Logo
web uni tv guide

Oppi Noot

144MusiekPG

Hoogtepunte: Junie 2024

Nuus
31 Mei 2024
Hier is 'n voorsmakie van wat jy in Junie-maand kan verwag.
South African actors

In Junie jaag kykNET die winterkoue weg met ’n splinternuwe drama en vars musiekspeletjiesprogram. Dis nou bo en behalwe al die ander hoogtepunte wat die kanaal vir kykers gaan opdis – van aktualiteit en leefstyl tot realiteit en speelfilms.

Een keer om die son

Binnekort op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

Die aarde het ’n jaar nodig om een keer om die son te beweeg. In daardie twaalf maande van die jaar is daar vier seisoene en in daardie vier seisoene kan heelwat gebeur.

In kykNET se nuwe dramareeks, Een keer om die son, speel die lief en leed van een familie oor die loop van ’n kalenderjaar af. Elk van die twaalf episodes beeld ’n maand in hulle lewe uit, en daar is terugflitse om te wys hoe hulle gekom het waar hulle is.

Een keer om die son is Ivan Botha en Donnalee Roberts, wat verantwoordelik was vir trefferflieks soos Pad na jou hartStroomop en Blindelings, se eerste TV-reeks wat hulle onder die vaandel van 17 Films vervaardig het. Ivan is die regisseur van Een keer om die son, wat in en om Kaapstad verfilm is. Hy en Donnalee het die draaiboek saam met Liani Jansen van Rensburg, Retief Scholtz en Tina Kruger geskryf. Donnalee is ook in die reeks te sien as Amé Cloete.

Een keer om die son vertel die verhaal van ’n gesin wat op die oog af gelukkig lyk. Ruan van Wyk is ’n neurochirurg en is getroud met Lani van Wyk. Hulle is ouers van drie kinders: Markus wat in matriek is, die 15-jarige Leandri, en Sophia wat in graad 1 is.

Amé Cloete is Ruan se suster en ’n suksesvolle finansiële bestuurder. Sy is getroud met Joshua Cloete, die eienaar van ’n kunsgalery. Ruan en Amé se ouers is Sebastian, ’n professor in insekkunde, en Elma wat haarself besig hou deur vir ander mense te bak.

Oppi noot 

Dinsdae van 5 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

Oppi noot  is ’n prettige speletjiesprogram waarin sangers teen mekaar meeding in ’n reeks uiteenlopende en vermaaklike musiekuitdagings. Die vervaardigers is Stemmburg Televisie, wat vir gewilde programme soos Noot vir noot en Musiekroulette verantwoordelik was, en het vir Johan Stemmet en sy seun Carl aan stuur van sake. Die sangers word deur ’n orkes, onder leiding van Jaconell Mouton, begelei. Onder die deelnemers is almal van professionele sangers tot studente, ’n projekbestuurder en ’n eiendomsagent. Hulle het egter een ding gemeen: Hulle wil wys hulle kan sing.

Oppi noot  is nie ’n realiteits-TV-sangkompetisie nie. Die sangers sal punte verdien vir hulle prestasie in die verskillende speletjies. Hoe meer liedjies ’n deelnemer kan sing, hoe beter. Drie sangers sal aan elke episode deelneem, en daar is in elke program kontant om te wen. Hoe verder jy na die eindronde vorder, hoe meer geld is op die spel.

“Wat kan kykers verwag? Pret, plesier, baie gelag, lekker saamsing en iets totaal anders,” sê Emo Adams, gewilde aanbieder van programme soos Noot vir noot en Maak my famous en nou ook van Oppi noot. “Ek het dit baie geniet dat Oppi noot voor ’n gehoor opgeneem is omdat dit gevoel het soos ’n lewendige optrede. Daar is nie podiums nie, en dis nie ’n suit en tie show nie. Dit was regtig ’n jol. Jy weet jy werk aan iets baie spesiaals wanneer selfs die kameramanne saam lag en dans. Daar was goeie kameraderie tussen die deelnemers, wat ongewoon is, want hulle is veronderstel om teen mekaar deel te neem, maar as jy weer sien harmoniseer hulle saam, en dit was lieflik om te sien.”

5 Junie 

Melissa, Lana en JP is die eerste sangers wat in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings teen mekaar aantree. Die gaskunstenaar is Liezel Pieters.

12 Junie 

Granville, Lihandi en Ilana sing uit volle bors teen mekaar in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings. Die gaskunstenaar is Jarrad Ricketts.

19 Junie 

Ruan, Izél en Charlene sing uit volle bors teen mekaar in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings. Die gaskunstenaar is Cheswyn Ruiters.

26 Junie 

JP, Lihandi en Charlene is die eerste semi-finaliste wat in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings teen mekaar uitsing. Die gaskunstenaar is Marcel Dalmayda.

Onthul 

Sondag 23 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

Is die nuwe Nasionale Gesondheidsverserkering-wetsontwerp die verwesenliking van ’n langverwagte droom vir gelyke mediese sorg vir almal, of ’n nagmerrie wat die Suid-Afrikaanse gesondheidswese onherroeplik sal verander en in chaos gaan dompel?

Juffrou X 

Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

4 Junie 

Laurecia se getuienis laat Inge en Viola tot ontstellende gevolgtrekkings kom. Die klas sit alles in vir die eindeksamen, maar een desperate daad kelder almal se drome.

11 Junie 

Inge beding ’n laaste kans vir haar klas om die eksamen oor te skryf. Intussen beraam die PTA ’n plan om die Matchbox Boys ’n nekslag toe te dien.

18 Junie 

Ná ’n moordende hereksamen verloor Archie, Shanice en die res van die klas hoop. Fransie bevind homself by ’n kruispad, en dis als of niks vir Inge en die PTA.

Plaasjapie

Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

Die stof het skaars ná die spanskuif gaan lê toe ’n uitdaging die nuwe Groenkloof en Oranjezicht laat les opsê. Sal ’n slim konkelplan die gewenste uitslag by die koöperasie-kuier hê?

Vreemder as fiksie 

Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

3 Junie 

Ilse was vir 40 jaar met ’n man getroud wat haar op gruwelike maniere mishandel het. Toe sy wegstap, het sy binne sewe dae die liefde van haar lewe en selfgenesing gevind.

10 Junie 

Merwede en Merelde was oorstelp toe hulle gelyk deur middel van IVF-behandeling swanger word. Maar terwyl een sus ’n gesonde drieling gekry het, is die ander suster se vierling kort ná geboorte dood.

17 Junie 
Terwyl Belinda geweldige depressie en skarlakenkoors gehad het, het sy vier engele langs haar bed gesien en deur haar trauma besef sy het die gawe om met diere en engele te kommunikeer.

24 Junie 
Jéan was vir 22 jaar aan dwelms verslaaf en het vir 20 jaar op straat gewoon. Ná haar broer se dood het sy ’n nuwe blaadjie omgeslaan, haar lewe reggeruk en liefde gevind.

Bewonder en bewaar met Bonné de Bod
Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up

2 Junie

Bonné vind by die navorser Leanne Venter uit oor die luiperds wat in die Magaliesberge, net ’n uur se ry buite Pretoria, woon en deel die suksesverhaal van ’n probleemluiperd wat hervestig word.

9 Junie

Bonné duik in die koue Kaapse waters om die Groot Afrika-seewoud te verken saam met dr. Jannes Landschoff, die hoofwetenskaplike van die span wat die Oscar-bekroonde dokumentêr My Octopus Teacher gemaak het.

16 Junie

Bonné voer babavoëltjies saam met dr. Lucy Kemp van BirdLife Suid-Afrika, wat daarop fokus om kuikens van die charismatiese bromvoël groot te maak en vry te laat.

FliekNET

Saterdagaand is fliekaand op kykNET (DStv-kanaal 144). In Junie word drie geliefde flieks uit die argiewe gewys en ook een splinternuwe TV-speelfilm, ’n Weldeurdagte wagwoord vir Wikus van Wyk.

’n Weldeurdagte wagwoord vir Wikus van Wyk

15 Junie om 20:00

Die tegnofobiese Wikus word die slagoffer van ’n hartroerende slenter wanneer hy ’n Google-wagwoord moet skep om sy oorsese kleinkind via video call te kan ontmoet. Die skrywer en regisseur is Marista van Eeden, en die rolverdeling sluit in Gerben Kamper as Wikus, Dihan Keun as Luan, Claudia Jones as Melany, Mia-Anne O’Kennedy as Sonja, Elma Potgieter as Ronél en Susan Coetzer as Riekie.

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Ciska besef daar is groter fout met Sam as wat almal besef, en sy probeer hom forseer om die waarheid oor sy situasie te praat. Groot opwinding heers wanneer ’n sekere geliefde Binnelanders-paartjie (weer) ewige trou aan mekaar beloof. Karen se worsteling met haar aanranding in Mimi’s dryf haar tot ekstreme gedrag, en Uys raak bekommerd. Bronwyn is terug, maar ’n diagnose bevestig alles is nie pluis nie.

Nicolette kom (uiteindelik) tot ’n verrassende insig oor haarself, en Tertius stel ’n nuwe dokter by Ongevalle aan – maar die Binnelanders is nie noodwendig opgewonde oor dié aanstelling nie. Twee dokters is verward oor hulle gevoelens vir mekaar, veral ná ’n onverwagse soen albei onkant betrap het. Ciska het haar oog op Uys, en Louis is baie bekommerd wanneer Naomi besluit sy wil begin oefen.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Ty se verdwyning eis steeds sy tol op Lee-Ann, Wade en Carlo, met nuwe uitdagings wat hulle in die gesig staar. Dit lyk of dié eens hegte gesin se fondasies besig is om ineen te stort, veral ná ’n nuwe skok hulle tref. Boonop begin Carlo rebelleer en betrap Wade hom waar hy drank steel, maar teen Wade se beterwete steek hy dié nuus vir Lee-Ann weg. Wanneer Lee-Ann agter die kap van die byl kom, is die gort gaar en lei dit tot ernstige konflik tussen haar en Wade. Donker wolke pak oor die Samsodiens saam as gevolg van Kaashifa wat haar reuk- en smaaksintuie verloor het. Sy begin oorhaastige besluite oor haar toekoms neem, sonder om Rhafiek daarin te ken, wat tot erge spanning in hul huwelik lei. Tog lyk dit of daar ‘n wintersonnetjie oor Riaan en Bianca se verhouding skyn, en die jong verliefdes is tog te poenankies. Riaan probeer sy bes om ook ’n verhouding met Stella op te bou, maar dit is makliker gesê as gedaan. Vriendskappe word getoets wanneer Elana ’n nuwe gawe ontdek, maar dan raak sy iets kwyt wat veroorsaak dat Gary en Angie vassit. Ruiterbosch se inwoners maak ook kennis met Texas Kannemeyer, wat dadelik ’n opskudding veroorsaak wanneer hy ’n nuwe onderneming in die Suidooster-sentrum op die been wil bring. Gaan sy vuil wasgoed betyds uitgehang word?

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Die drama wat in Mei rondom die De Wet-gesin afgespeel het, bereik vroeg in Junie ’n klimaks, met dreigende gevaar wat niemand sou kon voorspel het nie. En die grootste verrassing is uiteindelik wie agter alles sit.

Met die vertrek van een karakter maak ’n ander een ’n welkome terugkeer, met liefdesvlamme wat opnuut hoog brand. Dan maak iemand ’n verskyning wat Charity se morele kompas toets. ’n Deur na groter geleenthede mag dalk vir haar oopgaan, maar wat sal sy moet prysgee as sy dalk die verkeerde besluit maak?

kykNET&kie

Skemergrond: Maak reg vir kykNET&kie se tweede Afrikaanse telenovelle 

Arendsvlei het vir baanbrekerswerk gesorg toe dit op 1 Oktober 2018 vir die eerste keer uitgesaai is. Nie net was dit kykNET&kie se eerste Afrikaanse telenovelle nie, dit het kykers bekendgestel aan ’n rits nuwe jong akteurs en was ’n reuse-inspuiting in die vermaakbedryf in Kaapstad.

Maar alle goeie dinge kom tot ’n einde, en in Junie vanjaar word die laaste van die 160 episodes in dié reeks uitgesaai. Die afskeid van die Vlei en sy mense maak egter plek vir ’n splinternuwe telenovelle, Skemergrond.

Skemergrond speel af in Gemoedsdrif, ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, en draai om die Louw-familie en hulle prag-blomplaas. Die Louws se rustige bestaan word egter omvergegooi wanneer daar onverwags gaste opdaag en langverlore familielede dreig om diep bewaarde familiegeheime te ontbloot. Ou wonde word oopgekrap en nuwe bande word gesmee in ’n poging om die Louws en hulle nalatenskap te red en te beskerm.

Die Louws is Jasmine en JP, hulle dogters, Hazel en Lily, en kleinkinders Amber en Louis. Die buurplaas behoort aan Jasmine se beste vriendin, Tillie Maritz, en haar man, Willem.

Die Louws het ook ’n koffie- en blomwinkel in Gemoedsdrif, en die hotel behoort aan Manny. Erica, ’n enkelma wat haar nie laat voorsê nie, werk by beide die koffiewinkel en hotel. Sy het ’n seun, Louis. Nuwe intrekkers, Brandon en Sylvia Cloete, het ’n dansateljee waar die tieners van die omgewing leer dans.

Ander karakters is die voorman, Abel Pienaar, en sy sieklike vrou, Ragel, asook Kevin wat in die onderdorp woon en blomme vir die Louws in Kaapstad aflewer. Christine van As, eienaar van ’n suksesvolle geleentheidsmaatskappy, sorg vir genoeg drama wanneer dit aan die lig kom dat sy moontlik familie van die Louws is. Sy wil wraak neem en sal alles in haar vermoë doen om die Louws te verwoes.

En asof dit nie genoeg drama is nie, is daar gulsige ontwikkelaars wat hulle hande op Gemoedsdrif wil kry. Gaan die Louws en hulle vriende kan red wat hulle so na aan die hart lê?

“Ons by Penguin Films is verheug oor hierdie fantastiese geleentheid,” sê Roberta Durrant, die besturende direkteur van Penguin Films, wat Skemergrond vervaardig. “Die vars en opwindende rolverdeling gaan ’n epiese familiesage na die kassie bring. Skemergrond speel af tussen die Wes-Kaapse platteland en die blommemarkte van Kaapstad en is gevul met geheime, leuens, romanse en wraak. Kykers gaan aangegryp word deur die emosionele kinkels namate die storie ontvou.”

Skemergrond begin op 1 Julie 2024 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) om 20:00.

Elwira is die nuwe aanbieder van Koortjies 

Die bekende Pinkstersangeres en Idols-deelnemer Elwira Standili is die nuwe aanbieder van Koortjies. Sy vervang vir Jonathan Rubain, wat in April aangekondig het dat hy dié kykNET&kie-gospelprogram, wat hy sedert 2020 aangebied het, groet.

Elwira is ’n boorling van Worcester, en sy het ook al as ’n gaskunstenaar op Koortjies opgetree.

Sy sê sy was nog altyd ’n groot Koortjies-aanhanger en het dit gereeld Sondae saam met haar familie gekyk.

“Dit is ’n understatement dat ek opgewonde is oor hierdie ongelooflike geleentheid wat oor my pad gekom het,” sê sy.

“Ek is soos letterlik uit my vel uit excited vir die nuwe journey en is so dankbaar vir die geleentheid, dankbaar vir die Here en dankbaar vir die mense wat my gekies het.

“Ek weet die journey gaan vir my baie challenge, maar ek staan nie terug vir ’n challenge nie.”

Volgens Elwira kan sy met sekerheid sê dat sy reg is om die leisels by Jonathan oor te neem.

“Ek dink die blueprint van Koortjies is klaar daar: Ons deel reeds inspirerende stories, en mense kom lewer getuienis.”

Maar sy vertel ook dat sy gereed is om iets nuuts na die program te bring.

“Mense het al vir my gevra wat bedoel ek met ‘iets nuuts’ en dan is my antwoord ‘myself’, want my persoonlikheid sal ’n ander dimensie aan Koortjies gee.

“Die feit dat ek ’n vroulike aanbieder is, is immers reeds ’n verandering,” sê Elwira.

Elwira beskryf Koortjies as ’n “baanbrekerprogram”, want toe die reeks in 2020 aan die begin van die Covid-19-pandemie afgeskop het, was dit in ’n tyd wat talle mense “hopeloos” gevoel het.

“Mense kon nie kerk toe gaan nie, maar met kykNET & kie se Koortjies kon ons steeds die kerk ervaar – veral soos wat ons bruinmense kerk leer ken het en hoe ons kerk geleef het.

“Dit het ook die Pinkster-community bymekaar gebring en ons het eerlikwaar gesien hoe groot dit eintlik in Suid-Afrika en Namibië is.”

Sy sê Koortjies slaag daarin om ’n verskil in mense se lewens te maak met getuienisse van bekendes en Jan Alleman. 

Koortjies vertel soveel inspirerende en lewensveranderende stories.”

’n Ander belangrike bestanddeel van die Koortjies-wenresep is volgens Elwira die musiek op die program.

“Ek onthou toe ek die eerste keer ‘Sy hand’, my eerste gospel-enkelsnit, op Koortjies gesing het, het dit ge-trend – nie oor dit ‘kwaai’ was nie, maar omdat mense regtigwaar in daai tyd nodig gehad het dit om te hoor. 

“Dié liedjie het berusting gegee dat Sy hand ons red. Sy hand verlos ons, Sy hand bevry ons.” 

  • Koortjies met Eliwira Standili begin op Sondag 14 Julie op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). 

Arendsvlei 

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) 

Dis die laaste maand van lief en leed, maar dit beteken nie dat dinge rustig raak in die Vlei nie. Lee-Roy en sy nuwe rol as pa, Sasha en Emile se skielike vuurwarm verhouding, Langes se terugkeer en onverwagte gaste wat hul opwagting maak, is storielyne wat elke getroue kyker sal laat regop sit. 

Voor Lee-Roy sy gelukkige einde kan kry, is daar eers ’n paar dinge wat uitgestryk moet word. Devon is bitter ongelukkig wanneer Lee-Roy hul verhouding beëindig, en terwyl Lionel inspring om sy seun by te staan, moet Anna se gevoelens ook in ag geneem word. 

Sasha en Emile se verhouding is iets wat ons nie sien kom het nie. Dié tweetjies sien mekaar ná al die jare met ander oë, maar dis nie so maklik nie. Die verhouding is aan die begin ’n opdraande pad, maar die passie is ook so aansteeklik hulle kan nie wegbly van mekaar nie. 

Met die intrapslag besluit Langes sommer self om teen die Galants op te staan. Hy probeer alle bewysstukke bymekaarskraap om die Galants finaal agter tralies te sit, maar Rachel en Bompie is besig met hulle eie bose planne, en Desmond het nie ’n idee wat aangaan nie. Langes is nie al een wat skielik opdaag nie – twee ander inwoners maak ook weer hul verskyning.

kykNET NOU! 

KOM VIER VADERSDAG SAAM MET kykNET NOU! 

Kom geniet hierdie Vadersdag van jou gunstelingmusiekvideo’s wat dankie sê vir alles wat Pa vir ons doen.

Ons vier die manne wat altyd daar is om ons te ondersteun en al die monsters onder die beddens wegjaag. Dankie, Pa!

Die uitsendingstye van die VADERSDAG-musiekblokke op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146), is as volg:

Sondag 16 Junie: 

10:00 – 10:30 
13:30 – 14:30 
21:30 – 22:00