Logo

’n Weldeurdagte wagwoord vir Wikus van Wyk: Splinternuwe speelfilm in Junie

Nuus
13 Junie 2024
Dis ’n verhaal wat wêreldwyd afspeel. Kinders verlaat hulle ouers om ’n beter lewe op ’n ander kontinent te gaan soek. Die ouers sal enigiets doen om kontak met die kinders en ook kleinkinders te hou, maar elke nou en dan steek tegnologie ’n stokkie daarvoor.
’n Weldeurdagte wagwoord vir Wikus van Wyk, kykNET se speelfilm, maak sy debuut op 15 Junie om 20:00 op DStv-kanaal 144.

Dit is die verhaal van ’n Weldeurdagte wagwoord vir Wikus van Wyk, kykNET se speelfilm wat op 15 Junie om 20:00 op DStv-kanaal 144 sy debuut maak.

Die tegnofobiese Wikus van Wyk word slagoffer van ’n slenter wanneer hy sy Google-wagwoord moet opstel om sodoende sy kleinkind wat oorsee woon, deur ’n video-oproep te kan ontmoet. Maar is die persoon wat hom moet help alles wie hy voorgee om te wees?

Die skrywer en regisseur is Marista van Eeden, en die rolverdeling sluit in Gerben Kamper as Wikus, Dihan Keun as Luan, Claudia Jones as Melany, Mia-Anne O’Kennedy as Sonja, Elma Potgieter as Ronél, en Susan Coetzer as Riekie.

Marista sê die film se sentrale tema is tegnologie – iets wat vir ons as samelewing moeiliker is om mis te kyk as om raak te sien. “Ek het lank skooltoneel afgerig, en dit was vir my merkwaardig hoe tieners en jongmense (ek inkluis) se selfone al hoe meer as ’n ekstra ledemaat begin funksioneer. Met ’n selfoon is alles binne bereik – tekste, handboeke, musiek, films, oorsese vriende, afleweringsdienste. Maar dit is natuurlik in sterk kontras met party van die ouer garde vir wie tegnologie nog vreemd bly. My eie ouma het nooit ’n selfoon besit nie, en daar was ’n groot deel van die wêreld (die internet) wat vir haar onverklaarbaar was. Hoe verduidelik ’n mens die internet vir iemand sonder om hulle nie tog ’n bietjie bang te maak nie? Ek dink dit was juis hierdie generasiegaping wat my geïnspireer het om die film te skryf. Ek wou ontdek wat gebeur as tegnologie ’n brug tussen generasies sou word, eerder as ’n skeiding.”

Wat hoop sy kry kykers uit die fliek?

“Sover was dit wonderlik om te hoor dat mense hulself in sekere situasies kon herken,” sê Maritsa. “ ’n Geval van ‘ja, dit is soos ek en my pa.’ Ek hoop die fliek laat mense verstaan en gee hulle dan die kans om sommer net lekker te lag en ’n traantjie te pink. Op die ou end is tegnologie net ’n hulpmiddel. Menslike verhoudings en konneksie is dit wat regtig tel. As beide jonk en oud deur die film dus weer ’n bietjie begrip deur tegnologie vir mekaar kry, dan is dit mission accomplished.”

Gerben erken hy is baie soos Wikus wanneer dit by tegnologie kom. “Daardie deel van die karakter het natuurlik gekom,” sê hy. “Verder kon Maritsa as beide skrywer en regisseur my op die pad lei na die Wikus wat sy op papier vasgelê het en aan wie ek die voorreg gehad het om ’n asem te gee.”

Vir Martisa en Gerben was die span betrokke ’n hoogtepunt.

“Die hele span, voor en agter die kameras tot en met redigering en na-produksie was loshande vir my ’n hoogtepunt,” sê Maritsa. “Hulle vriendelikheid, passie en kennis het regtig die proses onvergeetlik gemaak. Ek het net respek vir elke naam op die erkenningslys.”

Wat is Gerben se raad aan ander ouer persone in dieselfde situasie?

“Laat die kinders vlieg en luister vir ’n slag wat hulle sê. Gee die leiding bietjie oor aan die volgende geslag,” sê hy.

  • ’n Weldeurdagte wagwoord vir Wikus van Wyk première op kykNET (DStv-kanaal 144) op 15 Junie om 20:00 en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar