Leon Gropp is 'n bekroonde kitaarspeler en musikant en is al van jongs af versot op musiek. Hy het vir so lank as wat hy kan onthou, in kore en ander sanggroepe gesing. Hy het egter eers in matriek vir die eerste keer met die kitaar kennis gemaak en was dadelik verlief.
Dié Pretorianer het die professionele wêreld van musiek amptelik betree as deel van ’n mansgroep, Hi-5, wat die land platgetoer het en selfs ’n optrede saam met Nataniël in die Royal Albert Hall in London gedoen het. In 2007 het hy deel geword van die kitaarduo, CH2, wat oor die afgelope tien jaar ’n hele rits toekennings gewen het, waaronder Vonk-, SAMA- en Ghoema-toekennings vir Beste Instrumentele Album, en ook by die grootste feeste in die land opgetree het.
Hy het ‘n Woordtrofee vir sy konsep-album ROOIDAG (NP van Wyk Louw getoonset en gesing) ingepalm gedurende 2018, maar het in 2019 besluit dat dit tyd is om sy solo-sangloopbaan ’n kans te gee en sy eerste solo-enkelsnit en musiekvideo vir BAKENLIG is bekend gestel. Dit het nie net vir die luisteraars ‘n nuwe kant van hom gewys nie, maar ook vir dié talentvolle musikant ’n stewige plek, as sanger, gevestig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ook betrokke by ’n program wat personeel binne groot besighede help om verandering te hanteer. Saam met veranderingsbestuurkenner, Jaco Boëttger, reis hy die land en wêreld vol om mense in die werksplek te inspireer. Verder is hy ook ’n pa en man, wat dit geniet om tyd saam met sy gesin deur te bring. Hy is getroud met Martelize en het twee klein dogtertjies en 'n seuntjie op pad...
As jy hom uitvra oor sy gunstelingmusiek, verklap hy:
“Ek is maar ’n ‘sucker’ vir goeie harmonie. So enige musiek waarop ’n mens lekker kan harmoniseer is vir my mooi. Daar is ’n magdom plaaslike musikante wat my daagliks beïnvloed en inspireer, soos Joshua na die Reën, Elvis Blue, Coenie de Villiers, Loki Rothman en die lys gaan aan.”
Internasionaal is dit kunstenaars soos Sting, Coldplay, U2 en vele ander wat ook ’n groot invloed op sy musiekstyl gehad het.
By Ontbytsake is Leon die aanbieder van die Weervoorspelling, Landbounuus, Opkomende Fokus en Sakefokus, maar hy hou veral vir Dawie op sy tone met kwinkslae en sy skerpsinnigheid.