web uni tv guide
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama13

Die gogga het gebyt, sê 'Nêrens, Noord-Kaap' se Arnold

Nuus
20 November 2024
Hy was nog ’n pikkie toe Arnold Swart die rol van klein Lourens in Nêrens, Noord-Kaap gekry het. As daar nou ’n jong akteur is wat homself in die harte van kykers gespeel het, is dit hy.
Nêrens, Noord-Kaap Deel II

As jy terugdink aan die oomblik wat jy gehoor het jy het die rol van klein Lourens gekry, wat is die eerste ding waaraan jy dink?
Wel, ek was maar net 11 jaar oud. So, my kop het dadelik gegaan na: ek gaan op TV wees! 

Klein Lourens gaan deur geweldig baie in die tweede reeks. Hoe het jy voorberei?
Ek het gehoor dat om die draaiboek ’n paar keer deur te lees nie ’n slegte idee is nie. So, dis presies wat ek gedoen het. Ek het seker gemaak ek weet waar Lourens se highs en lows hom deur die loop van die 13 episodes gaan tref. Ek was in daardie stadium besig met my laaste graad 8-eksamen. (Ek kry tuisonderrig.) En om die draaiboek te lees was natuurlik baie beter as om vir wiskunde te leer. Haha!

Wat het jy die meeste uit die hele proses geleer?
Daar’s so baie goed wat ek geleer het! Ek het maar net weer eens besef dat hierdie is wat ek vir ’n lewe wil doen. Enigiets te doen met stories.

Wat was vir jou die hoogtepunte met die maak van Deel II?
Om almal van Deel I weer te kon sien. Om as een groot familie weer saam te kon wees. Dit was ook baie lekker om saam met die nuwe spelers in Deel II te kon speel.

Wat het jy by die ander spelers gekry? Beste raad? Ondersteuning? Humor?
Ek het orals iets gesteel, maar veral ongelooflik baie by Albert Pretorius en Daneel van der Walt geleer. By Albert het ek geleer hoe belangrik dit is om jou karakter goed te ken. Hy is letterlik die koning van improvisasie en hou jou altyd op jou tone. By tannie Daneel het ek geleer hoe om te luister; hoe om jou mede-akteur in die oë te kyk en net in die oomblik te wees en te reageer op wat hulle sê en doen. Albei van hulle is amazing, en ek’s baie dankbaar dat ek weer saam met hulle kon speel.

Watter graad maak jy hierdie jaar klaar en wat is jou stokperdjies?
Graad 9. En swem, surf en scuba som my basies op. Alles met die see te doen. Ek speel ook klavier. 

Droom jy daarvan om akteur te word?
Definitief! Die gogga het my gebyt. Ek wil ook graag eendag ’n skrywer word.

Die liedjie wat aan die begin van die mandjiesdans speel, is Theuns Jordaan se “By jou”. Dis ’n passende toeval, want episode 10 word drie dae ná die driejaarherdenking van sy dood uitgesaai. 
 

Wat is die belangrikste dinge wat jy by die skrywer en regisseur Nico Scheepers geleer het?
Hoe om die waarheid te praat. Ek het by hom geleer hoe om nie te act nie, maar om met eerlikheid en rou emosie Lourens se storie te vertel. Hoe om my karakter se situasie en gevoelens vir my werklik te maak en net ’n natuurlike reaksie daarop voor die kamera te gee. Ek kan nie beskryf hoe baie ek by Nico geleer het nie. Hy is nie net ’n ongelooflike skrywer en regisseur nie, maar ook ’n amazing mens na wie ek baie opkyk. Ek sal altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat hy en Nagvlug Films my gegee het om Lourens te vertolk.

Herken mense jou? Wat is hulle reaksie? 
Nogals! Dis altyd lekker om te hoor as iemand van die storie hou. Die meeste mense se reaksie is gewoonlik: “Kyk hoe groot het jy geword!”

Wat is jou planne vir Desember?
Swem, surf en baie roomys eet.

  • Nêrens, Noord-Kaap Deel II wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar.