Logo
web uni tv guide

Een Keer Om Die Son

144Drama13 VL

kykNET in samewerking met Ivan en Donnalee stel bekend – Een keer om die son

Nuus
16 Mei 2024
Die aarde het ’n jaar nodig om een keer om die son te beweeg. In daardie twaalf maande kan geweldig baie, bitter én soet, gebeur.
Een keer om die son

Die nuwe kykNET-dramareeks, Een keer om die son, volg die lief en leed van een familie oor die loop van ’n kalenderjaar. Elk van die twaalf episodes beeld ’n maand in hulle lewe uit. Daar is ook terugflitse om te wys hoe hulle beland het waar hulle is.

Een keer om die son is Ivan Botha en Donnalee Roberts, bekend vir trefferflieks soos Pad na jou hart, Stroomop en Blindelings, se eerste TV-reeks wat hulle onder die vaandel van 17 Films vervaardig het. Ivan is die regisseur van Een keer om die son, en hy en Donnalee is medeskrywers van die reeks saam met Liani Jansen van Rensburg, Retief Scholtz en Tina Kruger. Donnalee is ook as Amé Cloete te sien in die reeks, wat in en om Kaapstad verfilm is.



Een keer om die son vertel die verhaal van ’n gesin wat op die oog af gelukkig lyk. Ruan van Wyk is ’n neurochirurg en is getroud met Lani van Wyk. Hulle is die ouers van drie kinders: Markus, wat in matriek is, die 15-jarige Leandri en Sophia in graad 1.

Amé Cloete (Donnalee Roberts) is Ruan se suster en ’n suksesvolle finansiële bestuurder. Sy is getroud met Joshua Cloete, die eienaar van ’n kunsgalery. Ruan en Amé se ouers is Sebastian, ’n professor in insekkunde, en Elma, wat haarself besig hou deur vir ander mense te bak.

Die volledige, opwindende rolverdeling vol bekende akteurs word volgende week saam met die amptelike uitsaaidatum bekendgemaak.



Hou kykNET se webblad en sosialemediabladsye in die volgende paar weke dop vir meer inligting oor Een keer om die son.