web uni tv guide
Boer soek 'n vrou S16 Slim BB
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144RealiteitPG13

Boer soek ’n vrou: Marciel se opvolger is...

Nuus
17 Oktober 2024
Die gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se 17de seisoen skop nie net af met ’n nuwe oes boere nie, maar ook met ’n splinternuwe aanbieder.
Boer soek 'n vrou

Marciel Hopkins was die afgelope vier jaar die Kupido wat derduisende kilometers gereis het om boere hul lewensmaats te help vind. Nou is dit die aktrise Reandi Grey se beurt om die boodskap van liefde en hoop op potensiële lewensmaats te help versprei.



kykNET het die nuus op Donderdag 17 Oktober, ná die finale episode van die afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou, op die kanaal se joernaalprogram Bravo! gebreek.

“Vir jare en jare – dit was soos my industry bucket list – was dit wat ek wou doen,” het Reandi in ’n onderhoud aan Marciel verklap.

Marciel, wat ook al ’n geruime tyd mede-aanbieder van Bravo! is, sê sy het soveel vrede en rustigheid in haar hart met die wete dat Reandi die leisels by haar oorneem.

Reandi is nie ’n onbekende vir TV-kykers nie. Sy vertolk immers die rol van Anja in Diepe waters sedert 2022, maar daar was ook verskynings in Legacy en 7de Laan. En deesdae maak sy ook naam met haar klerereeks, Sonder Reëls.



Ja, erken Reandi, sy wou in ’n stadium, toe sy jonger was, ingeskryf het vír ’n boer op Boer soek ’n vrou, want haar grootwordjare op haar oupa se plaas was haar alles.

Soggens was dit sy en die windbuks wat koers gekies het om die vinke uit te dun wat haar oupa se bome uitgeroei het. En dan was daar eiers uithaal en varke kosgee, en toe sy ouer word, wou sy met alle geweld net pláás toe.

Maar haar eie liefdespad het ’n stokkie daarvoor gesteek, want haar man, Dewald, was toe nie ’n boer nie. Toe begin die droom van aanbieder vir Boer soek ’n vrou.

Dit het nie in haar skoot geval nie, inteendeel. Dit het smeek en pleit en planne vyf-uur die middag in ’n parkie gekos om haar oudisievideo by die reeks se vervaardigers te kry. Toe sy twee weke later Kaap toe gevlieg word vir ’n opvolg-oudisie, het sy gedink sy was suksesvol. Tot sy besef daar’s tientalle ander wat vir dieselfde pos oorweeg word.

Maar toe kom daardie oproep twee weke later met die beste nuus ooit. Die les wat sy hieruit geleer het, is om voluit te gaan vir dit wat jy wil hê.

Sy is die sewende aanbieder van hierdie gewilde reeks. Haar voorlopers is Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen, Leah van Niekerk en dan natuurlik Marciel.

Reandi is die ma van twee dogtertjies, en sy sê dit was een van die faktore wat haar aanvanklik benoud gemaak het, maar sy glo dat sy dit kan hanteer. En Diepe waters? Sy wil nie te veel verklap nie, maar sê dis nie die einde van die pad vir Anja nie.

Hoe voel Reandi oor die liefde?

“Jy moenie verwagtings hê nie, want daar was soveel verskillende mense, verskillende ouderdomme, seisoene in jou lewe. Dit gaan daaroor om jouself oop te maak, want dan kan jy verras word en kan wonderwerke gebeur.”

Sy het aan Marciel erken sy is ook nie ’n roetine-mens nie. Van die goed wat haar opgewonde maak oor haar Boer soek ’n vrou-pad is die wete dat daar soveel goed gaan gebeur waarvoor sy glad nie beplan het nie.

“Kinderlik opgewonde,” het sy alles in ’n neutedop aan Marciel opgesom.

En met ’n paar uitstekende mode- en reiswenke van die gesoute uittredende aanbieder, Marciel, is Reandi nou meer as gereed om die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou met ’n vars briesie tot binne in jou voorkamer te bring.

Die toptienboere vir die 17de seisoen sal op 29 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op kykNET (DStv-kanaal 144) aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.