kyknet channel logo

Verander die negatiewe na positiewe

Nuus
26 Maart 2020
Ons het by ’n paar lede in die kykNET-familie gaan uitvind hoe hulle positief en gemotiveerd bly in hierdie onsekere tyd waarin ons onsself bevind.
Isolasie Artikel Kop

Ek dink die beste manier om positief te probeer bly is om konstant vir die silwer randjie te probeer soek. Dis nie altyd maklik of moontlik nie, ek weet, maar dis beter as om in angs, paniek en depressie te val.

Bv: “ek mag nou nie die huis verlaat nie” kan omgeswaai word in “ek het uiteindelik tyd om my huis reg te ruk en te spring clean of “ek kan kwaliteit tyd saam my kinders spandeer”.

“Ek is al moeg TV gekyk en gelees” kan omgeswaai word in “Ek is so dankbaar dat ek by die huis kan sit en TV kyk en boek lees terwyl daar dokters en verpleegsters is wat hulle lewens daagliks op die spel plaas”

Soos ek sê, ek weet dis soms onmoontlik en/of moeilik, maar as ons hard hieraan kan werk en positiwiteit “oefen”, sal ons deur hierdie pandemie lewend en heel aan die ander kant uitkom. 

Germandt Geldenhuys

Ek is al vir 9 dae in self isolasie na ek van New York terug gekeer het. Dit was nie 'n maklike besluit om terug te kom nie, maar 'n mens is eerder by jou eie huis as in 'n ander land geïsoleerd. Ek hou myself tans besig met films kyk van verskillende genres en om aan te hou oefen aan my Amerikaanse aksent. Die films kyk gaan nie oor die ontspannings komponent daarvan nie, maar eerder oor om navorsing te doen as aktrise. Jy kan na wonderlike film skole in die wêreld gaan, maar jy moet steeds kennis en insig van films hê. So ek kyk films wat ek normaal weg sou kies en dan nie, sodat ek my spektrum en film-biblioteek kan verbreed. Ek doen karakter analises, lees meer oor die regisseur en studeer die tydperk waarin dit geskiet is. Ek berei basies voor vir die rolle wat ek eendag wil speel. Andersins sien ek steeds al my life-coaching kliënte oor Skype, speel ek met my katte, maak ek my huis skoon, pak my kaste reg en lê elke dag bietjie in die son op my stoep.

Marciel Hopkins

 

Met die onlangse beperking op reis en sosiale distansiëring is daar geleentheid vir my om baie admin op te vang, om my e-posse op datum te bring en versoeke (uiteindelik), toekoms beplanning te doen en om te reflekteer op die afgelope jaar.

Tyd het begin stil staan en dit gee geleentheid om aandag te gee aan dinge wat mens gewoonlik sou afskeep...

Die beste van alles is dat my man terug is van Engeland. Ons sou mekaar baie min sien die jaar en nou kan ons kwaliteit tyd by die huis saam hê.

Die tyd forseer my om meer te fokus op my besigheid ook, om meer te lees en intellektueel ook gestimuleer te word, ek het ook meer tyd om te oefen (wat baie moeilik wees met al die reis).

Ek het tyd om almal te bel wat ek oor die jare afgeskeep het en aandag aan kosbare vriendskappe te gee.

Ek het ook tyd gekry om ’n klomp van my ma en ouma se resepte uit te probeer en my eie te maak, en sodra die kwarantyn tydperk oor is, nooi ek almal van julle oor vir aandete...

Vanes-Mari du Toit­

 

Dis geensins vir my 'n uitdaging om tuis te bly nie - ek is mal oor by die huis wees! Ek waardeer die tyd saam met my diere en my man - en ook om self rustig te wees sonder om skuldig te voel daaroor. Ek stap met my honde, draf, speel met kreatiewe projekte wat ek lankal wou probeer, en maak lekker kos. Ek besef dat ek kan doen wat ek kan, en nie meer nie. Ek probeer ingelig bly sodat ek verantwoordelik kan wees. En ek haal diep asem.

Therese Bam

 

Covid19 maak die mensdom bang vir wat voorlê, maar ons weet ons moet positief probeer bly. Dis nie maklik nie. Wanneer ek angstig raak, probeer ek aan die groter prentjie dink. Dan besef ek dat daar nie net fisiese afsondering en kwarantyn is nie, maar dit lyk asof ons ook op groot skaal in 'n kwarantyn van verbruik ingaan, waaruit ons sal leer hoe om gelukkig te wees met 'n eenvoudige rok, om die ou gunstelinge wat ons besit te herontdek, 'n vergete boek te lees en 'n storm op te kook om die lewe mooi te maak. Ek dink aan die skoon lug bo China, Venesië se skoon kanale ens. En ek hou streng by die gesondheidsreël! Die beste plek om weg te kruip: In die middel van ‘n rivier met ‘n boek!

Rina Nienaber

#Baardsolation

Ek het hierdie woorde op Pinterest raak gelees: “Don’t use your energy to worry. Use your energy to believe, create, trust, heal & grow”. Hierdie is so waar want dit is baie maklik om toe te laat dat bekommernis jou in hierdie onsekere tyd insluk, maar ek dink tog as ons op positiwiteit, hoop & groei fokus, GAAN ONS WEN! In hierdie geïsoleerde tyd probeer ek aan 2 dinge vashou wat ek voel my altyd deur enige moeilike situasie kan dra.

1) My geloof! Dat God ons altyd op ‘n bonatuurlike manier sal dra!

2) My familie. Om kwaliteit tyd saam met Schalk & die kinders te bestee, is BAIE kosbaar & van onskatbare waarde. Ons lewe soms verby mekaar & hierdie situasie forseer ons om doelbewus saam & bymekaar te wees. Om te speel & te intensioneel te WEES!

Mandi Baard

Hierdie virus het my laat besef hoe 'connected' al die mense in die wêreld is, hetsy fisies of deur energie. Hoe klein ons eintlik is en hoe afhanklik ons is van iets baie groter as wat ons ooit sal besef. Hoe ons dinge soos 'luxuries' , vryheid en gesondheid vanselfsprekend aanvaar en nie regtig waardeer het nie. Ek is dankbaar vir hoe dít my gehelp het om my lewe te herevalueer. Wat werklik belangrik is. Om werklik uit dankbaarheid te leef en om mekaar te ondersteun op enige moontlike manier. Ek is 'n ewige optimis en ek het die mooiste reënboog gesien gister wat nog altyd vir my 'n simbool is van hoop. Ek sit in stilte en bid vir vrede vir almal. Ek mediteer, doen Pilatus tuis en spandeer kwaliteit - tyd saam met geliefdes en my diere kinders. Ek lê op die gras en kyk na die wolke. Ek sien hoe almal saamstaan en het werklik besef hoe afhanklik ons van mekaar is. Ek is trots op hoe almal doen wat hul kan. Dalk is die Moeder natuur se manier om ons te laat wakker skrik. Dinge is besig om te verander.

Christel van den Bergh

’n Probleem maak ’n mens of depressief of kreatief, die probleem verteenwoordig of jou vrees of jou vermoë! Die keuse is altyd joune! Die Korona Pandemie het veroorsaak dat baie dinge wat normaal was, skielik in Groot Probleme verander het! Moenie vir God sê hoe groot is jou probleem nie, sê vir jou probleem hoe groot is jou God! Hier is ’n foto van my by ’n toilet papier staander wat ek self gemaak het! Ek gaan nie toelaat dat hierdie pandemie my vrees verteenwoordig nie maar eerder my Vermoë!

Johan Scholtz

Met Covid19 wat sy kop uitsteek nou hier in SA is almal onseker hoe om te reageer en wat om te doen. As ʼn gesin het ons besluit om wel onsself sover moontlik te isoleer, net om die verspreiding te verminder maar ons hou nie op met lewe nie. Om gesond te bly is iets wat vir ons baie belangrik is. So in plaas van by die huis sit en depressief word bly ons aan die gang met  ʼn stappie of  ʼn oefen sessie. Hou moed en bly gesond.

Werner en Marijke Coetser

 

Vir my om positief te bly In moeilike tye soos hierdie is om te besef maak nie saak wat ek nou doen nie, ek kan niks aan die situasie verander nie. Ek kan nou In hierdie tyd waar die wêreld tot stilstand geroep is. Fokus op wat vir my belangrik is, my omring met liefde en ʼn doelbewuste besluit maak om nie die slagoffer te speel nie, maar eerder die victor. Om negatief te wees en sit en bekommer gaan niks verander nie, behalwe myself net psigies en emosioneel en fisies siek maak. Ek het ʼn dak oor my kop, kos op die tafel ek lewe en het ʼn wonderlike werk.

David Louw

Ek en my gesin benader die sosiale distansiëring wat gepaardgaan met Covid19, optimisties en met gesonde hoop. Ons waardeer die saamweestyd, staan mense in ons gemeenskap en familie by, en gebruik die tyd sedert die begin van die skool sluiting om vaardighede te leer vir die regte lewe... ons begin leer aan ʼn ekstra taal, en hoe om ʼn band te ruil.

Pierre Breytenbach

 

Ons as Familie het besluit om alles in ons mag te doen om die virus nie te versprei of te kry nie. Is daar ’n baie swaar tyd wat vir ons voorlê? Dalk, maar om vandag daaroor te bekommer gaan nie môre verander nie. Ek moet myself konstant daaraan herinner. Fisiese aktiwiteite lig ons gemoedere! Verder geniet ons dit om saam aan ons groente tuin te werk. Noudat my kinders by die huis is hou ons kompetisies wie die vinnigste ’n legkaart kan voltooi. Een groot seën van so ’n situasie is dat ’n mens as familie saamtrek.

Marlee van der Merwe

 

Hoe ek positief bly is om elke dag op te staan met dankbaarheid, dit is nie altyd maklik nie, maar maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie, daar is ALTYD iets om dankbaar voor te wees.

Met die Covid-19 kan dit uitdagend wees om positief te bly – wat ek sal voorstel is: wees nugter, versigtig oor dit wat jy hoor of lees, Moenie die toilet rolle gaan opkoop nie en moenie vals nuus versprei nie. Bly positief deur na jouself om te sien, eet gesond, was jou hande, bly oefen en behandel mense met respek.

Positiwiteit is ’n keuse, persoonlik is dit vir my baie belangrik om te fokus op die dinge wat ek kan beheer en wat my laat goed voel, en dit wat ek nie kan verander nie, net te aanvaar.

Ewan Strydom

 

Ek hou my oë op my familie, my dogtertjie, my life partner en die Here wie ons elke dag krag gee om aan te gaan. Ons bid. Ons sing (my dogter speel klavier en kitaar) ons maak skoon, ons speel games. Ons maak tuin, ons vertel stories, ons lees. Daar is baie om te doen. Sterkte aan almal. Versprei liefde.

Lee-Ann van Rooi

 

Laat weet ons op Facebook, Twitter en Instagram hoe julle by die huis julleself besig (en gemotiveerd!) hou tydens Covid19!