web uni tv guide
Hotel S5 Slim
Mooimaak_Gerda

Gerda van Tonder

Ek kom oorspronklik van Porterville, ’n klein dorpie op die platteland. Ek is getroud, met ’n seun van 11-jaar oud en dogtertjie van amper twee. Ek is ’n rekenmeester by Dole SA, ’n uitvoermaatskappy, en werk reeds 17 jaar hier.

Familie kom vir my eerste; om my gesin gelukkig te sien en te versorg is vir my baie 
belangrik.

Ek hou nie van verandering nie, en orde en roetine is vir my baie belangrik.

Van kinderdae af sukkel ek met probleemtande. Ek het meer draatjies gedra as wat ander kinders lekkers geëet het. Selfs tot op datum het ek nog gereeld probleme met my tande. Ek het sewe melktande, waarvan die permanente wortels nooit ontwikkel het nie.

Ek moes op ’n jong ouderdom begin afbetaal aan inplantate, krone ens. Waar my vriendinne geld uitgegee het op hare en klere, het ek al my geld, bonusse en spaargeld in tande belê. Ons het ook ’n special needs-seuntjie wat finansieel en emosioneel baie van ons veg, maar hy is ’n ongelooflike en liefdevolle kind, en ons is baie lief vir hom.

Ek is getroud met ’n wonderlike man, en wanneer ek vergeet om myself te bederf of om na myself te kyk, sal hy my gewoonlik verras met ’n bederf wat ek glad nie verwag het nie.

Die grootste verrassing nog was toe hy my vir hierdie kompetisie ingeskryf het. Finansieel het hy geweet ons sal nooit iets aan my tande kon doen nie. Hy weet dat al my tyd, energie en geld in die huis en kinders gaan, en hy weet hoe selfbewus ek oor my tande en voorkoms is. Ek wil nooit op foto’s verskyn nie en dit affekteer my selfbeeld. Hy het my ingeskryf sonder dat ek enige iets vermoed het.

Ek was eers kwaad, maar toe besef ek hoe baie hy vir my omgee en hoe baie hy opoffer sodat ek hierdie geleentheid kan bywoon. Ek is ewig dankbaar dat ek so ’n kans gegun word en ek weet dit gaan my lewe verander.