kyknet channel logo

Prima-ribsteak met gebraaide knoffel

22 Augustus

Vir vier persone

Braai

5

Gaan julle hierdie resep probeer by julle volgende braai? 

Jan Braai recipe image
Bestanddele

4 heel knoffelbolle, verkieslik met die groot huisies

4 prima-ribsteaks, verkieslik droog-rypgemaak

olyfolie, die ordentlike ekstra suiwer goeie Suid-Afrikaanse tipe

growwe seesout

Metode

LAAT WAAI:

  1. Stook ’n baie warm vuur. Hier is groter inderdaad beter.
  2. Braai nou die knoffel. Jy kan die knoffelbolle onder lopende water afspoel en dis omtrent dit. Ons skil hulle nie; hulle gaan net so braaiplek toe. Wanneer die vuur begin om te doen wat hy veronderstel is – braaikole maak – krap ’n paar van die kole uit die vuur en pak hulle om die knoffelbolle. As jy regtig wil, kan jy selfs probeer om een kool bo-op elke bol te balanseer, maar dis nie heeltemal nodig nie. Ons doel is om die knoffel al die pad deur te bak sodat dit binne sag en pap is teen die tyd dat ons die steak braai. As ’n kool hier en daar deur die skil van die knoffel brand, is dit nie ’n krisis nie; dit karamelliseer die binnekant, gee karakter en lyk lekker op foto’s. Knoffelbolle naby aan ’n kwaai vuur, omring met rooiwarm kole, neem omtrent 30 minute om al die pad deur te bak.
  3. Haal die steaks uit die yskas wanneer jy die knoffel begin braai. As daar baie bloed of vloeistof in die verpakking is wanneer jy die steak uithaal, was (soos in reinig) die vleis met koue water en dep dit droog met ’n stuk papierhanddoek. Party mense braai steaks kort ná hulle uit die yskas kom; ek verkies hulle nader aan kamertemperatuur wanneer hulle die rooster tref.
  4. Braai die steaks oor baie warm kole vir altesame 8 minute. Draai die vleis óf een keer óf drie keer om en maak seker dat albei kante naastenby ewe lank na onder (kole se kant toe) gekyk het. Hou die horlosie dop. As jou steaks langer neem om medium-rou te word, was jou vuur (kole) waarskynlik nie warm genoeg nie. Met prima rib kan jy ook die steaks op hul sykante balanseer en die beenkant vir ’n minuut na die kole laat kyk. Voor of terwyl jy braai, kan jy ook die growwe seesout oor albei kante van die steaks strooi.
  5. Haal die steaks van die rooster af en skep op. Bedruip dadelik met olyfolie sodat die hitte van die steaks die geure in die olie vrystel.
  6. Haal die knoffelbolle tussen die kole uit en stof die as van hulle af. Bedien een hele saggebraaide knoffelbol saam met elke steak. Jou gaste kan nou die knoffel se sagte gaar vleis oor hulle steak uitdruk en geniet. Geur met nog olyfolie en sout as jy wil.
Episode 7   Kaapmalay visburger
Jan Braai
Sub Titel

Kaap-Malay vis burger

Gewildste Resepte