web uni tv guide
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Theresa se angswekkende oomblik in Diepe Waters hou kykers op die punt van hul stoele

Nuus
15 Oktober 2024
Ná weke van toenemende dreigemente en teistering het Wessel se obsessie op 'n lewensgevaarlike konfrontasie uitgeloop wat kykers geskok het.
Diepe waters



Woensdag 15 Oktober se episode van kykNET se telenovela Diepe Waters het kykers se senuwees aan flarde gehad toe Theresa (Mandi Baard) op die nippertjie uit ’n vreesaanjaende situasie met haar eksman, Wessel (Francois van Rensburg), ontsnap het. Ná weke van toenemende dreigemente en teistering het Wessel se obsessie op 'n lewensgevaarlike konfrontasie uitgeloop wat kykers geskok het.



Theresa, wat haar lewe dapper saam met Jacques (Werner Coetser) herbou het ná haar egskeiding van Wessel, het haar donkerste oomblik beleef toe Wessel in haar huis ingebreek en haar ontvoer het. In 'n yswekkende toneel het Wessel Theresa se hande en voete vasgebind en haar na 'n swembad gesleep, vasbeslote om haar lewe te beëindig met die woorde: “As ek jou nie kan hê nie, kan niemand jou hê nie.” Hy het haar in die water gegooi, met die doel om haar te verdrink.



Soos die toneel ontvou het, het kykers met ingehoue asem gekyk, bang vir die ergste. Maar in ’n onverwagse wending het Jacques betyds opgedaag, in die swembad ingeduik en Theresa gered van wat 'n tragiese einde kon wees.

Die toneel waar Wessel vir Theresa probeer verdrink, was vir Francois baie moeilik om te skiet. “Ek en Mandi het mekaar goed opgesweep voor die kameras begin rol het, om seker te maak ons laat reg aan die skrywers se visie vir storielyn geskied. Want daar is mense wat hierdie realiteit daagliks in die gesig staar en ons wou dit so eerlik as moontlik uitbeeld.”



“Dis die toneel wat my nog die meeste angstig in my loopbaan gemaak het,” meen Mandi. “Die manier waarop die produksiemense met my daardeur gepraat het en feit dat hulle my die opsie gegee het om ‘n stunt double te kry, het baie gehelp.”

Daar was ‘n mediese persoon en ‘n waaghals-koördineerder op stel, wat ook gehelp het dat sy meer op haar gemak voel. “Francois was so versigtig om my nie seer te maak nie, dat ek vir hom moes sê hy kan my harder gooi,” vertel sy.



Vir Francois was dit ’n uitdaging om so ‘n donker karakter te speel. “Wat Wessel doen en hoe hy optree is verkeerd. Hy is jaloers en besitlik en hy manipuleer Theresa om sy sin te kry,” meen hy. “Ek dink diep binnekant gee hy eintlik vir haar om, maar hy wys dit op die verkeerde maniere as gevolg van misplaaste liefde. Hy raak dan obsessief en desperaat as hy sien dat hy haar nie kan terugkry nie. Die uitdagendste deel was om by daai donker, emosionele plekke uit te kom wat die karakter verg,”



Hierdie aangrypende episode het die uiterstes van vrees, liefde en oorlewing gewys en kykers gretig gelaat om te sien hoe Theresa in die nadraai van haar angswekkende ervaring sal herstel.

Diepe Waters word Maandae tot Donderdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dis ook op DStv Stream beskikbaar.