Logo
Binnelanders S14 Slim BB
web uni tv guide

Binnelanders

144Sepie13

Demensie: Bronwyn se groot skok – Binnelanders

Nuus
27 Junie 2024
Vind meer uit oor Lewy-liggaamsiekte.
Binnelanders article image demensie

Bronwyn (Kim Cloete) het weer ’n draai by Binneland-kliniek kom maak waar sy ’n nuwe produk aan die raad wou voorlê. Maar dit het gou duidelik geraak dat Bronwyn nie meer die Bronwyn is wat almal ken nie, en toe kom die skok: Sy het Lewy-liggaamsiekte, een van die vele vorms van demensie.

Elke jaar word ongeveer 10 miljoen gevalle van demensie wêreldwyd aangemeld, en dit is globaal die sewende grootste oorsaak van dood. Die mees algemene oorsaak van demensie is Alzheimer se siekte wat die chemie en struktuur van die brein verander en dan die afsterf van breinselle tot gevolg het.

Lewy-liggaamsiekte is die tweede mees algemene tipe demensie. Dit word veroorsaak deur ’n spesifieke proteïen wat in die senuselle van die brein ontwikkel en lei tot degenerasie van breinweefsel. Geheue, konsentrasie en taalvermoë word veral aangetas, en dit word erger met tyd. Mense met Lewy-liggaamsiekte mag moontlik dinge sien wat nie daar is nie en mag ook dieselfde simptome ervaar as mense wat Parkinson se siekte het, soos stywe spiere, stadige reaksies, bewerasie en ’n gesukkel om te loop. Hulle mag ook aggressiewe neigings toon, aan depressie ly en ’n groter kans hê om te val.

Indien jy vermoed dat jy of ’n geliefde demensie het, is dit belangrik om ’n behoorlike diagnose te kry. Volgens Dementia SA moet hierdie riglyne gevolg word:

  • ’n Dokter sal deur ’n diagnose siektes opspoor wat soortgelyke simptome as demensie het, insluitend depressie.
  • Ná ’n diagnose kan medikasie voorgeskryf word vir die vroeë- of middel-stadium van Alzheimer se siekte.
  • ’n Diagnose kan help om vir die toekoms voor te berei en te beplan.
  • Demensie kan deur ’n algemene praktisyn (huisdokter) of ’n spesialis soos ’n geriatris (’n dokter wat in die versorging van bejaardes spesialiseer), ’n neuroloog (’n dokter wat spesialiseer in siektes van die senustelsel) of ’n psigiater (’n spesialis in geestesgesondheid) gediagnoseer word.
  • Die dokter sal ’n aantal toetse uitvoer wat ontwerp is om die geheue te toets, asook die vermoë om daaglikse take te verrig.

Dementia SA sê die volgende groepe mense kan met demensie gediagnoseer word, maar daar is ook voorkomende maatreëls wat gevolg kan word:

  • Demensie tas gewoonlik ouer mense aan, maar dit kan ook by jonger mense voorkom.
  • Beide mans en vroue kry demensie.
  • Genetika mag ’n rol speel, en in ’n paar uitsonderlike gevalle kan demensie oorerflik wees.
  • ’n Gesonde dieet en leefstyl kan beskerming teen demensie verleen. Deur veral nie te rook nie, gereeld te oefen, vetterige kosse te vermy en verstandelik aktief te bly, kan jy help keer dat vaskulêre demensie en Alzheimer se siekte ontwikkel.

Skakel weekaande om 19:30 in vir Binnelanders en gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok deur die hutsmerk, #Binnelanders te gebruik. 

 

Besoek Dementia SA by https://www.dementiasa.org vir meer inligting en ondersteuning.

Vir meer inligting oor Lewy-liggaamsiekte, gaan na: https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/lewy-body-dementia/symptoms-causes/syc-20352025.