Foto: ’n Oomblik vanuit episode dertien
deur Tertius Kapp
As engiemand ’n beter anagram vir “Van Hunks” het, laat my tog weet (regtig – tag my gerus met jou voorstel).
Ek het lank probeer: lyste gemaak, lettertjies uitgeknip en rondgeskuif, vriende gevra, selfs rekenaarprogramme probeer. My beste poging is steeds “Shaun Vink”. As jy pretensieus wil wees, kan jy seker sê die “i” beteken iets, maar nee … dis darem beter as “Hans Vunk”!
Van Hunks was ’n seerower wat ná jare se plunder, moord en roof, kom aftree het in die Kaap. Uit die aard van die saak wou niemand sy vriend wees nie, en hy het elke dag alleen op die berg se hang gesit en rook. Almal ken die storie van die vreemdeling wat hom eendag uitdaag om te sien wie die meeste kan rook.
LEES OOK: DIE PERFEKTE ‘BOGEYMAN’
“Wat sou Van Hunks deesdae rook?” het ek (net half-ernstig) gewonder. Daar is nie meer seerowers hier rond nie, en ook nie veel pyprokers nie. Maar daar is ander duiwels los in die Kaap. En ander dinge word gerook … Ná nog ’n paar skuiwe was my grappie nie meer so snaaks nie. Hier was ’n storie: Van Hunks en die tikpyp.
Dié episode het my ook kans gegee om te verwys na ’n stukkie geskiedenis wat eintlik van die begin af agter Die Spreeus gesit het. Kykers ouer as so 35 jaar sal weet van kolonel Kobus “Donker” Jonker. Hy het in die vroeë 90’s die Eenheid vir Okkultverwante Misdaad begin (die voorloper van die Eenheid vir Skadelike Godsdienspraktyke, wat steeds bestaan).
Donker Jonker se span was die experts op satanisme. Ek was in die neëntigs op hoërskool, en die duiwel was oral, of so is ek vertel. Simbole, films, boeke, glasie-glasie, besetting deur demone … daar was kultusse by Van Stadensbrug. Hot spots in Oos-Londen en Bloemfontein.
KYK OOK: DONKER SPROKIES
Hoeveel hiervan waar was, weet ek nie. Maar as ek nou daaraan terugdink, is dit ironies dat die stoutste skoolkinders presies daai simbole gebruik het om die gesag uit te daag. Dit was soos ’n handboek vir die rebelle. Want wie was dan nou ’n groter rebel as Bloukoos?
Dit was deel van ’n internasionale tendens – ook in Amerika was daar in die laat tagtigs ’n fokus op satanisme. Dit het veral gekyk na pop- en rockmusiek. In Suid-Afrika, waar die Voëlvry-beweging maar pas die deure oopgeskop het, het dit ’n ander gesig gehad. Rodney Seale het ons gewaarsku – as jy jou kassette verkeerde kant om speel, sou jy satanistiese boodskappe hoor (as jy dieselfde met Bles Bridges doen, sou jy glo potjiekosresepte kry).
Dit was ’n vreemde tyd. Ook een waar politieke ordes verander het, waar die land oopgemaak is vir die res van die wêreld se goed én sleg. Die neëntigs was byvoorbeeld ’n reuse groeitydperk vir dwelmsmokkelaars op die Kaapse Vlakte. Vir party mense was die beste manier om dit te verstaan, dat die duiwel letterlik los was.
Die laaste agter-die-skerms naam wat ek wil noem, is regisseur Jaco Bouwer. Die regisseur moet ’n hand op elke aspek van die produksie hou, wat baie is. Boonop werk die span veertien-uur dae, vir maande aaneen. Om onder sulke omstandighede sulke hoë standaarde te handhaaf, is ’n helse prestasie. Dankie, Jaco.
Maar heel laaste – dankie aan almal wat gekyk het. Veral dié wat die kritici herinner dat smaak verskil! Ons waardeer dit baie.
Die laaste paaseier: Meeste van Shaun Vink en Lou se gesprek aan die einde van die episode kom direk uit Storieman!
Wat het jy van die reeks Die Spreeus gedink? Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op Facebook, Twitter en Instagram. Kliek hier vir meer inligting.