Julia is toenemend besig om meer inkennig te word en staan wantrouig teenoor die lewe – ’n sneltrein vol chemikalië wat die heeltyd dreig om te ontspoor. Sy is sinies en maak daarop aanspraak dat die lewe haar iets skuld.
Kliek op ‘LEES MEER’ indien jy meer wil weet van Julia.
Sy sien nie die prag en praal wat haar omring nie. Haar bitterheid en veragting teenoor haar pa is verblindend – haar lewe lank wil sy net hê hy moet erken wat hy gedoen het, maar sy ontkennning het al die respek wat sy vir hom gehad het laat kwyn. Tog, was sy as kind en tiener die een wat die heeltyd na sy aanvaarding en goedkeuring gesmag het, iets wat in haar volwasse lewe nie verander het nie. Alhoewel Julia vasgevang is in haar mens, het sy tog die vermoë om verskillende rolle suksesvol te speel. Wanneer sy egter die voordeur toemaak, laat val sy alle skanse en is Wouter altyd daar om haar by te staan en te ondersteun.
Haar belangstelling in ander mense is al so verwyderd dat sy telkens tydens ’n gesprek net ander mense se monde sien beweeg, terwyl sy in haar gedagtes verdwyn.
Haar selfsugtige verhouding teenoor haar man Wouter is, soos sy dit stel: “Net wat ek nodig het.” Nog voor hulle getroud was, het sy hom meegedeel dat sy weens ’n mediese kondisie nie kinders kan verwek nie. Dis ’n infame leuen – sy wou nog nooit kinders hê nie – tog het hy met haar getrou en is hy die anker en baken wat haar pa nooit was nie. Tog kan sy dit nie altyd sien nie.
OP HAAR BESTE:
’n Ontfermende moeder wat sonder voorbehoud haarself deel.
OP HAAR SLEGSTE:
’n Verbitterde viswyf wat niks en niemand sal ontsien om haarself te beskerm nie.
WAT WIL SY HÊ?
“Om nie elke dag as ek op te staan nie. Hierdie is nie ek nie, dis iets wat ek geword het.”
WAT KRY SY?
Die kans om haarself te konfronteer, haar innerlike krag te ontdek en ’n bydrae te maak.
VERHOUDING MET BEN:
“Ek dink vir my pa was ons dogters dalk bloot pensioenvreters. Ek dink nie ek het hom regtig geken nie en wat ek van hom geweet het, het ek nie van gehou nie.”