Logo
web uni tv guide

Een Keer Om Die Son

144Drama13 L

kykNET, in samewerking met Ivan en Donnalee, stel bekend “Een keer om die son”

Nuus
07 Junie 2024
"Een keer om die son" begin op 25 Junie 2024 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.
Een keer om die son article image

DIE VERVAARDIGERS

Een keer om die son is vervaardig deur Ivan Botha, Donnalee Roberts en Danie Bester, bekend vir trefferflieks soos Pad na jou hart, Stroomop en Blindelings. Dit is hulle eerste TV-reeks wat hulle onder die vaandel van 17 Films vervaardig het. Ivan is die regisseur van Een keer om die son, en hy en Donnalee is die hoofskrywers saam met medeskrywers Liani Jansen van Rensburg, Retief Scholtz en Tina Kruger van die dramareeks. Donnalee is ook in die reeks te sien.

SINOPSIS

Die aarde het ’n jaar nodig om een keer om die son te beweeg. In daardie twaalf maande kan geweldig baie, bitter én soet, gebeur.

Die nuwe kykNET-dramareeks, Een keer om die son, volg die lief en leed van een familie oor die loop van ’n kalenderjaar. Elk van die twaalf episodes beeld ’n maand in hulle lewe uit. Daar is ook terugflitse om te wys hoe hulle beland het waar hulle is. Een keer om die son vertel die verhaal van ’n gesin wat op die oog af gelukkig lyk. Ruan van Wyk is ’n neurochirurg en is getroud met Lani van Wyk. Hulle is die ouers van drie kinders: Markus, wat in matriek is, die 15-jarige Leandri, en Sophia wat 8-jaar oud is. Amé Cloete is Ruan se suster en ’n suksesvolle finansiële bestuurder. Sy is getroud met Joshua Cloete, die eienaar van ’n kunsgalery. Ruan en Amé se ouers is Sebastian, ’n insekkunde-professor, en Elma, besit ’n tuisnywerheid.

Maar dan tref ’n tragedie die familie wat tergende vrae opwerp, en alles verander oornag.

DIE SPELERS

JACQUES BESSENGER is dr. Ruan van Wyk, ’n neurochirurg. Hy probeer sy bes om ’n balans tussen sy beroep en sy gesin te kry, maar sy beroep wen telkens.

JANA KRUGER is Lani van Wyk, Jacques se vrou en ma van hulle drie kinders. Sy is die gom wat die gesin bymekaar hou.

LIAM BOSMAN is Markus van Wyk. Hy is 17 jaar oud en in matriek. Hy word gekies as die kaptein van die eerste rugbyspan, maar het ’n ander droom.

ALMA VAN HEERDEN is Leandri van Wyk, 15 jaar oud en in graad 9. Sy is ná die familietrauma geweldig rebels en doen dinge wat sy nooit voorheen sou doen nie.

KLARA VAN ZYL is Sophia van Wyk. Sy is agt jaar oud. Sy ontsnap in haar eie fantasiewêreld om sin te maak van wat om haar aangaan.

DONNALEE ROBERTS is Amé Cloete, ’n 36-jarige hoof- uitvoerende finansiële bestuurder. Sy is getroud met Joshua, maar het dit van die begin af duidelik gemaak sy wil nie kinders hê nie.

LUDWIG BINGE is Joshua Cloete (38), die eienaar van ’n galery en ’n kurator. Hy wil baie graag ’n pa word, maar is deeglik bewus van Amé se onwilligheid. 

ALBERT MARTIZ is prof. Sebastian van Wyk (67), ’n professor in entomologie (insekkunde) en Ruan en Amé se pa.

JOANIE COMBRINK is die 67-jarige Elma van Wyk, Sebastian se vrou en Ruan en Amé se ma. Sy bak vir ander mense, maar voel vasgevang en het drome om te reis.

SUSANNE BEYERS en PIERRE VAN PLETZEN is Salie en Jan Wessels, Sebastian en Elma se goeie vriende.

ALEX VAN DYK is Xavier, 17 jaar oud en in graad 11. Hy is die cool kid op skool, steur hom glad nie aan reëls nie en het ’n oog op Leandri.

"Ander spelers sluit in Simone Neethling as Charlie, die leier van die dansgroep, Lee-Ann van Rooi as dr. Beth Hendricks, hoof van neurochirurgie, Adriaan Havenga as dr. Jean Petersen, wat besig is met sy opleiding as neurochirurg, Bennie Fourie as Coach Cilliers, Antoinette Louw as Juffrou Marianne, Sophia se graad 2-juffrou, en Amalia Uys as die kunstenaar Sage Jones." 

AGTER DIE SKERMS

Die hoof van die onderskeie spanne agter die skerms is Eduan Kitching (kinematografie), Igshaan Mohamed (beligting), Sebastian Scheepers (klank), Bathoni Robinson (kunsregie), Hanri Neethling (grimering) en Barbara Brasington (kostuums).

WAT JY NOG MOET WEET?

Een keer om die son speel af in die vier seisoene van die jaar en is in en om Kaapstad verfilm. Die kleurgradering van elke seisoen is aangepas om by elkeen van die seisoene te pas – met ander woorde, herfskleure vir herfs, grys en blou vir winter, sagte pastelle vir lente, en helder kleure vir somer. Die natuur en natuurelemente speel ’n belangrike rol in die reeks.

Een keer om die son begin op 25 Junie op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar.