Logo
web uni tv guide

Een Keer Om Die Son

144Drama13 V

"Een keer om die son" se talentvolle jongspan

Nuus
15 Julie 2024
In Dinsdagaand in "Een keer om die son" is dit April en die Van Wyk-familie sukkel elk op hulle eie manier om staande te bly.
Een keer om die son

In Dinsdagaand in Een keer om die son, DStv-kanaal 144, is dit April en die Van Wyk-familie sukkel elk op hulle eie manier om staande te bly. Elma (Joanie Combrink) verras die familie met ’n Paasete uit die vreemde, maar alles loop nie volgens plan nie. Daar is struweling tussen almal en op die koop toe breek Leandri (Alma van Heerden) se pa, Ruan (Jacques Bessenger), haar hart wanneer hy haar spesiale gas uit die huis jaag.

Een keer om die son spog met heelwat jonger akteurs – sommige het reeds hulle merk gemaak, ander is besig om stadig maar seker bekendheid te verwerf.

Liam Bosman is Markus van Wyk. Liam het kleintyd reeds geweet hy wil in die vermaakwêreld werk. Sy eerste rol in ’n professionele produksie was die van jong Sampie in die fliek Vir die voëls (2016). Hy was geruime tyd die karakter Johan Swarts in Diepe waters en was ook in die dramareeks Mooiweer en warm te sien.

Alma van Heerden is Leandri, Markus se jonger suster. Alma is ’n dramastudent aan die Universiteit van Stellenbosch, maar het al die rol van jong Dina in Projek Dina gespeel en sy is in 2021 aangewys as die beste aktrise by die ATKV Tienertoneelkompetisie vir haar rol as Ass in die produksie Thomas vermoor: Die toneelstuk. Alma is ’n oudleerling van Kuswag Skool in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal.

Klara van Zyl is Markus en Leandri se jongste sussie. Klara is tien jaar oud en Een keer om die son is haar eerste dramareeks.

 

Alex van Dyk is te sien as Xavier, die tienerseun wat sy oog op Leandri het. Alex was onder meer in die bekroonde flieks Die stropers en Griekwastad te sien en is vir beide vir ’n Silwerskermtoekenning benoem as beste manlike byspeler. Hy was ook in die tweede seisoen van Alles Malan te sien.

Johannes Jordaan, wat klein Duggie speel en wie se vraatjie amper deur Sophia met ’n groentemes afgesny is, het sy debuut in ’n dramareeks as klein Andries in Nêrens, Noord-Kaap gemaak.

Anja Taljaard, wat die rol van Leandri se klasmaat en vyand Kirsten speel, was al in reekse soos Die Byl en Projek Dina en meer onlangs in Juffrou X waarin sy die rol van Shanice gespeel het.