Logo

Filmmakers en TV-bedryf gaan skitter by 12de kykNET Silwerskermfees

Nuus
14 Junie 2024
“Ons glo in die toekoms van Afrikaanse film en televisie, in die belangrikheid van ’n wye verskeidenheid stemme, en in die krag van stories om lewens te verander.”
“Ons glo in die toekoms van Afrikaanse film en televisie, in die belangrikheid van ’n wye verskeidenheid stemme, en in die krag van stories om lewens te verander.”

Só sê Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale, oor die 12de kykNET Silwerskermfees wat vanjaar vanaf 28 tot 31 Augustus by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaasvind.

“Die kykNET Silwerskermfees wil alles moontlik doen om nuwe storievertellers te vind, talent kans te gee om te skitter, en die bedryf ’n praat-, wys- en bymekaarkomplek te gee waar Afrikaans die gom is wat ons bind,” sê hy.

Vir meer as ’n dekade al is die Silwerskermfees een van die mees gerespekteerde ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf en kykNET bou vanjaar daarop voort.

Een van die fees se sleutelbestanddele is die suksesvolle kortfilm-mentorskapprojek waardeur kykNET ’n nuwe generasie rolprentmakers se loopbane ’n wegspringplek gee.

In 2023 het dit na dokumentêre projekte uitgekring en vanjaar is die opwindende shotgun-kortfilms prominent in die kollig. Die fees het verlede jaar die shotgun shorts-idee geloods, waar gevestigde filmmakers gevra is om voorstelle vir professionele kortfilms voor te lê en in Augustus word dié films by die fees bekend gestel.

Buiten die ses shotgun-kortfilms tel ses speelfilms, agt kortfilms (deur opkomende rolprentmakers) en vyf kort dokumentêre rolprente onder vanjaar se debuutwerke.

’n Hoogtepunt op verlede jaar se program was die insluiting van loodsepisodes van splinternuwe televisie- en stroomdiensreekse en vanjaar gaan daar weer eksklusiewe voorskoue vir feesgangers wees.

KykNET bring soos tevore ook talle kenners na die fees om insiggewende werkswinkels, paneelbesprekings en meesterklasse aan te bied. Van die onderwerpe wat bespreek gaan word, handel oor die hantering van intimiteit op die stel, die proses waardeur boeke vir die skerm verwerk word en hoe ko-produksies werk.

Oudergewoonte sluit kykNET die fees af met die swierige Silwerskermtoekennings vir Film en TV waar die beste films van die fees saam met top-televisie vereer word.

Dié glansryke geleentheid word op Saterdag 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied, waar die gesogte Silwerskermbeeldjies aan filmfees-presteerders en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar uitgedeel sal word.

By die toekennings word die ikoniese kykNET-bloutapyt vir die grootste sterre uitgerol en top-musikante gaan vir vermaak op die verhoog sorg. Boonop sal dit die volgende aand, Sondag 1 September, op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

KykNET maak ook groter voorsiening vir die publiek om vanjaar se fees by te woon en kaartjies sal van 26 Junie op Quicket te koop wees.