web uni tv guide
web uni tv guide

Die GROOT Ontbyt

144AktualiteitPG
eNuus

JP Biko Keyter

My volle naam is Jean-Paul Biko Keyter, maar almal noem my JP.

Ek is die jongste van vier kinders, en is gebore en getoë in Uitenhage in die Oos-Kaap. Ek het in 1996 by Uitenhage Hoër gematrikuleer.

Op 2 Oktober 2010 trou ek met die mooiste en wonderlikste vrou op aarde, Anzel de Jager.

Ek het ’n Nasionale Diploma in Sakebestuur verwerf en was bevoorreg om semi-professioneel rugby te speel. Ek het my rugbyloopbaan by Progress RFC in Uitenhage begin en later vir die Naka-Bulle, Crusaders-Technikon en Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gespeel.

Ek was ook bevoorreg om deur middel van ’n sportbeurs vir ’n Nasionale Diploma in Sportbestuur te studeer maar moes in my derde jaar opskop ná ‘n ernstige besering my rugbyloopbaan én studies kortgeknip het.

In 2005 begin ek my loopbaan in die uitsaaiwese as sportaanbieder by die gemeenskapsradiostasie Bay FM in Port Elizabeth. ’n Jaar later word ek aanbieder van die Christelike radiostasie Kingfisher FM se program “Late Night Live With JP Keyter”.

In 2007 raap die SABC my op en ek verhuis na Johannesburg om in Auckland Park as omroeper te werk. Hier is ek verantwoordelik vir die aanbieding van veral sport- en musiekprogramme. Ek het ook betrokke geraak by SABC Sport op televisie, waar ek as Afrikaanse aanbieder, kommentator en stemkunstenaar werk.

In 2009-2010 word ek lid van die Laureas Media Selection Panel op versoek en uitnodiging van die Voorsitter van die Laureas Akademie, Edwin Moses. En ek speel selfs in ’n kortfilm getiteld The Maid.

In Julie 2010 word ek deel van die dinamiese eNuus-span, met die stigting van die eerste, onafhanklike Afrikaanse nuusbulletin op televisie.