Logo
kykNET_Bewonder_&_Bewaar_S2_Slim_BB
web uni tv guide

Bewonder & Bewaar Met Bonné De Bod

144NatuurPG13

Bonné deel haar mees spesiale oomblikke – Bewonder & bewaar met Bonné de Bod

Nuus
25 Mei 2024
Bonné de Bod gesels oor naelbyt oomblikke tydens verfilming en ook wat agter-die-skerms gebeur.
Bonne de Bod

Elke Sondag sien kykers hoe die span van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod na verskillende lande reis om saam met navorsers, veeartse en wetenskaplikes te gesels oor hulle werk  met wilde diere. 

Die aanbieder, Bonné de Bod, het onlangs met die kykNET Digitale span gesels om meer uit te vind oor haar lewe tydens verfilming, insluitend noue ontkominge.

Kan jy vir ons meer vertel oor aangrypende oomblikke wanneer die kamera nie gerol het nie, tydens jou reise? 

Sjoe, dit is 'n moeilike een, want al die “aangrypende oomblikke”, verfilm ons. Ek kan nie dink aan enige tyd waar iets gebeur het en óf myself óf Susan (regisseur van Bewonder & Bewaar) sal sê “ons moet dit nie verfilm nie”. Hierdie is reeds die oomblikke waarna ons soek. Maar bygesê, daar is ’n oomblik wat ek kan onthou en wat vir ons albei uitstaan.

Ons het in Patagonië verfilm en ek moes aan die voet van ‘n gletser my lyne na die kamera doen, ons noem dit ook ’n “link”. Hierdie toneel is vir ons tweede ‘Kingdoms' film wat later in die jaar op televisie skerms sal wees. Maar om by daardie spesifieke punt te kon kom, moes ons ‘n redelike staptog aandurf! Ons het dus baie vroeg in die oggend in die pad geval, deur pragtige woude gestap en toe op teen hierdie vertikale rotswand. Dit het ons die hele oggend en middag geneem, maar ons het uiteindelik by die gletser uitgekom en ek kon my “link” na kamera doen. Toe moes ons natuurlik al die pad terug [stap]! Teen 21:00 was ons steeds op pad na ons kampterrein.

Ons het daardie dag amper 30 km afgelê, met feitlik die helfte van die terrein vertikaal. Dit was baie uitdagend, maar toe ons by woud gedeelte kom, het die volmaan kop uitgesteek en ons kon die maanlig gebruik en ons kop liggies afskakel. Ons het asem geskep en water gedrink, en ewe skielik, en ek dink omdat dit so stil was, was daar 'n uil wat reg bo ons in 'n boom begin roep het. En ’n uil aan die anderkant van die vallei wat begin terugroep het. Ons het net daar op 'n omgevalle boomstomp in hierdie Patagoniese woud aan die onder punt van Suid-Amerika gesit, en geluister na hierdie twee uile wat heen en weer roep onder die volmaan.

Dit was ongelooflik spesiaal en soms keer ek terug soontoe… as ek my oë toemaak, word ek weer weggevoer na daardie oomblik.

1
5
4
3
2
Gallery
1

Vertel ons van gevaarlike situasies waarin jy jouself bevind het.

Om eerlik te wees, ek dink nie enigiets kan ooit gevaarliker wees as die verfilming waarin ek myself bevind het met die dokumentêre film 'STROOP - journey into the rhino horn war' nie.

Ons was saam met die doeane en die polisie om klopjagte te verfilm, maar ons het vroeg besef dat ons nie net kan fokus op waar renosters is nie, ons moes ook Asië toe om die "produk" op kamera vas te vang ... want dit is presies wat dit daar is, ’n produk. 

Viëtnam is in die 175ste plek uit 180 lande wat beperking van vryheid van inligting betref, en is een van die grootste tronke vir joernaliste. So ons verfilming moes alles onder die dekmantel plaasvind, “undercover”.

’n Angswekkende oomblik was toe ons in een van daardie donker, ondergrondse agterkamers saam met onwettige wildlewe-smokkelaars om ’n tafel gesit het. Die tafel was besaai met natuurlike produkte: Ivoor armbande, buffelhoring armbande en natuurlik renosterhoring armbande.

Op 'n stadium draai een van die lede van die sindikaat na ons en vra of ons na die fabriek wil gaan om te sien hoe hulle die juwele uit die rou horing maak. En daar was ons, in hulle voertuig, nie wetende of hulle die waarheid praat nie, en of ons in werklikheid na 'n fabriek gaan nie, en dan was daar oral versteekte kameras op ons, knopie-kameras, sleutel-kameras en Susan het selfs 'n GoPro aan my vasgeplak, wat ek nie sou kon wegsteek as hulle sou besluit om ons te deursoek nie.

Alles het toe goed uitgewerk, maar as hulle ons deursoek het, sou hulle ons heel moontlik in stukkies opgekap het, en in die Mekong-rivier ingegooi het! So ek voel altyd daar kan nooit iets gevaarliker as dit wees nie, en ek dink dit kan problematies wees veral tydens die verfilming van ‘Bewonder & Bewaar’!

Daar is baie kere wat ek sê "wel, daar is geen berg wat te moeilik is om te klim nie", of "dit is nie te groot vir ons om oor te spring nie". As 'n navorser vir ons sê dat 'n sekere scenario gevaarlik kan wees, vind ek myself so opgewonde om die storie te vertel, dat ek nie eers twee keer dink om dit met albei hande aan te gryp nie. En Susan moet soms sê, “wag ’n bietjie, daar is ’n kameelperd wat drie jaar gelede ’n kameraman doodgeskop het, en ons is op die punt om die Universiteit van die Vrystaat se kameelperd-navorsing te gaan verfilm, so ons moet grense stel. Ek weet jy wil naby die kameelperd wees wanneer dit grond toe kom tydens die vangs Bonné, maar ons doen dit nie elke dag nie, ons weet nie hoe dit werk nie.”

Ek verwys nou spottenderwys daarna ... maar ek kan net nie wag om tot aksie oor te gaan om die storie te vertel nie, en ek dink dit is my verwondering en fassinasie vir die onderwerp, so ek is geneig om nie aan die gevaar-aspek te dink nie. Dankie tog Susan is daar om oor my skouer te kyk!

Wat geniet jy om agter-die-skerms te doen?

Verfilming is soms só gejaagd, daar is nooit regtig baie tyd nie! Maar ons verfilm gewoonlik nie (of probeer ten minste) tussen 10:00 en 14:00 nie. Die lig in die middel van die dag is nie vleiend nie, en baie keer is ons in plekke wat baie warm is, so ons kan maklik aan hitte-uitputting ly. Ons het ook baie lang dae, ons begin verfilm voor sonop en werk meeste van die tyd tot na sononder.

So, ek geniet altyd hierdie nie-verfilmingstyd met die “karakter” van die episode: Die navorser, veearts of wetenskaplike. Aangesien ons gewoonlik dan saam 'n laat-ontbyt sal eet, bestaan dit uit hardgekookte eiers, vrugte en ons Stanley-flesse wat gevul is met koffie. Ek is mal oor hierdie oomblikke, omdat ek meer oor hulle opwindende lewens hoor.

Hulle stories van dinge wat hulle in die veld gesien het, vreemde diere wat hulle teëgekom het, nuwe diere-gedrag; nuwe landskappe wat hulle verken het. Hierdie individue is ontdekkingsreisigers, nie waar nie, soos van ouds. Ek dink dit is wat hulle so interessant maak, en hoekom hulle ons só aangryp op Bewonder & Bewaar. Ek kry myself dat ek hulle altyd probeer oortuig om 'n boek skryf!

Wat is jou gunsteling-dier en hoekom?

Die renoster natuurlik! Ek het vier jaar van my lewe spandeer om regoor Afrika en Asië te verfilm om te probeer uitvind hoekom hierdie pragtige ikoniese dier afgemaai word vir sy horing. [Dis] ’n dier wat ongelooflike lyding beleef as gevolg van die mens se gierigheid.

Na die film gemaak is het ons ’n verdere twee jaar gebruik vir die verspreiding van die film om die renosterstorie voor die oë van soveel as moontlik mense te kry, net nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal en so hopelik bewusmaking te skep. So, om ses jaar van my lewe net op die renoster te fokus, moet jy weet dat dit my gunsteling dier is!

Ter viering van Afrika Dag op 25 Mei: Watter land naas Suid-Afrika is jou gunsteling?

Namibië. Wat ’n landskap! Die Namib-woestyn…

Daar is ‘n stilte wat ‘n mens nie kan beskryf nie, want dit is nie die werklike gehoor kwaliteit nie, nie die volume stilte nie, maar ‘n diep sittende stilte, wat jy voel. Een van die oudste woestyne op die planeet wat [die] siel skoonmaak op ’n verfrissende manier. En elke keer wanneer ek terugkeer daarheen, besef ek net weer hoe kragtig dit is.

Om 'n plek so spesiaal soos die Namib-woestyn so naby aan ons te hê, basies op ons voorstoep, wel, dit is iets waaruit ons almal moet voordeel trek.

Na watter lande in Afrika wil jy nog na reis en hoekom?

Ek wou nog altyd van die Afrika-lande wat weerskante van die ekwator sit besoek, soos Gaboen en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Ek het al foto’s en dokumentêre films van hierdie lowerryke reënwoude gesien wat wemel van lewe en dit is baie aanloklik vir my! Stel jou voor jy stap in hierdie besonderse reënwoud en sien jou tipiese Afrika diere: Leeus, luiperde, seekoeie, en olifante. En dan om dit te top, die berggorilla! 

So eerste op my lys is om van nader na die wilde berggorillas in die Kongo se Virunga Nasionale Park te gaan kyk.

Voltooi die sin: Suid-Afrika is die beste land in Afrika want…

Dit is ’n kombinasie van die ryk wildlewe, die merkwaardige landskappe en haar mense. 

Suid-Afrikaners is ware vasbyters, ons gee nooit op nie. Kyk byvoorbeeld na die situasie op die oomblik… dinge lyk maar donker in ons land. Ek dink ons moet eerlik wees daaroor, maar daar is steeds diegene van ons wat uitkyk vir en soek na die positiewe, wat streef om die beste weergawe van onsself te wees. Hoe ongelooflik is dit nie?

Wat is jou hoop vir Suid-Afrika?

My hoop is dat ons onthou wat ons almal in gemeen het, want ek dink daar is so baie wat ons verdeel. Oral waar ons kyk is daar negatiewe stories wat vir ons sê hoekom ons almal so van mekaar verskil en hoekom ons soveel negatiwiteit teenoor ons land en teenoor mekaar moet hê, en mens raak vasgevang in hierdie dinge. 

Ek dink aan 'n situasie waar my ma dalk voor die poskantoor gestrand sou sit, haar voertuig wil nie aanskakel nie. Ek kan jou waarborg dat as sy na enige Suid-Afrikaner in daardie parkeerterrein stap en sê “help my asseblief, my voertuig wil nie aanskakel nie”, sal daar iemand wees met kabels, daar sal iemand wees wat bereid is om te stoot om hom aan die gang te kry, en as daar iemand is wat dit dalk nie kan doen nie, dalk ’n ouer persoon, sal hulle aanbied om by my ma te wag totdat hulp opdaag. Natuurlik is daar baie bedrieërs en skelms wat munt sal wil slaan uit ‘n netelige situasie, maar ek praat nie van hulle nie, ek praat van die gewone Suid-Afrikaner wat gewillig en bly is om te help. 

Dit laat my besef dat so verskillend soos wat ons almal is, ons mag dalk 11 verskillende tale praat en uit 'n verskeidenheid verskillende godsdienste en agtergronde kom... dit is wat ons almal hier in Suid-Afrika het, daardie gewilligheid om ons mede-Suid-Afrikaner te help, en dít moet ons nie vergeet nie.

Volg Bonné se avonture in die wild in Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod elke Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom episodes op DStv Stream. Jy kan ook die gesprekke aanlyn volg deur die hutsmerk #BewonderEnBewaar te gebruik.