kyknet channel logo

NFVF kondig aan dat 'Old Righteous Blues' Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 97ste Oscar-toekennings is

Nuus
10 Oktober 2024
Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (National Film and Video Foundation oftewel NFVF) is trots om aan te kondig dat die speelfilm Old Righteous Blues gekies is om Suid-Afrika in die kategorie beste internasionale rolprent by die 97ste Oscar-toekennings te verteenwoordig.
Old Righteous Blues

Hierdie merkwaardige prestasie is ’n refleksie op die merkwaardige talent en kreatiwiteit van die Suid-Afrikaanse filmindustrie, asook die vermoë om stories te vertel wat oor wêreldgrense resoneer. Die Oscars word sedert 1929 deur die Academy of Motion Pictures Arts and Sciences (AMPAS) aangebied.

Die besluit is geneem deur die Suid-Afrikaanse Oscar-toekennings keurkomitee ná ’n uitgebreide beoordelingsproses, wat puntetoekenning en indiepte gesprekke ingesluit het. Hierdie jaar se komitee, wat deur die AMPAS goedgekeur is, het bestaan uit ervare rolspelers uit verskeie velde in die filmbedryf.

Elkeen van die Suid-Afrikaanse films wat voorgelê is, is geëvalueer volgens AMPAS se kriteria vir beste internasionale rolprent. 

Old Righteous Blues is die roerende verhaal van ’n jong man, Hantjie Jansen, se droom om sy gemeenskap te herenig. Op Kersdag 1997 ontvang Hantjie opwindende nuus. Sy Oom Jakwes, wat jare lank die Kerskoor se trommelmajoor was, tree af. Hantjie droom van kleintyd af daarvan om trommelmajoor te word, maar die bejaarde koorleiers wil niks daarvan weet nie.

Twintig jaar gelede het sy pa ’n keuse gemaak wat die geliefde Old Righteous Blues Kerskoor in twee geskeur het. Toe twee vyandiggesinde groepe daarna ontstaan, het dit twis en vernietigende geweld in die gemeenskap veroorsaak. ’n Generasie later is daar ’n nuwe gevoel van eenheid in die land ná die eerste demokratiese verkiesing. Dit kan die geleentheid wees vir Hantjie om die gemeenskap te herenig en sy droom te verwesenlik, maar dit sal ’n titaniese stryd verg – en nie net om trommelmajoor te word nie. Dis ’n Romeo en Juliet-storie in Robertson in die Wes-Kaap, gekruie met liefde, begeerte, ambisie en die verskrikking van ’n ou vete.

In die rolverdeling is ondere meer Ayden Croy as Hantjie, Ivan Abrahams as Oom Sampie, Joshwin Dyson as Elvin, Stefan Erasmus as Kristof en Talia Davis as Elzette. 

Volgens die bekroonde regisseur Muneera Sallies is die film ’n intense kykie na die lewe van ’n jong man, familie en gemeenskap. “Meer nog, is dit ’n kykie na broederskap en verhale van pyn, liefde, drome en waagmoed. Ek was aangetrokke tot hierdie projek van die eerste oomblik wat ek die draaiboek opgetel het. Ek was nuuskierig en vasgevang deur die karakters en hulle stories in hierdie gemeenskap, so te sê so dat ek dadelik besluit het om Bo-Dorp in Robertson te gaan besoek.” 

“Die wêreld wat in Old Righteous Blues ontvou, is magies en uniek aan die plattelandse dorpies van die Wes-Kaap waar dit verfilm is,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale. “Die verhaal wys die rykdom van Suid-Afrikaanse erfenis en ondersoek universele tema’s soos veerkragtigheid en identiteit. Hierdie Kerskore- en -orkeste bring vreugde en hoop en die film vang dit vas met grasie, warmte en humor. Ons is verheug vir die spanne wat by hierdie pragtige film betrokke is en Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiging by die Oscars van 2025 sal verteenwoordig.”

“Hierdie rolprent is kenmerkend van die merkwaardige talent wat Suid-Afrikaners het om stories te vertel,” sê Lebogang Mogoera namens die NFVF. “Ons is geëerd dat Old Righteous Blues ons land op hierdie prestigeryke internasionale platform gaan verteenwoordig. Ons glo die universele tema’s van gemeenskap, vergifnis en die vermoë om die verlede te oorkom, gehore wêreldwyd sal raak.” 

Old Righteous Blues, wat deur Indigenous Film Distribution versprei word en deel was van die kykNET Silwerskermfees in 2023, is ’n refleksie van die komplekse en soms pynlike dinamika van gemeenskap, verlede en vergifnis. Die film was ’n passie-projek vir 30 jaar vir die skrywer, Carol Shore, en beloof om ook die harte van internasionale kykers te raak. 

Nomsa Philiso, die MultiChoice-groep se uitvoerende hoof van algemene vermaak, sê: “Die omgewing waarin die film afspeel, is volbloed Suid-Afrikaans en die betowerende draaiboek gee ’n unieke en deernisvolle blik op eenheid en hoop te midde van verskille. MultiChoice is toegewyd daaraan om stories uit Afrika – vervaardig en geskryf deur Afrikane – te vertel en dit met die res van die wêreld te deel en waar ons, met reg, skouer-aan-skouer staan met die res van die inskrywings vir die Oscar-toekennings.” 

Old Righteous Blues het reeds elf toekennings gewen by die kykNET Silwerskermfees, Romford Film Festival 2024 en Panther City Film Festival. Van die toekennings sluit in beste manlike byspeler: Silwerskermfees vir Joshwin Dyson, beste regisseur: Romford Film Festival vir Muneera Sallies, beste akteur: Romford Film Festival vir Ayden Croy en beste manlike byspeler: Panther City Film Festival vir Stefan Erasmus. 

Die NFVF wens die spelers en almal agter die skerms geluk met hierdie merkwaardige film. Die inskrywing van Old Righteous Blues vir die 97ste Oscar-toekennings is net nog ’n mylpaal in Suid-Afrika se groeiende aandeel in die internasionale filmbedryf. Ons sien uit om saam met die Old Righteous Blues-span hierdie opwindende pad te stap. Die top-11 benoemings in die kategorie beste internasionale rolprent word op 17 Desember 2024 bekend gemaak en die finale vyf rolprente wat vir die Oscar-toekenning benoem word, word op 17 Januarie 2025 bekend gemaak. 

Oor die NFVS

Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) is deel van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur en is begin om groei in die filmindustrie te bevorder. Die NFVF doen dit deur befondsing te gee vir die ontwikkeling, produksie, bemarking en verspreiding van films, asook die opleiding en ontwikkeling van filmmakers. Die NFVF laat ook navorsing doen oor statistiek in die filmindustrie wat deur alle rolspelers gebruik kan word. 

  • Jy kan dit ook vanaf 20 Oktober op BoxOffice vang.