facebook, Instagram, X en TikTok.
 

Volg die South African Film & Television Awards op sosiale media: Twitter: @saftas1, Facebook & Instagram: @saftassa, TikTok: @saftas_sa