web uni tv guide
Plaasjapie

#Plaasjapie_Pieter

Pieter Gouws

Meganiese ingenieur, Kaapstad

Pieter sê hy weet dis skokkend, maar hy is nog ’n alleenloper.

1. Hoekom het jy vir Plaasjapie ingeskryf?

Om op ’n plaas te werk en te bly is iets wat ek al van kleins af doen en maklik kan doen vir ’n lewe omdat my familie boere is. Maar dis nie iets wat ek regtig sou wou doen nie.  

Ek word baie gevra hoekom nie. My antwoord is dat ek bloot net nie daarin belangstel nie. Mense neem seker aan ek is ’n baie slegte boer. 

Plaasjapie was vir my ’n manier om te bewys dat ek eintlik baie goed met plaasbestuur en-werk is, maar net omdat jy goed is met iets, beteken dit nie jy moet dit doen vir ’n lewe nie.

2. Beskryf jouself

Wel, my vriende beskryf my as ’n klandestiene gladdebek, want ek kan my in of uit enigiets praat. Maar ek is nog steeds nederig.

Ek is definitief ’n ekstrovert en ’n standvastige persoon wat nie regtig verander nie. Hoe ek vandag met jou is, gaan ek ook môre en oor ’n jaar met jou wees.

Ek hou daarvan om mense te laat lag en weet dat komedie gebruik kan word om enige moeilike situasie makliker te maak, al is dit soms ’n bietjie donker humor.

Ek sê nooit nee vir ’n uitdaging nie. Ek werk vinnig en doen goed op die regte manier sodat ek dit nie twee keer hoef te doen nie. Ek maak maklik vriende met mense en met die Here se genade word ek altyd vriende met die beste en oulikste mense in die groep.

Ek is hardwerkend en is bekend daarvoor dat wanneer jy vir my ’n taak gee, jy gerus kan wees dat dit gedoen gaan word. Alhoewel dit partykeer baie van my kognitiewe kapasiteit neem om kreatief te wees, is ek m**rse kreatief as ek moet wees.

Ek is die ou wat altyd ’n ding so ver as moontlik vat. Ek druk ook my vriende om beter te wees en die regte geleenthede geskep te kry. Wat anders kan ek sê as dat ek ’n ding stukkend kan druk.

Laastens is ek die persoon vir wie my vriende altyd raad vra oor meestal enige iets omdat ek level-headed is (koelkop werk nie so lekker nie) en situasies vanuit

verskillend oogpunte kan sien.

3. Wat is die sterk punt(e) wat jy na Plaasjapie gebring het? 

Tegniese vaardighede, leierskap, kultuur bou en om mense te motiveer, aanpasbaarheid, prioritisering, probleemoplossing, kreatiwiteit, determinasie, geloofwaardigheid, toewyding en goeie kommunikasie. Ek werk goed onder druk.

Ek tel baie vinnig op hoe om met verskillende mense te werk om die beste uit hulle te kry.

4. Wat beskou jy as jou slegste eienskap?

Ek haat sukkel. So, jy kan jou net indink, want boer is alles en nog meer sukkel. Ek aanvaar partykeer te veel verantwoordelikheid, is ’n klein bietjie perfeksionisties en my gevoelens wys soms op my gesig. Ek is baie kompeterend, ongeduldig (weer eens nie die beste eienskap vir ’n boer nie) en, soos die meeste gedrewe mense, plaas ek baie druk op myself.

Monique Plaasjapie
Riaan Plaasjapie
Pieter Plaasjapie