Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13
Adriaan

Adriaan

"Sy moet haar kan uitleef rondom my en ons moet die beste uit mekaar bring! As sy ’n vertrek instap, wil ek bars van trots en my wange moet pyn van die smile op my gesig!"

Klik op ‘LEES MEER’ indien jy meer wil weet van Adriaan.

 

 

 

OUDERDOM: 27
KINDERS: Geen
KWALIFIKASIE: B. Agri Elsenburg
BOERDERY: Gemeng
AREA: Riversdal, Wes-Kaap
HUISTAAL: Afrikaans
HUWELIKSTATUS: Ongetroud
LENGTE: 1.87 m
BOER/BESTUURDER: Boer

OPSOEK NA:
Sy moet ’n Christen wees. Sy moet spontaan, vriendelik, sag en liefdevol wees. Sy moet onafhanklik kan wees en haar eie ding ook kan doen. Sy moet altyd eerlik wees en sy moet my, en ek sal haar, met my lewe vertrou.
Sy moet haar kan uitleef rondom my en ons moet die beste uit mekaar bring! As sy ’n vertrek instap, wil ek bars van trots en my wange moet pyn van die smile op my gesig! Ek weet hoendervleis sal my uitslaan.
Dit klink na ’n droom maar ek weet dit kan so wees. Ek wil nie ’n sekonde sonder haar my lewe kan indink nie!

LEWENSSKETS EN BELANGSTELLINGS:
Hulle sê dat ek baie nuuskierig is, maar ek stel net belang – dis al! As ek iemand nie ken nie, of ongemaklik is, is ek baie stil en sal jy dink ek is ’n introvert, maar mense wat my ken sal sê ek is alles behalwe een. As ek eers iemand leer ken en weet waar ek staan met hulle, dan is ek eers gemaklik en sal ontdooi!
Eerlikheid en vertroue is vir my baie belangrik. Ek hou daarvan om besig en betrokke te wees en hou van mense rondom my. Ook nou nie 24/7 nie – mens het darem daardie me time ook nodig! (Moenie op 'n Sondagaand alleen wees en Carte Blanche se deuntjie speel nie – dan slaan die horries erg.)
Ek gee baie om en is baie lief vir die mense na aan my! Ek is ’n sagte mens en hou glad nie van konflik nie. In plaas van laaste iets sê of enigiets, sal ek eerder stil bly en maar vat.
Ek is ongelukkig bittterrr jaloers! Ek probeer om die lewe so veel as moontlik te geniet. Die lewe is rerig ongelooflik kort, so ek geniet dit net en probeer voluit lewe! 
Ek is baie lief vir die plaas – wil niks anders doen, of erens anders doen of erens anders wees as hier nie! Ek dank die Here elke dag dat hy my geseën het hiermee en die leefwyse! 
My stokperdjies is eintlik te veel, nou dat ek mooi oor alles dink. Eintlik is boerdery ook ’n stokperdjie, want dit voel nie na werk nie só baie geniet ek dit! Hulle sê mos as jy hou van wat jy doen dan hoef jy nooit in die lewe te werk nie, of so iets mos! 
Ek is mal oor sport. Maar asseblief, moet nou nie die prentjie van ’n six pack Mens Health-ou met ’n paar moerse arms en ’n klein koppie in julle koppe kry nie – daarvoor is ek hopeloos te lief vir eet en kos. 
Ek het ’n passie vir rugby. Ek rig rugby af by ’n hoërskool na werk. Ons speel ook six-a-side-krieket. Ek behoort ook aan die Heidelberg kus hengelklub waar ons een keer ’n maand kompetisie hengel! Ons speel ook besigheidsliga-rolbal op Riversdal. En wintermaande jag ons graag (ten minste 3 tot 5 jagtogte]. 
En dan plant ek ook daardie giant pampoene – die kompetisie was 25 Maart 2017 op Heidelberg. Om so ’n pampoen te kweek is erger as om ’n kind te versorg (sal nie weet nie maar dink so).

LESSE UIT VORIGE VERHOUDINGS:
Ek weet vandag met baie sekerheid, trou is nie perdekoop nie! Ek was nog nie in baie ernstige verhoudings betrokke nie, maar ek het wel geleer dat mens iemand onvoorwaardelik moet liefhê en onvoorwaardelik moet kan vertrou. Ek soek daardie persoon wat my liefde en vertroue waardig sal wees.

BESTE EIENSKAPPE:
Ek is lojaal en liefdevol. Ek is vriendelik en het ’n goeie sin vir humor. Ek is baie lief vir mense en kom goed oor die weg met enige ouderdomme.

SLEGSTE EIENSKAPPE:
Ek is jaloers. As ek ongeduldig raak, raak ek geïrriteerd en kort af – soms bietjie ongeorganiseerd.

IS DIÉ BOER ROMANTIES EN DIE IDEALE ROMANTIESE AFSPRAAK:
Já, ek beskryf myself as romanties. Ek dink regtig die liefde, en om romanties te wees, is baie belangrik! En ek sal baie moeite ook doen!
Ek skryf nie in om iets te bemark, of net om op televisie te kom of te brag met dit wat ek het of iets nie! Ek skryf in om my hart oop te maak en om ware liefde waarvan almal praat te soek. 
Ek het baie liefde om te gee, en dis my tyd om geluk te vind en te kry. Ek skryf in want ek glo Boer Soek ’n Vrou gee my ’n geleentheid om ’n vrou te ontmoet. 
Ongelukkig bly ek in ’n klein plattelandse dorpie, en kan nie altyd nuwe mense onmoet of baie weg gaan nie. 

My romantiese afspraak:
Dit is vir my belangrik dat dit net ons twee alleen is, want dit is kwaliteit tyd wat mens moet hê, en dis julle twee se tyd! En dis die beste wat jy iemand kan leer ken en kan deel!
Ons is geseënd hier op die plaas (let wel, dit moet ’n mooi jaar wees en lekker gereën het) met die mooiste rivier met ’n Black Wattle-woud, en ’n groot vlei met baie water en watervoëls. Eerstens sal ek nooit weggee wat ons gaan doen nie. 
Ek is mal oor ’n verrassing, en iemand se gesigsuitdrukking of emosie van waardering en opgewondenheid! Ek sal ’n piekniek hou op die rivier se wal of onder die groot Melkhoutboom langs die vlei. Ek sal alles self voorberei en pak – mens waardeer iets net soveel meer as dit self gedoen is en met liefde gemaak is! 
Ons sal met die kanoe roei en alles wat natuur bied net waardeer en in neem! En die hele dag sal net gaan oor ons twee, want dit is al wat saak maak – ons twee! 
Mens leer elke dag iets nuut oor iemand, en hoe meer kwaliteit tyd jy saam met iemand spandeer, hoe sterker raak jou band en liefde vir mekaar!!

HET ADRIAAN JOU HARTSNARE GEROER? SKRYF DAN VIR HOM ’N BRIEF!

Seisoen 11 se boere