web uni tv guide
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama13

'n Oktober propvol vermaak op die kykNET-kanale

Nuus
01 Oktober 2024
’n Splinternuwe geselsprogram, nuwe seisoene van gewilde reekse, die spannende finale episode van "Boer soek ’n vrou", asook rolprente uit Namibië is van die topklasvermaak waarop kykNET en kykNET&kie kykers in Oktober gaan trakteer.
Oktober hoogtepunte

’n Splinternuwe geselsprogram, nuwe seisoene van gewilde reekse, die spannende finale episode van Boer soek ’n vrou en die aankondiging van dié reeks se nuwe aanbieder, komedie en drama, asook rolprente uit Namibië is van die topklasvermaak waarop kykNET en kykNET&kie kykers in Oktober gaan trakteer.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II 

2 Oktober

Andries help op die plaas, terwyl Ans uitvind dat ’n spook uit haar verlede die nuwe eienares van die slaghuis is. Lourens ontdek die wonder van toneel, en ’n nuwe lid sluit by Ronnie se AA-groepie aan.

9 Oktober

Ronnie en Lourens probeer die gevolge van Suzette se ongeluk verwerk, terwyl Ans steeds vir Henna vermy. Andries besef sy pa se siekte is meer ernstig as wat hy wil erken.

16 Oktober

Andries probeer met Maggie praat oor sy pa se gesondheid, en Chrissie kry snuf in die neus oor Frans en Lorrie. In die Kaap begin Ronnie en Lourens die stukke optel ná Suzette se ongeluk.

23 Oktober

Dis basaartyd in die dorp. Maggie en Frans gaan Kaap toe vir Lourens se konsert, terwyl Andries moet toekyk hoe Pa Lourens tot ’n aaklige besef kom.

30 Oktober

Dis die dag van Lourens se konsert. Andries bevestig sy pa se diagnose, en Ronnie se wêreld tuimel heeltemal uitmekaar.

·      Nêrens, Noord-Kaap Deel II is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) asook DStv Stream.

Banana Air

’n Laekostelugredery met ’n span eksentrieke lugwaardinne, twee vlieëniers, ’n senuweewrak van ’n bestuurder en sy persoonlike assistent wat hulself altyd in gekke situasies laat beland kan net een ding beteken – ’n plesiervlug met hope vermaak en skreeusnaakse oomblikke.

7 Oktober

Sakkie en Brand se skandes in Mumbai kom uit. Hester en die personeel is ontevrede met die nuwe reëls. Rodney is verras oor kliëntediens se sukses.

14 Oktober

Die lugwaardinne is ongelukkig oor hulle verplig word om hulle gewig te meet. Hester is woedend oor Piston se verlowing. Koekie ontmoet ’n skatryk sakeman.

21 Oktober

Sakkie vier sy egskeiding. Hester kan slange vang oor Piston se leuens. Rodney se video’s verskyn op sosiale media, en Barbie en Piston word saam in ’n jacuzzi betrap.

28 Oktober

Brand moet sy kaalbas-insident verduidelik. Hester hou nie van die nuwe uniforms nie. Barbie is ná ’n inkopietog finansieel in die knyp.

·      Banana Air is Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Waar daar ’n wil is

Sy is ’n bekroonde aktrise en teatermaker en vir baie ook ’n mentor in die TV-, rolprent- en teaterbedryf. Nou kan Lee-Ann van Rooi ook aanbieder van ’n geselsprogram by haar indrukwekkende CV voeg. In Waar daar ’n wil is gaan Lee-Ann indiepte gesprekke met bekendes voer wat wissel van mense in die vermaakwêreld tot politici, aktiviste en baanbrekers. Elkeen van die gaste gaan vertel hoe hulle hul weg gevind het tot waar hulle vandag is. Dit gaan dus oor mense wat gewys het dat daar inderdaad ’n weg is waar daar ’n wil is.

4 Oktober

Lee-Ann van Rooi gesels met krieketlegende Fanie de Villiers in die ateljee, en ons maak ook ’n draai by sy huis om uit te vind hoe sy rol as pa sy hele lewe verander het.

11 Oktober

Lee-Ann gesels met die bekende aktivis Lucinda Evans. Die BBC beskryf haar as een van die 100 mees invloedryke vroue in die wêreld.

18 Oktober

Lee-Ann gesels met die Suid-Afrikaanse televisie-aanbieder en dokumentêre filmmaker Bonné de Bod. Sy vind uit hoe Bonné uiteindelik in die rol van televisie-aanbieder beland het.

25 Oktober

Christo van der Rheede is ’n Suid-Afrikaanse sakeman, bekend vir sy beduidende bydraes tot die landbousektor, en is tans die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

  • Waar daar ’n wil is begin op 4 Oktober om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Klein paradys

Ses pare gaan 25 dae lank eet, slaap, bou en herhaal om mikro-wonings van 21 m² in die Elgin-vallei in luukse wegbreekhutte te omskep, met R1 miljoen op die spel in Klein paradys, wat op 24 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

Klein paradys – aangebied deur Robbie Kruse – is nie jou gewone huisopknapprogram nie. Die taak om ’n klein “apodment” in ’n boswegbreekplek te omskep, met ’n slaaparea, leefruimte, kombuisie en badkamer, mag eenvoudig klink, maar om hul kreatiewe visie te verwesenlik gaan dié ontwerpduo’s uitdagende balanseertoertjies die hoof moet bied. Die spanne moet hul eie begrotings bestuur; hul eie boumateriaal bestel; doelwitte binne spesifieke tydsraamwerke haal; die meeste van die fisiese arbeid self verrig en daarmee saam die onverwagte struikelblokke van dinge wat skeefloop, hanteer.

  • Die eerste episode van Klein paradys word op 24 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Laataand by Rian

Die gewilde TV-aanbieder Rian van Heerden is binnekort weer op die kassie om met die land se grootste nuusmakers te praat in die derde seisoen van Laataand by Rian, wat op 8 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop.

Daar word nie getorring aan die program se wenformaat nie: Rian gesels weer in die eerste segment met ’n alombekende persoonlikheid en dan sluit ’n tweede gas as ’n verrassing by hulle aan. Die tweede gas is gewoonlik iemand wat Rian êrens raakgeloop het. Dit alles gebeur by sy restaurant in Pretoria, Delizioso.­­

In die derde seisoen maak almal van komediante en sangers tot grapmakers en vuurvreterpolitici ’n draai. Kykers kan uitsien na gesprekke met die radiopersoonlikheid Amore Bekker, die voormalige gyselaar Gerco van Deventer, die minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, en die gewese prokureur Peet Viljoen.

·      Skakel vanaf 8 Oktober om 21:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die derde seisoen van Laataand by Rian. Die reeks is ook op DStv Stream beskikbaar.

 

Prontuit

Die Prontuit-span vat oudergewoonte die pad en gesels met rolspelers wat die land verbeter, en dit wil-wil voorkom of daar ’n atmosfeer van hoop in Suid-Afrika is en ’n pad van ware herstel wat gebaan word. Prontuit herinner jou daaraan dat ons kenners, entrepreneurs, landbouers, onderwysers, handelaars en geesteswetenskaplikes topklas is.

  • Prontuit begin 23 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Boer soek ’n vrou

Die finale episode van Boer soek ’n vrou word op Donderdag 17 Oktober uitgesaai. Kykers sal dan uitvind watter van die topvyfboere se liefdesreise vrugte afgewerp het. Direk na afloop van daardie episode, dus om 21:00 op 17 Oktober, gaan kykNET die nuwe aabieder van die reeks op Bravo! aankondig. Boonop doen Marciel Hopkins die Bravo!-insetsel met die nuwe aanbieder. 

 

Nuwe seisoene plus twee nuwe leefstylprogramme in Oktober

Vat jou goed en trek!

’n Splinternuwe seisoen van Suid-Afrika se mees geliefde huisopknapprogram, Vat jou goed en trek!, begin in Oktober. Seisoen 11 beloof om nog groter, dapperder en meer hartroerend as ooit tevore te wees.

  • Vat jou goed en trek! begin op 4 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Glam Guru

Oktober gaan die mooiste maand op kykNET wees wanneer die gewilde voorkomstransformasie-reeks Glam Guru met die skoonheids- en modeghoeroe Hannon Bothma vir die 23ste keer terugkeer. “Ons luister na ons kykers wat vir ons vertel wat hulle graag wil sien. En vir jare het ons van wonderlike kykers gehoor wat graag wil hê dat ons manlike kandidate moet transformeer,” sê Hannon Bothma. “In hierdie seisoen het ons besluit dit is presies wat ons gaan doen. So, ons kyk dié keer na die uitdagings wat mans met hul voorkoms het.”

  • Glam Guru word van Donderdag 3 Oktober om 17:30 op kykNET (DSTV-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

La’t wiel

’n Splinternuwe seisoen propvol rygoed, insluitende die kragtigste passasiersmotor wat Mercedes nog ooit gemaak het, sowel as die nuwe Prado wat kopers laat tou staan. ’n Mini was ’n klein motor, maar die Countryman is groot en glad nie goedkoop nie. Ons reis ook na Wallis vir ’n onvergeetlike ervaring in die tweede episode.

In die derde episode kyk Hannes Visser en Waldo van der Waal na die Mercedes GLS – die S-klas van sportnutsvoertuie. Hulle beproef ook Kia se Sonet, wat besig is om naam te maak, en vind uit die vliegtuie in Wallis gee steeds hoendervleis.

4x4-dubbelkajuitbakkies is van die gewildste rygoed in SA, maar watter een is die beste? Ons geniet die veelsydigheid van ’n Jimny en loer in by die wêreld van veldrenne in die vierde episode van die nuwe seisoen.

  • La’t Wiel begin 1 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

1 Spoor Avonture

Wees gewaarsku, as jy nog nie vantevore lus gehad het om die wêreld op twee wiele te verken nie, gaan hierdie reeks op kykNET jou beslis ander idees gee. Daar gaan by verafgeleë en onbekende plekke ingeloer word wat so deel van die Suid-Afrikaanse landskap is as ’n boer met ’n bakkie. 1 Spoor Avonture is die breinkind van André de Villiers, oftewel Andre4x4, die reisende onderwyser Franswa Smit en Hans Strydom, ’n man wat die ene praktiese oplossings en planne is.

  • 1 Spoor Avonture word van 7 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Die groot niks

In die tweede seisoen reis die span vanaf Swakopmund al die pad tot teen die Kunene-rivier, wat die grens tussen Namibië en Angola vorm. Dis baie meer as net ’n gewone reisprogram of dokumentêr. Die aanbieder, Neil Sandilands, neem jou nie net op ’n fisiese reis nie, maar op ’n tog van sielsverdieping wat jou anders na die lewe en natuur laat kyk, terwyl die bekende en gesaghebbende stem van Ruda Landman die fassinerende feite oordra.

  • Die groot niks begin op 5 Oktober om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Koppieteefontein

Van die gaste wat saam met Jak de Priester gaan tee drink, sluit die legendariese aktrise Annelise Weiland en Danie du Toit van Spoegwolf in.

  • Koppieteefontein begin op 1 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Jan Braai

Kom toer, lag en leer saam van Suid-Afrika, ons mense en ons eeue ou gemeenskaplike erfenis – braai.

Jan Braai is terug vir ’n splinternuwe seisoen en skop af met sy 20 vure en 20 braaie vir 20 jaar van Nasionale Braaidag. Hy deel van sy beste resepte en braaivaardighede saam met kykers en gesels ook oor sy splinternuwe boek, Atmosvuur.

 

Op pad met my potjie

In Namibië is daar verskillende kulture, verskillende kosse met verskillende geure, maar een ding wat almal deel, is die liefde vir ’n goeie ou potjie. In kykNET se nuwe reisprogram, Op pad met my potjie, neem Joalette de Villiers kykers op ’n toer deur Namibië waar sy elke week nuwe geheime van die land se kookkuns ontdek – met ’n driebeenpot in haar hand.

  • Op pad met my potjie het op 30 September om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Lottoland help ’n dorp

Dorpe dwarsoor Suid-Afrika ontvang hulp in die nuwe seisoen van Lottoland help ’n dorp. Leah besoek onder meer Bonnievale in die Wes-Kaap, Fauresmith in die Vrystaat, Howick in KwaZulu-Natal en Kathu in die Noord-Kaap.

  • Lottoland help ’n dorp begin op 9 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

 

Drie splinternuwe dokumentêre op kykNET in Oktober

Dokumentêre films en -reekse word plaaslik en wêreldwyd al hoe gewilder omdat kykers ’n steeds groeiende belangstelling in die storie agter die storie het.

Eden se beskermengele 

In hierdie dokumentêr uit Namibië word daar gekyk na die buitengewone trajek van wildkrisis tot bewaringsoorwinning. Op ’n kontinent wat sukkel met die verwoestende gevolge van stropery en die konflik tussen die behoeftes van mense en die natuur, staan Namibië uit as ’n baken van hoop. Dit is ook ’n inspirerende voorbeeld van die onskatbare bydrae wat gemeenskapsgeleide bewaring kan maak.

Hierdie meesleurende film bekyk Namibië se baanbrekende bewaringspogings van nader en stel die kyker voor aan toegewyde voogde van drie bewaarareas in hierdie uitgestrekte en ongerepte land. Deur hulle oë sien ons die dringende lot van die wêreld se mees verhandelde soogdier, die ietermagô, en die laaste oorblywende, vrylopende, swartrenosters, waarvan die getalle steeds krimp.

·      Eden se beskermengele word op 5 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

 

Onthul – Wilgenhof: Trauma of tradisie?

Wat gaan aan by Wilgenhof? Die legendariese manskoshuis van die Universiteit Stellenbosch is sedert Februarie in die nuus ná daar foto’s van twee kamers in die koshuis versprei het. Die kamers was gevul met ontstellende artefakte en gerugte het begin loop oor verdagte aktiwiteite wat oor dekades daar gebeur het.

In die volgende ondersoekende program in die Onthul-reeks word daar gepoog om uit te vind wat werklik in Wilgenhof gebeur het. Daar word, onder meer, na kwessies gekyk soos tradisie, die sogenaamde “woke”-kultuur wat alles aan die groot klok wil hang, toksiese manlikheid en die vraag of die US se strewe na ’n totaal inklusiewe omgewing nie uiteindelik ’n strewe na identiteitsloosheid is nie. Dit is ook duidelik dat die twee kampe beide rigied en onwrikbaar is en nie die ander se saak wil insien nie.

  • Onthul – Wilgenhof: Trauma of tradisie? word op 6 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Koud: Anika Smit

Die 17-jarige Anika Smit se halfnaakte lyk is op 10 Maart 2010 deur haar pa in haar kamer by hulle huis in Pretoria-Noord aangetref. Sy is verwurg en het verskeie steekwonde aan haar nek gehad. Sy is ook seksueel aangerand en haar hande is by die polse afgesny en verwyder.

Tot vandag toe is haar moordenaar of moordenaars steeds op vrye voet en ’n geregtelike ondersoek is reeds vir jare in die Pretoria-Noord-landdroshof aan die gang om te probeer vasstel wie vir Anika se dood verantwoordelik is en wat presies op daardie noodlottige dag gebeur het.

  • Koud: Anika Smit word op 13 en 20 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

 

Sepies

Suidooster

 Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Imelda se doen en late in Ruiterbosch laat omtrent die wenkbroue lig. Veral haar verhouding met die veel jonger Gary begin meer en meer ingewikkeld raak, en sy doen alles in haar vermoë om ’n paar geraamtes in die kas te hou. Wade en Angie se verhouding is op die rotse. Angie is ontsteld, maar sy besluit om vrede te maak met die feit dat sy en Wade verby is. Siya ontmoet Brendan se nuwe vriend, Mo, en besef sy het ondersteuning en hulp nodig. Daar is groot nuus in die Samsodien-huis, en dit het verreikende implikasies vir almal se toekoms. Die Jacobse kom voor ’n toets te staan wat dalk selfs vir Bridgette en Nazeem gaan noop om die strydbyl te begrawe. 

 

Diepe waters

 Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Theresa word geteister deur ’n figuur uit haar verlede, en Jacques is bereid om enigiets te doen om haar te beskerm. Intussen word Charity se verhouding met Shane op die proef gestel, en ’n geheimsinnige besoeker wat by die Swart Marlyne opdaag, veroorsaak groot onsekerheid.

Tussen Lucas en René bou spanning oor sy toekoms op, en Gys deel ’n opwindende aanbod wat skielik gestuit word deur onverwagte hindernisse. Sanet stoei met haar verdriet oor Wim se dood en haar geheueverlies, terwyl sy probeer om haar lewe weer op koers te kry. Oktober bring groot uitdagings – van donker wraakplanne tot intense emosionele oomblikke wat die karakters se verhoudings en toekoms toets.

 

kykNET&kie

Skemergrond

 Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Net wanneer Ruan en Patty gereed is om ’n groot stap in hulle verhouding te neem en meer verlief is as ooit, kom Lily en krap alles deurmekaar. Lily maak ’n bekentenis teenoor Ruan wat hom geskok laat, terwyl Patty al hoe meer vermoed dat daar iets aan die gang is tussen hulle twee.

Hazel en Ronnie, aan die anderkant, se bakleiery raak al hoe erger. Eers is dit oor Junior wat dansklasse neem en dan is Hazel ontsteld oor Christine wat haar al hoe meer inwikkel by Ronnie. Het sy rede om bekommerd te wees?

Dit lyk of Gloria nou finaal dinge met Kevin wil beëindig. Kevin verstaan dit eers nie, maar dit raak baie vinnig duidelik hoekom Gloria nie meer in hom belangstel nie: Daar is ’n ander man in haar lewe.

Louis en Amber is al soveel keer gewaarsku dat hulle mekaar nie mag sien nie, maar dit pla hulle min. Hierdie keer raak Junior betrokke en help hulle ’n plan beraam om mekaar meer te sien. Louis ontvang egter skokkende nuus wat ’n hele paar inwoners se lewe onherroeplik gaan verander.

My naam is Farah

Farah Ersadi is ’n 28-jarige Iranese dokter wat onwettig as ’n skoonmaker in Istanbul werk. Sy is ma van ’n sesjarige seun, Kerimsah, wat aan ’n outo-immuunsiekte ly en as gevolg daarvan geen weerstand teen siektes het nie. Die mediese hulp wat hy nodig het, is peperduur, en Farah kan ondanks haar kwalifikasie nie as dokter in Turkye praktiseer nie. Sy werk dus as skoonmaker om genoeg geld vir sy mediese sorg te verdien.

Farah se wêreld word verder op sy kop gekeer wanneer sy die ooggetuie van ’n moord deur die plaaslike mafia word. Die mafiabaas kry vir Tahir Lekesiz om haar te vermoor, maar sal hy die opdrag kan deurvoer? Waar lê sy lojaliteit: by die mafiabaas wat sy lewe gered het toe hy ’n kind was, of by die mooi dokter en haar seun?

My naam is Farah se oorspronklike Turkse titel is Adim Farah. Dit is ’n verwerking van die Argentynse reeks La chica que limpia, wat ook ’n Amerikaanse weergawe het, The Cleaning Lady, wat op Showmax te sien is.

  • My naam is Farah begin 14 Oktober om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). 

 

Sê jou sê

Aden Thomas gaan weer kykers aan die gons hê, want daar gaan beslis nie in Oktober doekies omgedraai word oor alledaagse probleme nie. Van die gaste is, onder andere, twee vroue wat hulle ervarings met ’n rokjagter deel, en ’n groep afgetrede onderwysers wat in die strik getrap het van ’n reisbedrogspul. Vier mense van die LGBTQI+-gemeenskap deel ook hulle ervarings van diskriminasie.

 

Ses splinternuwe speelfilms op kykNET&kie

 Kykers kan vanaf 6 Oktober 2024 om 20:00 elke Sondagaand uitsien na ses vollengtefilms wat op kykNET&kie te sien sal wees. Die films vorm deel van MultiChoice Namibië se Ombura-projek.

 

Dubbel moeilikheid

Komedie

Sondag 6 Oktober om 20:00

Regisseur: Ellen Ernst Melani

Met: Mervin Claasen, Mich Gaoseb, Johan Engelbrecht, Bianca Heyns, Felicity Philander en Willem Möller

Twee onbeholpe polisiebeamptes wat ’n dissiplinêre verhoor in die gesig staar, moet hul bekwaamheid bewys deur die stad se mees berugte misdadiger vas te trek. 

 

Speel aan

Drama

Sondag 13 Oktober om 20:00

Regisseur: Errol Geingob

Met: Dawie Engelbrecht, Hazel Hinda, Lucky Pieters en Edo Dice Lutete.

’n Oud-sokkerafrigter met ’n tragiese verlede aanvaar teësinnig ’n pos om ’n sukkelende hoërskoolspan af te rig in die hoop dat dit vir hom sielsrus sal bring.

 

Ataman

Drama

Sondag 20 Oktober om 20:00

Regisseur: Lucia Kim Hamunghete

Met: Mpumelelo Malgas, Azembua Katjirua, Norman Job en Timothy Strauss

’n Jong, ambisieuse sokkerspeler laat nie toe dat sy oorlede pa se skaduwee en ’n reeks terugslae hom stuit om vir die nasionale span gekies te word nie.

 

!Dhina Boys

Drama

Sondag  27 Oktober om 20:00

Regisseur: Michael Swartbooi en Lucia Kim Hamunghete

Met: Senga Brockerhoff, Otja Kooper, Keanu Greeves, Norbert van Wyk en Joe Mulisa

Ná ’n straatroof stig ’n enkelma ’n buurtwag saam met ’n selfverdediging-instrukteur om die gruwelike planne van ’n bendeleier te stuit.

 

Die rooftog

Komedie

Sondag 3 November om 20:00

Regisseur: Hildegard Titus

Met: Roger Nino, Edo Dice Lutete, Tjiurimo Kandjii, Amy-Leigh Hammond, Joyce Sydne Tjizu, Abigail Goliath, Oscar Shilongo en Mark Kariahuua

Ernest, ’n hardwerkende jong man, sukkel finansieel, maar dan daag sy neef Sly in die dorp op met ’n plan om al hulle probleme op te los – hy wil luukse salonne in Windhoek beroof. Sal hulle daarmee wegkom?

 

Lubinda

Aksie

Sondag 10 November om 20:00

Regisseur: Leon Mubiana

Met: Fareed Du Toit, Harmony Ahalwa, Llewellyn Muenjo, Nguundja Kandjii, Filna Nalisa en Johan Engelbrecht

Nadat hy ’n lewe van misdaad verlaat het, keer Lubinda terug na die onderwêreld om sy rebelse dogter uit die kake van ’n wraaksugtige verlede te red.

·      Skakel elke Sondagaand vanaf 6 Oktober tot 10 November om 20:00 in op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) vir ses splinternuwe speelfilms

 

Bly Oktobermaand ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en kykNET&kie, kanaal 145 vir die vuurwarmste Afrikaanse vermaak!