kyknet channel logo

Lewensbydrae-toekennings vir drie legendes by Silwerskermfees

Nuus
14 Augustus 2024
Twee het naam gemaak voor die kamera; die ander een agter die skerms en kamera, en vanjaar word al drie hierdie film- en TV-legendes by die Silwerskermfees vir hulle lewensbydraes vereer.
Twee het naam gemaak voor die kamera; die ander een agter die skerms en kamera, en vanjaar word al drie hierdie film- en TV-legendes by die Silwerskermfees vir hulle lewensbydraes vereer.

Hans Strydom, wat sedert 2005 te sien is as At Koster in Binnelanders, en Denise Newman, Suidooster se Bridgette Jacobs sedert 2015, word Saterdagaand 31 Augustus tydens die Silwerskermtoekennings vereer. Die regisseur en vervaardiger Roberta Durrant, die brein agter reekse soos Diepe waters, Arendsvlei en Projek Dina, word Saterdagoggend 31 Augustus tydens die tegniese toekenningsgeleentheid gehuldig. 

Hans Strydom is op 14 Mei 1947 in Durban gebore. Op skool was hy graag op die verhoog, maar ná matriek en ’n jaar in die vloot het hy regte gaan studeer. Hy was eers ’n staatsaanklaer en later ’n landdros, maar in sy vrye tyd was hy lid van Volksteater, ’n amateur-dramageselskap. Die filmvervaardiger Elmo de Witt het hom in 1973 raakgesien en die hoofrol in die speelfilm Môre-môre gegee. Die draaiboek was deur Jan Scholtz, en Hans sou daarna in verskeie van Elmo en Jan se flieks speel, onder meer in Ter wille van Christine en Vergeet my nie. Dit was die begin van sy baie suksesvolle loopbaan, wat TV-reekse soos Slampampersirkus, Die Mannheim-sage en Jasper le Feuvre ingesluit het. Sy regsagtergrond het egter nie verlore gegaan nie. Hy is ’n kampvegter vir akteurs en hulle regte en ’n stigterslid van die South African Guild of Actors. 

“Die toekenning kom uit die bloute,” sê Hans. “Dit is ’n groot eer. Dankie aan kykNET en al die aanhangers wat my deur die jare ondersteun het. Sonder hulle sou so ’n toekenning nie moontlik gewees het nie.” 

Hans se commendatio by die toekennings word deur die filmmaker Koos Roets gelewer. 

Denise Newman se wortels lê in Athlone, ’n voorstad van Kaapstad. Ná skool is sy na Amerika met ’n uitruilskema waar sy, onder meer, ’n dramakursus gedoen het. Terug in Suid-Afrika het sy maatskaplike werk studeer en later by die behuisingskantoor van die Kaapstad Munisipaliteit gewerk. Die teater se roepstem was egter altyd daar, en sy het die The Space-teater ontdek waar sy later die verhoogbestuurder geword het. 

Haar eerste professionele rol op die verhoog was in die vroeë 1980’s – Peepshow by die Baxer-teater, met Dawie Malan as regisseur. Hoewel Suid-Afrika reeds in 1976 met TV-uitsendings begin het, was rolle vir bruin aktrises bitter skaars. Denise speel egter in ’n paar rolprente en raak betrokke by Theatre in Education. 

In die 1990’s kom meer geleenthede. Met die dramareekse Onder engele (1995) en Tussen duiwels (1996) word Denise, wat die rol van Bokkietjie September in beide gespeel het, deur die land raakgesien. Ook in rolprente en op die verhoog skitter sy – van Oliver Hermanus se bekroonde Shirley Adams (2009) en Endless River (2015) tot werk van Shakespeare, Athol Fugard en Pieter-Dirk Uys. 

Met haar ikoniese rol as Bridgette in Suidooster, word sy ’n geliefde gesig op die kassie in voorkamers dwarsoor die land. 

In die bedryf is Denise ’n mentor en iemand na wie opgekyk word deur almal wat al die voorreg gehad het om saam met haar te werk. 

“Ek was regtig verbaas toe ek gehoor het ek word vereer,” sê Denise, wat vroeër vanjaar haar 70ste verjaardag gevier het. “Ek het dit glad nie verwag nie. Wat ’n eer. Baie dankie!” 

Denise se commendatio by die toekennings word deur haar jarelange vriend en kollega Vinette Ebrahim gedoen. 

Roberta Durrant het drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en het die eerste tien jaar van haar loopbaan op die verhoog en in plaaslike TV- en filmproduksies gewerk. Sy het Londen toe getrek ná sy haar man, die kinematograaf Uwe Jansch, ontmoet het, maar hulle het teruggekom na Suid-Afrika en het saam Penguin Films begin, wat hoofsaaklik dokumentêre programme gemaak het. 

Sgudi ‘Snaysi [It’s Good, It’s Nice] en later die immergewilde Going Up, met Rex Garner en Joe Mafela, was die eerste reekse waarvan sy sowel die vervaardiger as regisseur was. Onder die ander komediereekse waarvoor sy verantwoordelik was, tel Fishy Fêshuns, Madam & Eve en Stokvel. Sy het ook die dramareekse Home Affairs en Saints and Sinners agter haar naam. 

Van haar reekse vir kykNET en kykNET&kie sluit in Arendsvlei, Diepe waters, Sara se geheim, GIL en die nuwe telenovela Skemergrond. Onder die rolprente op haar kerfstok is Krotoa en Felix
Roberta, wie se commendatio deur Jody Abrahams gelewer word, is nie net ’n vervaardiger en kreatiewe regisseur nie – sy is ’n baanbreker, en op haar belangrike nalatenskap sal daar in die dekades wat kom, voortgebou word. 

  • Die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV vind op 31 Augustus 2024 in die CTICC in Kaapstad plaas. Dié glansgeleentheid sal op 1 September om 20:00 op kykNET uitgesaai word. Kaartjies vir die toekenningseremonie in Kaapstad is ook aan die publiek by Quicket beskikbaar.