kyknet channel logo

Formidabele vroue: Huldeblyk aan Martie Retief Meiring

Nuus
11 Oktober 2024
"Formidabele Vroue: Martie Retief Meiring" word op Saterdagaand 12 Oktober om 21:00 op kykNET uitgesaai.
Martie Retief Meiring

Foto deur Natalie Gabriels

Sy was ’n baanbreker en kampvegter. ’n Joernalis wat veral vir ander vrouejoernaliste die pad oopgemaak het. ’n Brugbouer, kultuurskat en iemand wat met dieselfde aandag kon praat met ’n akademikus as ’n student. In kort: Martie Retief Meiring was ’n formidabele vrou.

Op 12 Oktober, ook die dag van haar begrafnisdiens in Stellenbosch, saai kykNET die program Formidabele vroue: Martie Retief Meiring om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit, met ’n herhaling om 15:30 op Sondag 13 Oktober.

By die pas afgelope Toyota Stellenbosch Woordfees het Martie die Woensdag geval en is sy in die hospitaal opgeneem, maar Saterdagaand het sy finaal gegroet. Martie sou in Desember 90 jaar oud geword het.

“Daar was maar een soos Martie. Sy wat ’n sweefstok so goed kon balanseer,” skryf ’n jare lange vriendin, die uitgewer Hettie Scholtz, op Facebook.

“Martie Retief Meiring was vir 52 jaar vir my ’n vriendin en ’n mentor. Van kardinale proporsies,” skryf die skrywer René Conradie. “Maar hierdie verlies strek wyd en raak vele mense en vlakke aan. Tot op hede nog (sy sou op Boxing Day 90 geword het) skerpsinnige (altyd net duskant skunnige) rubriekskrywer vir Die Burger en prominente burger en raadgewer van Stellenbosch. Oor al die jare het ek voet by stuk gehou dat sy die mens is wat die vlugste van verstand is wat ek ooit ontmoet het. Daarby het sy wysheid, mense-insig en ’n verstommend ratse humorsin gehad. Sy kon iemand vinnig opsize en nie gebluf word deur vertoon of vermaak nie.”

“Martie Meiring het ’n hele generasie jongmense, veral vroue en baie wat ek persoonlik ken, geïnspireer om meer te wil wees. Om nie ondergeskik te wees nie. Om voor te vat. Kyk maar net na haar eie kind. En sy was nog altyd net dáár, Martie Retief Meiring. By die aksie, by die toneel, op die toneel. Immer op soek na ’n storie en die perfekte sin. Joernalis tot die einde toe,” het Nadine Petrick in INK, die Woordfees se feespublikasie geskryf.

Martie was getroud met die argitek en kunstenaar Hannes Meiring, wat in 2010 oorlede is. Hulle dogter, Kabous, is veral bekend as die aanbieder van Prontuit, een van kykNET se aktualiteitsprogramme.

Die Formidabele mense-reeks het al verskeie groot name as onderwerp gehad, onder andere, F.W. de Klerk, Mangosuthu Buthelezi en Louis van Niekerk.

Formidabele Vroue: Martie Retief Meiring word op Saterdagaand 12 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai met ’n heruitsending op 13 Oktober om 15:30.