web uni tv guide
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13
KV2 Deelnemer Melissa Vorster11

Melissa Vorster

Naam: Melissa Vorster
Ouderdom: 39
Tuisdorp: Krugersdorp
Beroep: Tuisbly Mamma

Hoekom dink jy is jy ’n goeie kandidaat vir die kykNET-program Kunsvlyt?
Van kleins af was ek al ewig besig met kuns-aktiwiteite. Eers het ek agter die gordyne op my ma se mure geteken, en later selfs my eie papierpoppe en bykomstighede gemaak.

Na skool het ek mode-ontwerp gaan studeer. Trourokke is groot projekte en baie tydrowend, veral met my twee jong kinders. Ek vind dat enige tipe kunsvlyt-projek vir my ’n goeie uitlaatklep is vir my kreatiwiteit.

2018 gaan my jaar wees, en ek wil graag iets doen wat my uitdaag op ’n kreatiewe vlak, want Graad 1-skooltake stimuleer my glad nie!

Watter tipe kunsvlyt doen jy en wat geniet jy die meeste?
Ek persoonlik geniet vilt- en papier-kunsvlyt die meeste. Dit is meestal drie-dimensionele-projekte.

My kinders se partytjies is ’n fantastiese geleentheid vir my om alle tipe kunsvlyt te beoefen. Ek maak dan alles, insluitend die koek, dekor, geskenkies, en selfs ’n uitrusting wat by die tema van die partytjie pas.

Hoe gereeld doen jy kunsvlyt?
Daar is daagliks ’n kreatiewe projek in my huis aan die gang, hetsy ’n handgemaakte kaartjie of bogenoemde skooltake.

Ek behoort aan ’n kunsvlyt-klub wat twee maandeliks bymekaar kom. Met elke ontmoeting leer ons ’n nuwe vaardigheid soos mosaïek, die maak van rubberstempels, syskerm-drukwerk, Annie Sloan se krytverf-tegnieke en nog vele meer

Watter ander stokperdjies beoefen jy?
Ek lees graag – enigiets van tydskrifte tot die agterkant van sjampoo-bottels, maar my gunsteling is boeke oor die Tweede Wêreld Oorlog.

Een van my gunsteling tydverdrywe is sosiale media, veral Pinterest en Instagram.

Ek is ’n amateur-fotograaf, maar wil graag verder daarin spesialiseer.

Ek gaan voor my veertigste verjaarsdag leer gholf speel!

Wat is die grootste passie in jou lewe?
In my jonger dae was my ontwerpbesigheid my groot passie – daar is niks meer bevredigend as om ’n stralende, gelukkige bruid in haar droomrok te sien en jy weet jy was daarvoor verantwoordelik.

Alles het in ’n oogwink verander toe hulle Luka op my bors neergelê het; ek het geweet my kinders sal nou my grootse passie word. Dit is ’n groot voorreg om jou kinders te sien groot word, maar elke kreatiewe ma sal verstaan hoekom ek vir Kunsvlyt inskryf.

Vertel ons meer van jou gesin/familie.
Ek is dié jaar tien jaar getroud met my entrepeneur-man, Steve. Ons het twee kinders Luka (7) en Ben (6). Ons bly op ’n plot met agt honde, twee katte, twee varke en baie hoenders.

Ek is die tweede van vier kinders, en ons almal bly binne 50 kilometer van mekaar. Ons kom gereeld as ’n familie bymekaar. Dit is gewoonlik soos ’n groot Griekse troue – almal praat en lag gelyk!