Logo
web uni tv guide

Oppi Noot

144MusiekPG

Merke, gereed, sing! "Oppi noot" trek los in Junie

Nuus
10 Mei 2024
Terwyl sangers teen mekaar meeding, sal gelukkige kykers 'n kans kry om as lugvennote deel te wees van die program. Lees meer.
Emo Adams

Oppi noot sit die eerste noot in op 5 Junie vanjaar om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Agter dié splinternuwe, prettige musiekspeletjiesprogram is ’n bloubloed-span wat vir topvermaak gaan sorg.

In Oppi noot ding sangers teen mekaar mee in ’n reeks uiteenlopende en vermaaklike sanguitdagings. Die vervaardigers is Stemmburg Televisie, wat ook vir gewilde programme soos Noot vir noot en Musiekroulette verantwoordelik was. Johan Stemmet en die Stemmburg TV produksiespan is aan die stuur van sake.

Oppi noot is nie ’n realiteits-TV-sangkompetisie nie. Die sangers sal punte verdien vir hulle prestasie in die verskillende speletjies. Hoe meer liedjies ’n deelnemer kan sing, hoe beter. Drie sangers sal aan elke episode deelneem, en daar is in elke program kontant om te wen. Hoe verder jy na die eindronde vorder, hoe meer geld is op die spel.

Drie gelukkige kykers gaan elke week gekies word om as lugvennote aan die program deel te neem. Lugvennote wen geld na gelang van hoe goed hul sangvennote vaar.

Aan die begin van die program sing elkeen van die sangers een vers van ’n liedjie. Die eerste drie kykers wat die liedjies korrek kan identifiseer, word gekies as daardie episode se lugvennote. En die beste van alles is, jy hoef nie eens jou sitkamer te verlaat nie.

“Wat kan kykers verwag? Pret, plesier, baie gelag, lekker saamsing en iets totaal anders,” sê Emo Adams, gewilde en geliefde aanbieder van programme soos Noot vir noot en Maak my famous en nou ook van Oppi noot. “Ek het dit baie geniet dat Oppi noot voor ’n gehoor opgeneem is omdat dit gevoel het soos ’n lewendige optrede. Daar is nie deelnemer podiums nie, en dis nie ’n suit-en-tie-show nie. Dit was regtig ’n jol. Jy weet jy werk aan iets baie spesiaals wanneer selfs die kameramanne saam lag en dans. Daar was goeie kameraderie tussen die deelnemers, wat ongewoon is, want hulle is veronderstel om teen mekaar te kompeteer, maar as jy weer kyk, harmoniseer hulle saam. Dit was lieflik om te sien.”

Die sangers word deur ’n orkes, onder leiding van Jaconell Mouton, begelei. Onder die deelnemers is almal van professionele sangers tot studente, ’n projekbestuurder en ’n eiendomsagent. Hulle het egter een ding gemeen: Hulle wil wys hulle kan sing.

Emo sê dis ’n ideale program vir gesinne om saam te geniet. “Jy gaan dalk nie die liedjie ken nie, maar iemand ouer of jonger in jou gesin miskien wel. Almal gaan wil saamspeel. Wat ek ook baie van Oppi noot geniet het, is dat dit nie oor die aanbieder gaan nie, maar oor die deelnemers. Dit was groot pret om dit te doen.”

Oppi Noot begin Woensdag 5 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.