Knipoog is ’n ongelukkige mens. Die rede vir hierdie ongeluk is dat hy nog altyd voel asof hy deur die res van die akademiese wêreld ondermyn word.
Bietjie agtergrond; Knipoog was eens op ’n tyd ’n dromende digter (nes Hitler ’n skilder was). Hy het sy liefde vir die plaaslewe in etlike strofes omskep – meeste van hulle oor die majesteit van Bramhan-bulle.
Ongelukkig het mense nie sy entoesiasme gedeel nie en Knipoog het die bitter smaak van verwerping geproe. Van daar af het Knipoog ’n haat ontwikkel vir wie hy sien as denkers, en hierdie haat het gegroei tot ’n obsessie.
Die vakgebied van Filosofie sien hy as die eerste ivoortoring wat moet val – ’n ou argaiëse monument vir ’n tyd wat verby is.
Hy is berekennend en uitgeslape, maar sy humeur kan hom soms kniehalter.