Logo
web uni tv guide

Een Keer Om Die Son

144Drama13 V

Die musiek agter die emosie – Een keer om die son

Nuus
23 Julie 2024
Toe Ivan Botha en Donnalee Roberts iemand gesoek het om die musiek vir "Een keer om die son" te doen, het die vervaardiger hulle van die talentvolle Almero Welgemoed vertel.
Almero EKODS

Die klankbaan van ’n TV-reeks of fliek is een van die belangrike elemente om nie net die storie oor te dra nie, maar die emosie in tonele ektra oemf te gee. Toe Ivan Botha en Donnalee Roberts iemand gesoek het om die musiek vir Een keer om die son te doen, het die vervaardiger hulle van die talentvolle Almero Welgemoed vertel.

Almero, vertel ons meer van jouself. Waar kom jy vandaan, waar het jy matrikuleer en wat het jy ná skool gedoen? 

Ek is gebore in Bloemfontein en het daar groot geword, my ouers bly steeds daar so ek sien gereeld die Rosestad – al het ek gemengde gevoelens daaroor. Bloemfontein kan maar klein en kleurloos voel met tye. Matrikuleer by Hoërskool Jim Fouché in 2015 en alhoewel ek medies sou studeer, het ek, nadat ek ’n keisersneë gesien het by ’n staatshospitaal as deel van 'n jobshadow week, besluit dat ek veels te sensitief vir so tipe beroep is. Ek het toe my broer (Nico, twee jaar ouer as ek) oortuig om sy werk te los en ons het Mosselbaai toe getrek om by my tannie te gaan woon en 'n gap jaar uitgetoets. 

Was musiek nog altyd deel van jou lewe? 

Beslis. Ek en Nico is grootgemaak op Don Williams en Dana Winner se albums. Ek het in graad 3 klavierlesse begin neem en die musiekmaakgogga het my beetgekry. Die lirieke het eers later gekom, en in graad 12 het ek ’n kunskompetisie gewen en met die prysgeld vir my ’n goeie mikrofoon gekoop. Tydens ons gap jaar in Mosselbaai het ek en Nico begin om van my musiek sommer so by ’n klavier op te neem – hy het die opnames en afneem van musiekvideo's hanteer en ons het dit op YouTube gelaai. So het iets soos ’n loopbaan gesneeubal en hier is ons nou.

© Getty Images

Vertel asseblief meer van jou vorige albums. 

Elke album kom uit ’n baie spesifieke tyd in my lewe. Die musiek is dus ook baie gesentreerd rondom temas wat relevant was vir my in daardie tyd. Maandag, my eerste album, het baie oor my grootwordjare en drome gegaan, en Junie, die tweede album is geskryf en opgeneem tydens die Covid-19 lockdown en gaan baie oor daardie tyd. Die nuutste album, ’n Brein met ’n bloukol, handel oor geestegesondheid en my verhouding met my emosies. Baie van hierdie album se liedjies kan ook in Een keer om die son gehoor word. 

Hoe het dit gebeur dat jy die klankbaan en temaliedjie vir Een keer om die son geskryf het? 

Ivan en Donnalee het my einde laasjaar via Danie Bester (vervaardiger) gekontak. Ek het al saam met Danie aan ’n film gewerk en die klankbaan gedoen. Hulle het vertel van die projek en dat hulle my graag wou voorstel as musikant om die klankbaan en temamusiek te vervaardig. kykNET het gelukkig ingestem en ek het toe voorgestel dat ons vir elke episode ’n oorspronklike lied ook vervaardig, en nie net ’n klankbaan nie. Ivan het baie van die idee gehou en ek het weggespring. Die temalied is eerste geskryf, met Ivan en Donnalee se tekste as inspirasie. 

Hoe het jy die projek aangepak? 

Ek het begin om van die musiek te vervaardig nog voor die redigering plaasgevind het. Dus het ek net die tekste gehad om van te werk. Ivan wou graag ’n groot repertoire van musiek reeds beskikbaar hê vir die redigeerders om mee te werk sodat die na-produksie proses so vinnig as moontlik kan gebeur.  Elke episode, behalwe vir die klankbaan en agtergrondmusiek, het ook ’n oorspronklike lied wat aan die einde speel. Die lirieke is geskryf uit die teks van die reeks, met die karakters en die storie as inspirasie. 

Dit is ’n ongelooflike groot en intimiderende projek/proses, maar met Ivan aan die stuur daarvan was dit nét 'n plesier. Die storie en karakters was ten alle tye die middelpunt van die kreatiewe proses en inspirasie vir die musiek. 

Is die skryf van klankbane iets wat jy graag meer wil doen? 

Beslis. Ek het al so paar films se klankbane behartig, maar TV-reekse is ’n ander monster, maar beslis iets wat ek meer sal wil doen. 

Wat dink jy is die beste klankbaan van alle tye? 

Daar is so baie! Maar ek is baie lief vir Arrival (die film wat in 2016 uitgereik is) se musiek, en ek het ook ’n spesiale plekkie in my hart vir Hans Zimmer se musiek vir Kung Fu Panda.

By wie sal jy graag meer wil leer oor klankbane? 

Ek dink Wesley West en Loki Rothman, al twee plaaslik, is beide ongelooflike musikante by wie ek graag sal wil leer oor klankbane en filmmusiek. 

Het jy enige ander stokperdjies? 

Ek skilder graag en is tans besig om obsessief te hekel aan truitjies en teddies vir my en my vrou se kleinding wat binnekort gebore word. 

Wat maak die lewe ’n lied? 

Ek dink daar is soveel dinge wat die lewe kleurvol en die moeite werd maak, maar ek het nie altyd so gedink nie. Daar was tye wat ek ’n baie negatiewe mens was, ieamand wat eerder die donker wolk as die silwer randjie wou sien. Ek dink empatie, verhoudings en genade met jouself en ander, maak die lewe soveel ligter en het my gehelp om nie so swaar te dra aan die seer van die lewe nie. O ja, en musiek natuurlik. Wat is lekkerder as om saam met jou gunsteling-lied te sing!

Skakel Dinsdae om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir Een keer om die son. Gesels saam op sosiale media deur #EenKeerOmDieSon te gebruik of binge die vorige episodes op DStv Stream