Varstrap, kykNET NOU! se boeremusiek-program wat op Saterdae uitgesaai word, se gewildheid het een ding gewys: kykers wil meer hê. Daarom is daar besluit om van November op Woensdagaande - in die volksmond bekend as klein Saterdagaand - ook ‘n Varstrap-tydgleuf te hê.
Wat kan kykers verwag? Net die beste boeremusiek deur kunstenaars soos die jong Kosie Beukes en Die Ventertjies, die Karoo-boorling Theo Slabbert, die 80-jarige legendariese Sollie Marx en Blackie Swart, beter bekend vir sy treffer “Liewe Lulu”, maar ook een van die land se beste kitaar- en banjospelers. Dan is daar die broers Fanie en Pieter Zwart wat bekend is vir hulle moderne uitkyk op boeremusiek en Hannes Schoeman wat onder meer saam met sy groep al twee keer die algehele wenner van ‘n nasionale boeremusiek-kompetisie was. Dis egter nie al nie. Musiek van groepe soos Baardskeerdersbos Orkes, Die Kaapse Affodille en Die Kitaarkêrels sal beslis ook gereeld op die speellys ‘n draai maak.
Trek dus jou dansskoene aan, skuif die meubels weg en maak reg vir ‘n plesierige skoffel so in die middel van die week. Wie het gesê mens mag nie op ‘n Woensdagaand dans nie?
Varstrap word van Woensdag 4 November om 20:30 tot 21:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) uitgesaai.