web uni tv guide
Plaasjapie

Plaasjapie: Só werk die reeks

Nuus
23 April 2024
Daar het jy dit: 16 rou stadsjapies wat hul aktetasse, netjiese uitrustings, besige skedules en meer agterweë laat om aan hul brandende behoefte om meer oor die plaaslewe te leer, te voldoen. Natuurlik is die R1 miljoen-prysgeld ook glad nie te versmaai nie. Weet hierdie rou stadsjapies werklik hoe die koring van die kaf geskei word? En gaan daar dalk van die prysgeld opgeoffer word in die proses?
Plaasjapie

Hier is 10 goed wat jy moet weet oor die tweede seisoen van kykNET se werklikheidsreeks, Plaasjapie.

1. Wat doen die deelnemers as hulle nie op die plaas hul voete probeer vind nie?

In die gewone omgang van die lewe gaan jy kwalik ’n somatoloog, ’n vrugtesap-vervaardiger, ’n kommersiële besigheidspesialis en ’n padskraperoperateur  vir langer as ’n dag op dieselfde plek raakloop. Maar op Plaasjapie is alles moontlik. Boonop is daar vir die eerste keer ’n deelnemer uit ons buurland, Namibië.



2. ’n Nuwe seisoen vol nuwe dinge


Die reeks word op ’n nuwe plaas geskiet. Die woonkwartiere sien anders daaruit en deelnemers gaan beproef word om te kyk hoe diep of vlak hul plaasjapie-geit dan nou regtig sit. Daar gaan ook deurentyd inspeksies gedoen word en die span wie se plaas die beste lyk teen die einde van die seisoen, gaan daardeur bevoordeel word.   

3. Meer oor die plaas en die take wat op deelnemers wag

Die plaas is net buite Malmesbury in die Swartland. Anders as in die eerste seisoen, is die twee plasies sowat 500 m van mekaar geskep en kan die spanne mekaar sien. 

Die spanne bly ook nou in twee splinternuwe Wooncube-huise. Maar dié luukse kom teen ’n prys. Hulle het aansienlik meer werk om te doen as wat in die eerste seisoen van deelnemers verwag is.

Behalwe dat hulle almal mekaar moet leer ken, moet hulle natuurlik ook leer hoe om met die diere en die gewasse op die plaas te werk te gaan. Elke span het twee koeie, vier skape, twee speenvarkies en hoenders wat eiers kan lê.

4. Hoekom lyk die plaas bietjie anders as tevore?

Die Wes-Kaap het verlede jaar baie winterreën en -storms gehad. Dit het heelwat skade aan die oorspronklike spanhuise en die Koöperasie aangerig. Maar soos daar altyd gesê word: ’n Boer maak ’n plan, oftewel in hierdie geval was dit die Plaasjapie-span wat ’n plan gemaak het.

Kort voor lank is ’n bestaande skuur op die nuwe plaas omskep in die nuwe Koöperasie. Daar is ook twee sinvolle en praktiese arenas bygevoeg: Die Groot Arena en die Klein Arena.

5. Wie bedink die uitdagings?

Dis meestal ’n spanpoging. Die reeks se kreatiewe vervaardiger Leroux Botha het met die raamwerk na vore gekom en daarna is dit aan die uitdaging-span oorgegee.

Die uitdagings is op so ’n manier uitgewerk dat die spelers deurentyd iets nuuts leer oor die plaaslewe en dan dit daarna kan toepas op hul stukkie grond. Elke uitdaging het ’n uitwerking op dit wat op die plasies gebeur.



6. Waarom is daar sout in die prentjie?

In die nuwe Koöperasie is daar ook die soutstasie – die plek waar groot besluite deur die deelnemers gemaak moet word.

Het jy geweet die woord “salaris” is eintlik afkomstig van die Latynse woord salarium (sout in Latyn)? Dit beteken letterlik sout-geld en Romeinse soldate is soms in salarium betaal.

Tydens Plaasjapie word daar gekyk na watter deelnemer aan die vereistes van sy of haar take voldoen wat gestel is. In dié seisoen word die sout ook letterlik geweeg om te kyk of deelnemers genoeg gedoen het om verder in die reeks te vorder.

7. Ontmoet die pekelpennie

Na afloop van die eerste seisoen van Plaasjapie het kykers aangedui hulle wil erkenning vir verdienstelikheid sien. Dis waar die pekelpennie inkom. Deelnemers kan by Ewan Strydom, die programaanbieder, aanklop om meer sout met ’n pekelpennie aan te koop.

Dan maak hy die deelnemer wat die pekelpennie ingespan het, se soutpot vol voordat daar bekendgemaak word wie huis toe gaan.

Pekel is in hierdie geval ook ’n tweesnydende swaard: Die prys van die pekelpennies verhoog deurentyd en hoe meer pekelpennies vir sout geruil word, hoe meer geld word van die prysgeld van R1 miljoen afgetrek!



8. Eerste indrukke is soms verkeerde indrukke

Kykers sien ’n sterk gespierde man en het dalk ’n vooropgestelde idee van die rol wat hy gaan vervul, maar dan verras hy jou. Ander kere lyk dit weer of iemand kniediep in die water is en lyk asof hy/sy nie die pyp gaan rook nie, maar dan kom hulle na vore met ’n nuwe strategie en weeg hulle wel genoeg om voort te gaan.

Deur die loop van die reeks, sal kykers ook oplet dat die spanne die twee plase op verskillende maniere onderhou en dat hul speelstyle verskil. Dis gaan fassinerend wees om te sien waaraan spanne onderskeidelik voorkeur gee, en waar hul krag en swakheid lê.



9. Werk die deelnemers ook op hul eie?

Nee, en dis wat Plaasjapie so uniek maak. Deelnemers werk deurentyd in spanne tot en met die laaste drie rondes van die spel. Dan’s dit elke japie vir hom- of haarself.

10. Bestaan die “perfekte” plaasjapie?

Dit is beslis moontlik. Die perfekte plaasjapie is die een wat hard kan werk, saam met ander kan werk en dan natuurlik ook slim kan werk om tot die einde deur te dring . . .  Tyd sal leer.

Plaasjapie S2 word vanaf 18 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.