kyknet channel logo

'Klubhuis': ’n Inspirerende kyk na klubrugby in Suid-Afrika

Nuus
18 November 2024
Hulle het sy oog sommer oopgeslat. ’n Stukkie watte word met kromverbinde vingers teen die sny gehou. Maar hy glimlag, want klubrugby is nie bloot ’n tydverdryf nie. Dis nie net bloed, sweet, snye en gekneusde vlees en egos nie. Dis om te lewe, of minstens aan ’n ganse gemeenskap lewe te gee.
Klubhuis

Klubhuis, ’n nuwe dokumentêre reeks oor klubrugby wat op 13 Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, wys dat provinsiale en nasionale rugby nie die enigste been van die sport is wat aanhangers hulle kele laat hees skreeu nie. Klubhuis neem kykers op reis na die hartkamers van die Suid-Afrikaanse rugbylandskap, waar die waardes van rugby – spanwerk, dissipline, en respek – gemeenskappe op, en veral van die veld af, saamsnoer en vir nog ’n dag laat kans sien.

Die vervaardigers van Klubhuis het die land vol gereis agter klubrugbystories – van Saldanha tot Hawston, van Thabazimbi tot Vanwyksvlei. Die reeks van ses episodes is oor die bestek van meer as ’n jaar verfilm. Daar is gevind dat derby-Saterdae en skemeroefensessies deel uitmaak van daar waar die trane afgedroog word en die oorwinnings gevier word – die klubhuis. 

Vir baie van die spelers is klubrugby ’n tuiskoms, ’n uitkoms, ’n droom om raakgesien te word en eendag ook op die groot velde van die land en die wêreld te speel. Op Hawston duskant Hermanus is die voormalige Springbok Gio Aplon die goue seun wat vir menige jong speler steeds ’n inspirasie is. Op Prins Albert predik Jason Jaftha, ’n voormalige beroepskeidsregter, rugby uit sy reëlboek en aan die skadukant van Johannesburg is die Raiders, ’n klub wat glo aan die ontginning van geleenthede en tweede kanse. 

Die ses klubs en die datums waarop dit uitgesaai word is as volg: 

  • 13 Desember 2024 – Saldanha
  • 20 Desember 2024 – Northam Rhinos
  • 27 Desember 2024 – Prins Albert
  • 3 Januarie 2025 – Vanwyksvlei
  • 10 Januarie 2025 – Hawston
  • 17 Januarie 2025 - Raiders

Klubhuis begin op 13 Desember om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.