Vanaf hierdie Donderdag 21 Julie 2022 kan kykers uitsien na Wie’s Nuus? met Netwerk24 wat Donderdag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.
Dié verskeidenheid nuusprogram van 26 episodes sal fokus op die nuusmaker wat die opskrifte haal. Die aanbieder is Mia Spies. Wie’s Nuus? sal die storie agter die storie vertel, agtergrond skets, asook joernaliste van ander gesaghebbende publikasies en nuusdienste betrek wat naby aan die groot nuusgebeure beweeg.
“Ek kan nie wag om kykers in my leefkamer in te nooi nie vir die eerste episode van Wie's Nuus? nie. Ek is baie opgewonde dat ons nog 'n aktualiteitsaanbod vir kykNET-kykers kan bied, en sommer met die intrapslag kan praat oor sekerlik die grootste kwessie in Suid-Afrika wat elkeen van ons raak: misdaad en polisiëring. Ons gesels met Willem Jordaan, redakteur van Die Burger en Hanlie Retief, profielskrywer by Rapport op die bank. Asook die kenner Eldred de Klerk, polisiekenner, kom vertel meer. Die nuusmaker, Bheki Cele, het landsburgers al jare lank aan die gons, maar die laaste paar weke meer as ooit,” sê Mia Spies, aanbieder van Wie’s Nuus?
“Dis vars, modern, en gemaklik maar het steeds gravitas en geloofwaardigheid. Ek glo dit is ’n nuwe hoofstuk vir aktuele Afrikaanse televisie."
Mia is ’n gevestigde verslaggewer, nuusleser, aanbieder en vervaardiger. Sy voltooi haar meestersgraad in joernalistiek by die Universiteit van Stellenbosch waarna sy by Eyewitness News as verslaggewer en nuusleser werk. Kykers sien haar ook tans weekliks as lid van die verslagspan by KN Verslag. Sy ontvang in 2021 die Kokertoekenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse medialandskap.
Wie’s Nuus is ’n opwindende projek tussen kykNET, Media24TV en Netwerk24.
Waldimar Pelser, direkteur van kykNET- kanale by MultiChoice, het gesê Wie’s Nuus? word in Julie ’n belangrike deel van kykNET se aktuele aanbod.
“Met Wie’s Nuus wil Netwerk24 kykers help sin maak van belangrike nuuskwessies deur op ‘n persoonlikheid te fokus wat ‘n groot impak het op hoe gebeure ontvou. Ons gaan saam met kykNET die beste kenners en kundige joernaliste betrek om op ‘n verteerbare en boeiende manier konteks te gee en interessante feite te verklap. Ons sien daarna uit om ons passie vir joernalistiek nou ook op die TV-skerm uit te leef,” sê Henriëtte Loubser, uitvoerende redakteur van Netwerk24.
Izelle Venter, uitvoerende vervaardiger van Wie’s Nuus?, voeg by: “Ons hoop om die uitstekende aktuele aanbod op kykNET te komplementeer met hierdie vinnige-pas program wat fokus op binnekring-insigte en ervaringe van Afrikaans se topjoernaliste.”
Skakel Donderdag 21 Julie 2022 om 21:00 in op Wie’s Nuus? met Netwerk24 op kykNET (DStv-kanaal 144).