web uni tv guide
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama13

'Nêrens, Noord-Kaap Deel II" se Ilse Klink: “Maggie is beskermend oor haar seuns, ál haar seuns”

Nuus
30 Oktober 2024
Ilse Klink se talente is so wyd soos die horisonne van die Noord-Kaap. Sy was in musiekblyspele soos Chicago en Mamma Mia! en ernstige teaterstukke soos 'Kristalvlakte' en 'Krismis van Map Jacobs'.
Ilse Klink

Op TV en in film kan sy enigiets van drama tot komedie doen en haar vertolking van Maggie in Nêrens, Noord-Kaap het haar in die harte van kykers ingespeel. 

Maggie is een van die mees geliefde karakters in ’n Suid-Afrikaanse dramareeks ooit. Sy is ma vir almal, amper vir die kykers ook, en vroue soos sy is die fondasie vir soveel families. Wat sal jy die meeste van haar onthou? 
Ja, Maggie is alles dit. ’n Baie liefdevolle vrou wat eintlik die vroulike hoof van daardie familie is. Ek dink wat ek die meeste van haar gaan onthou, is dat sy sterk is en nie op haar mond geval is nie. Sy noem ’n ding op sy naam, praat die waarheid en sy sê dinge wat mense nie wil hoor nie. Maar sy is ook baie beskermend oor haar seuns, ál haar seuns. Sy is regtig die toonbeeld van ma-wees. Ook ’n vrou wat in Deel II haarself en haar onafhanklikheid vind en meer word as net ’n ma vir hierdie volwasse mans. Maggie kry haar plekkie in die son. 

Maggie en ou Lourens (Frank Opperman) het ’n baie spesiale verhouding en van jou en Frank se tonele is ontsettend hartroerend. Hoe was dit om teenoor hom te speel? 
Frank is een van die mees spesiale mense wat ek ken. Hy is so ’n wonderlike mens. Ons werk altyd baie lekker saam en hy laat my lag. Hy is ’n interessante mens en sy manier van goed doen, is wonderlik. He is a very special human being. Met die uitsending van die eerste seisoen, het ek en Frank om die draai van mekaar in Johannesburg gewoon en ons inkopies by dieselfde Spar gedoen. Ons het altyd gespot dat as ons mekaar daar raakloop, gaan ons in karakter gaan - hy Lourens en ek Maggie - en dan gaan ons ’n toneel uitspeel. Ongelukkig het dit nooit gebeur nie en nou woon hy in die Kaap. 

Frank is regtig spesiaal en dit was maklik om teenoor hom te speel, want hy het Lourens so spesiaal gemaak - hulle verhouding, vriendskap en omgee vir mekaar. Dit was maklik om te speel juis omdat ons so goed oor die weg kom. Ek is baie lief vir Frank. Hy is ’n juweel. Hy gee werklik om vir mense en ek dink dit is wat oorkom op kamera. Dit was ’n besondere spesiale tyd. 

Jou CV en talente is te veel om te noem. TV, verhoog, musical, films. Hoe hou jy die balans? 
Dis moeilik om balans te hou, maar as ek sien dat ek nou te veel televisie gedoen, sal ek teater doen. Afrikaanse teater is my eerste liefde. Ek sal baie graag ernstiger Afrikaanse teater in 2025 wil doen, maar ons sal sien. Ek doen dit soos die werk kom en kies nie die een bo die ander nie. 

Wat was vir jou die hoogtepunte met die maak van Nêrens, Noord-Kaap
Die mense agter die skerms. Nie net die akteurs nie, maar almal aan die produksiekant ook. Die mense wat op Nêrens gewerk het, is die spesiaalste mense wat ek al ooit mee gewerk het. Daar was ’n gevoel van vrede en kalmte. Almal het mekaar vasgehou. Dit was die ongelooflikste ondervinding. Daar was nooit enige spanning op stel nie. Dis ’n voorreg om in die Noord-Kaap te skiet en dit was ook ’n hoogtepunt. Dit gee jou ’n sin van wat hierdie reeks moet wees. Ons kon daardie rustigheid oorbring op die skerm, want dit is werklik hoe dit was. 

Die reeks is met tye hartseer en kykers erken dat die sakdoek altyd naby is. Maar daar is tog ook ligte oomblikke. Was daar enige snaakse oomblikke wat agter die skerms gebeur het?
Albert Pretorius is ’n grapjas en as ons tonele gedoen het, het hy soms ná die toneel klaar was, aangegaan en snaakse goed gesê het. So die stel was baie rustig, maar met Albert daar, was daar altyd iets om oor te lag. Ek is baie lief vir hom. 

Was vir jou die mooiste van die Noord-Kaap? 
Die rustigheid. Elke deel van Suid-Afrika het sy mooi, maar ek dink die Noord-Kaap se stilte en die wye uitspansel is wat dit so spesiaal maak. Vroegoggend is daar ’n stilte wat so mooi is. 

Sonder om iets weg te gee, wat kan kykers van die res van die reeks verwag? 
Hou die tissues byderhand. Ek dink harte gaan nog breek. Dis al wat ek gaan sê. 

Wat is jou drome vir 2025? 
Hierdie jaar het ek ’n plek bereik waar ek meer tyd saam met my familie wil deurbring. Ek is van Augustus al rustig en ek besef ek is bevoorreg om dit te doen. Ek mis my mense, my ouers, my kinders. So dis ook my droom vir 2025 en hoekom ek meer teater - dalk feeste? - wil doen juis sodat ek meer tyd by hulle kan wees. 

  • Nêrens, Noord-Kaap Deel II wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar.