Lood is ’n lekker ou en ’n interessante karakter. Wat het jy die meeste van hom geniet?
Ek is maar lui wanneer dit by personal grooming kom, so dit was lekker om nie elke oggend te moes skeer nie. Ek het ook baie op sonskerm gespaar. Maar wat ek baie van Lood gehou het, is dat hy so totaal verskillend is as my vorige groot rol wat James in Stiekyt was.
In Stiekyt is ek bietjie van ’n verkleurmannetjie met grimering en pruike en hoëhakskoene en hoe jy jou heupe en arms moet beweeg om die vroulike kant van jou persoonlikheid uit te bring. Lood aan die ander kant is ’n man met ’n bike, baard en tattoos, maar soos die storie aangaan, sien jy hy het ’n baie sagter kant. Dis ook so met Stiekyt. Mense dink hulle gaan Priscilla, Queen of the Desert kyk, maar dis glad nie waaroor dit gaan nie.
Om fisiek in ’n karakter te klim, en in hierdie geval twee uiteenlopende karakters, is altyd vir my lekker. Ek raak vinning verveeld en hou van variasie in my loopbaan. As ek een tipe karakter speel, sal ek verkies dat die volgende karakter heel anders is.
Jy en jou vrou en julle twee seuns woon deesdae in Vancouver, Kanada. Wat was die grootste aanpassing?
Dis ’n pragtige plek en herinner my aan Kaapstad. Dis ’n stad, maar omring deur natuurskoon en met ’n fokus op die buitelewe. Die mense is baie anders as Suid-Afrikaners. Daar is altyd energie om Suid-Afrikaners. Jy kan ons hoor – ons praat hard en ons het opinies. Die Kanadese is baie meer bedeesd. Dis amper die stereotipe oor die Kanadese – dat hulle so bedagsaam is.
Ek moes leer om wanneer jy iemand die eerste keer ontmoet, hulle nie met ’n druk te groet nie. In Afrika gee jy iemand ’n drukkie, maar daar doen jy dit nie. Ek moes leer om my persoonlike spasie kleiner te maak, sagter te praat, my opinies vir myself te hou. Dit was ’n aanpassing, maar ek geniet die natuurskoon en die feit dat dit ’n eerstewêreld-land is.
Ek dink nie mans besef altyd wat vroue in Suid-Afrika deurgaan nie. Hulle is nie veilig nie, maar in Kanada is my vrou veilig. Ek mis die sonskyn, die kulture, die mense, ek mis die strand en om te braai. Ek het selfs my eie biltong begin maak en ek doen dit nogal goed, al moet ek self so sê.
Hoe lyk jou dag tot dag in Kanada? Het jy ’n agent en gaan jy vir oudisies?
Ja, ek het ’n agent en begin in die bedryf inkom. Maar die pandemie het gesorg dat my werkvisa op iemand se lessenaar beland het en toe ek ’n groot rol gekry het, kon ek dit nie doen nie. Maar dit is alles nou uitgesorteer. Ek is ook bevoorreg dat ek nog ’n dak oor my kop het en my gesin is veilig.
Die oudisies in Kanada word alles op band opgeneem. Daar is glad nie oudisies in persoon nie wat ek mis. Nog ‘n aanpassing is natuurlik ook die Noord-Amerikaanse aksent wat ek moes aanleer. Die Kanadese vermaakbedryf is groter as ons s’n, maar negentig persent van die werk wat gedoen word, is vir die Amerikaanse mark.
Ek mis dit om my mense se stories te vertel. Ek voel die Amerikaanse industrie is net gemik op vermaak, waar ons as Suid-Afrikaners stories soek wat vir ons op een of ander vlak belangrik is. Iets wat jou mensdom raak in alles wat ons doen – film, TV, boeke. Die Amerikaners is beslis meer gemik op ligte vermaak.
Jy is op die oomblik in Suid-Afrika. Waaraan het werk jy en waarna kan ons uitsien?
Ja, ek is baie besig tussen die twee lande. Ek het The Unlikely Secret Agent, ’n toneelstuk oor die lewe van Ronnie Kasrils se eerste vrou, Eleanor, en gegrond op ’n boek deur Alan Paton, geskryf en is die regisseur daarvan. Dit vertel Eleanor, gespeel deur Erika Marais, se storie en wat sy alles deur is. ‘n Ongelooflike dapper vrou. Dit het in die Kaap gespeel en ons het nou ’n uitnodiging gekry om met die stuk Londen toe te gaan waaroor ons baie opgewonde is. Ons is besig om die fondse bymekaar te kry en as enigiemand daar buite wil help, is hulle welkom om my te kontak.
Dan het ek ook ’n stuk van die dramaturg Gail Louw – in Afrikaans Die goeie pa – vertaal waarmee ons KKNK toe gaan en waarvan ek ook die regie doen. Erika speel die rol van die drie vroue. Dis ’n baie kragtige stuk.
Daar is ’n groot Amerikaanse produksie, waaroor ek nog nie veel kan sê nie, wat in Suid-Afrika en Rome geskiet word met ’n hele paar groot name betrokke en ek geniet dit verskriklik baie.
En behalwe vir Mooiweer en warm het ek ook gewerk aan ’n filmweergawe van Melk & vleis wat ’n toneelstuk in 2017 op die feeskringloop was en waarvoor ek onder meer die Fiësta as beste akteur gewen het. Dit was ’n wonderlike toneelstuk en ek glo dit gaan ook ’n wonderlike film wees.
*Melk & Vleis wys Saterday 1 April 20:00 op kykNET.
Stiekyt is Saterdag 25 Maart op kykNET. Wat het jy die meeste van die fliek geniet?
Ek onthou net toe ek die teks gelees het, was ek weggeblaas. Dis een van die beste tekste wat ek ooit gelees het. Sodra jy dink jy weet waaroor dit gaan, verskuif dinge. Die genre verander die hele tyd. Ek wil nie te veel weggee nie, maar dis baie slim geskryf. Jy weet nie wat om volgende te verwag nie en waarheen dit op die ou end gaan, is ongelooflik.
Wat is die een groot droom wat jy nog najaag?
Daar is so baie. Ek droom konstant. Ek was op skool die hele tyd in die moeilikheid omdat ek so gedroom het. Op die oomblik is my groot droom om The Unlikely Secret Agent in Londen op die planke te kry. Ek dink dit sal baie vir gehore daar beteken. Dit sal ook vir ons baie beteken om met ons spelers daar te gaan werk – elkeen van die karakters praat in hulle eie taal – en ek kan nie wag om te sien hoe gehore daarop sal reageer nie.
Ek wil nog op plekke gaan ski, ek wil nog in Hollywood gaan speel en ek kan nie wag om te sien hoe my acting chops in Los Angeles staan nie; om te sien of ek goed genoeg is. Ja, daar is nog baie drome.
Watter gewilde internasionale reeks sou jy graag wou in speel?
Sense8, die wetenskapfiksie-reeks op Netflix, was ’n ongelooflike reeks want dit verras jou. Sodra iets voorspelbaar word, verloor ek belangstelling. Dis soos toe Breaking Bad die eerste keer uitgekom het. Sense8 was ook so. Dit het die genre verander omdat die vervaardigers kanse gevat het en suksesvol daarmee was.
As jy moet kies: wafels met maple syrup en Canadian bacon of braaivleis?
Kanadese maple syrup is baie lekker en hulle bacon ook, maar niks kom by braaivleis nie. Ek mis dit ongelooflik baie. Daar moet ons op gas braai en hulle vleis proe net nie soos ons s’n nie. Suid-Afrikaners verstaan rooivleis op baie ander meer intieme vlak as die res van die wêreld. Behalwe dalk die Argentyne. Hulle vat ook hulle vleis baie ernstig op.
Mooiweer en warm het ’n groot rolverdeling met jong spelers asook spelers wat lank reeds hulle merk gemaak het. Wat het jy die meeste uit die proses geleer?
Vir my was die groot voorreg om saam met ’n legende soos Antoinette Kellerman te werk. Die groot les vir my was is hoe nederig sy is. Sy het al vergeet van dinge wat ek nog nie eens geleer het nie. Hoe toegewyd sy is en dat sy self nog bereid is om te leer. Om te kyk hoe ‘n aktrise van haar kaliber steeds die een is wat die beste voorbereid is en haar oë, ore en hart oop hou en by ander leer. Dit maak nie saak wie of wat jy is nie, almal van ons moet nog die hele tyd leer. Sy het natuurlik enorme natuurlike talent en jarelange ondervinding, maar dan is sy so nederig en toegewyd. Dit is wat van haar so ’n legedariese aktrise maak.
Skakel Dinsdae 20:00 in vir Mooiweer en warm en Saterdag 25 Maart 20:00 vir Stiekyt.