Johan se vrou, Inge se ma en Ta’ Marie se dogter.
Sy is die enigste dogter van ’n welgestelde Malmesbury-graanboer, Hendrik du Toit, en sy vrou, Marie. Sy het op die plaas grootgeword en dit gehaat. Haar enigste broer is op die grens oorlede. Hy sou die plaas se bestuur by sy pa oorneem. Nicola wou UCT toe om kuns by Michaelis te gaan swot, maar haar ma het haar voet neergesit – sy wou nie dat Nicola verword onder die liberale invloede daar nie. Nicola het toe onder proteskuns op Stellenbosch gaan swot. Desondanks, was Stellenbosch Universiteit Nicola se “get out of jail”- kaart; sy kon uiteindelik van die plaas wegkom.
Sy’t polities progressief geraak en tot die oortuiging gekom dat die grensoorlog ’n manier was om die Afrikaanse nasionalisme aan te vuur en apartheid te regverdig deur almal te laat dink dat die groot rooi gevaar hulle gaan oorrompel. Dít glo sy vandag nog en haar verhouding met haar ma is steeds nie goed nie. Sy en haar ma praat nie oor Tielman se dood nie, want albei weet dat dit op ’n politiese argument sal uitloop.
In haar derde jaar raak Nicola verlief op die bestendige Johan en hy het ’n kalmerende invloed op haar tot Tant Marie se heimlike verligting. Dis een van die redes hoekom Tant Marie vandag nog soveel waardering vir Johan het.
Nicola was (en is) aangetrokke tot Johan se senuwees van staal en sy innerlike krag. Hierdie eienskappe herinner haar aan Tielman en haar Pa. Nicola en Johan deel ook ’n waardering vir musiek. Johan was aan die begin van hulle verhouding ook in staat was tot die groot romantiese gebaar – ’n onverwagte piekniek op die rotse by die see; ’n fietsrit in die maanlig langs die Eersterivier. Ja, Johan het verbeelding en ’n sekere misterie gehad. Van die begin af het Nicola gevoel dat sy nie alles van hom weet nie; dat dele van hom afgeslote bly.
Vroeër was dit vir haar ’n uitdaging om die misterie te ontsluit, maar na meer as 20 jaar, is dit die probleem in hulle huwelik.