Roberto Kyle het al jare gelede in kykers se harte ingekruip met sy onvergeetlike rol as Lee-Roy in Arendsvlei en is nou weer elke weeksdag te sien op kykNET in die immergewilde- sepie, Binnelanders. Dié akteur het egter ook talle ander rolle losgeslaan in die laaste dekade in films soos Eye in the Sky, The Dark Tower en Sons of the Sea.
Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?
My selfoon en ’n pot Johnson & Johnson aqueous cream gaan ten alle tye saam met my werk toe (I was never ready for Johannesburg’s dryness). Hierdie bly in my kleedkamer agter, maar wat ek wel (sonder twyfel) stel toe moet vat is my teks. Dit stel my altyd maar net gerus om te weet dis naby as ek dit sou nodig kry.
Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom?
Dis nie dat hierdie karakter my “gunsteling” was om te speel nie, maar eerder dat die geleentheid en alles wat gepaard gegaan het met die gig een van my gunstelinge was; maar om Gabriel in Sons of the Sea te kon speel is een van my favourites. Alles rondom die verfilming van die storie het vereis dat ek myself moes challenge in ‘n manier waarin ek nog nooit moes nie.
Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom?
Peach in Clickbait: Unfollowed is beslis een van die moeilikstes nog: Die karakter is ontwikkel en gebaseer op stereotypes. En dit was maar altyd net belangrik vir my om daarteen te speel en om integriteit na my keuses toe te bring. Ek moes dit ook in ‘n Amerikaanse aksent doen.
Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur of persoon op stel wat jou geïnspireer het?
“Kies waarin jy jou hart sit, só breek dit nie met elke keuse nie.” Lorcia Cooper, ń gesoute long-format aktrise, het onlangs vir my dit gesê. Sy is self bekend met die sepie wêreld, en verstaan dat nie al jou keuses gebruik sal of kan word nie, want long-format het eenvoudig soms nie die tyd om keuses te explore nie.
Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag?
Met Lorcia Cooper! Sy was nog altyd ‘n hero van my!
Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?
Brett Michael-Innes se Fiela se kind is een van my gunstelinge. Ek was aanvanklik deel van die geselskap maar moes weens omstandighede onttrek. Ek love wat Brett met die film gedoen het, en ń groot droom van my is om eendag iets mooi saam met hom te kan maak.
Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?
Ek gaan gym toe!
Wat is jou motto in die lewe?
Wat is die punt daarin om die vrede te probeer bewaar, as die vrede wat ons bewaar, nie ons s’n is nie?
Ek vra myself konstant hierdie, dit gee konteks aan wat belangrik is in my lewe; wat die moeite werd is om voor te fight, en wat nie.
As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?
David Samaai. My eerste skool koor begeleier en ook oud-skoolhoof van William Lloyd Primêre skool. ’n Paarliet, en ook die eerste nie-blanke wat Suid-Afrika by Wimbledon verteenwoordig het.
Mnr. Samaai was een van die eerste celebs wat ek (toe ek 6 was) ontmoet het. ’n Ongelooflike nederige persoon wat die wêreld rondom hom ń beter plek wou maak. En hy het. Nie net ’n tennis-legende nie, maar ook bekend vir sy musikale talente; mnr. Samaai was ’n lig van hoop aan die gemarginaliseerde gemeenskap van Paarl. ’n Unsung hero. En sy storie moet eendag vertel word.
Skakel elke weeksdag om 19:30 in op kykNET vir Binnelanders en stroom Sons of the Sea sowel as alle episodes van Arendsvlei op Showmax.