Logo
web uni tv guide

Magda Louw

144KomediePG13 L

Tussen tonele met Desiré Gardner

Nuus
11 Julie 2024
Ons gesels met die skrywer en aktrise, Desiré Gardner oor “Magda Louw” en “Pronk Primêr”.
Tussen tonele met Desire Gardner

Desiré Gardner voel al soos deel van die familie omdat sy so gereeld in almal se sitkamers kuier: As Daleen in Binnelanders, Carmen in Suidooster, Magda in Magda Louw en sy is ook verantwoordelik vir die skreeusnaakse tekste in die nuwe kykNET-komediereeks, Pronk Primêr.

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

Waterbottel, pepermente en soos meeste mense, my foon wat ek net afskakel terwyl ek skiet, maar dis maar 'n ma se lot, haha, sy moet altyd beskikbaar wees.

Is daar ’n aspek van jou beroep wat jy meer geniet en hoekom? 

Ek is baie lief vir al die aspekte van die industrie. Ek't nog nie enige ervaring in regie of vervaardiging nie, maar ek is baie lief vir skryf, speel en vertaling/subtitling.

Die twee dele van stories vertel wat ek die meeste geniet is skryf en speel, ek glo nie ek sal ooit 'n gunsteling kan uitwys nie, maar op hierdie stadium is dit 'n absolute voorreg om te kan skryf, want ek kan dit van die huis af doen en is dus meer "beskikbaar" vir die kinders, en dit is vir my 'n groot seën.

Wanneer het die gogga gebyt om jou eie projekte te begin skryf en vervaardig?

Ek was gelukkig om nog altyd saam met ongelooflike vervaardigers te werk, so ek het nog nooit daardie groot taak self aangepak nie, maar ek dink met Magda Louw het ek besef hoe lekker dit is om 'n storie te skep en te ontwikkel, en daarmee saam, hopelik 'n storie gevul met karakters waarmee mense kan vereenselwig. Maar ek dink die storievertel-gogga het al met geboorte gebyt.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom?

Magda Louw is natuurlik 'n gunsteling, want sy is so ver verwyderd van my (alhoewel my seun nou die dag gesê het ek klink meer soos Magda haha), maar ek is regtig lief vir al my karakters, veral hulle wat ek vir 'n lang tydperk kon speel, soos Carmen in Suidooster en Daleen in Binnelanders.

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom?

Ek vermoed weereens Magda Louw, want dit is een van daardie karakters wat maklik mense kan vervreem, tensy sy werklik opreg en eerlik oorkom, so ek moet myself heeltyd herinner om net eg in die oomblik te wees – so met latex, pruik en al.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het?

Ek dink dis maar iets wat ek my hele loopbaan en dalk ook lewe doen. Ek steel met my oë; ek kyk na ander akteurs en leer by hulle. Tobie Cronjé was nog altyd my absolute televisie-hero: Hy is ongelooflik ­– sy spel en sy keuses was nog altyd meesterlik.

Binnelanders en Suidooster loop absoluut oor van die talentvolste storievertellers in ons land – daar is te veel om te noem, maar ek het so baie op albei daardie stelle geleer.

Ek voel soos 'n trotse ma, haha, maar Bennie Fourie en Cindy Swanepoel wat my kinders speel in Magda Louw is ook akteurs by wie mens baie kan leer, bloot net deur hulle spel dop te hou, en natuurlik Hannes van Wyk. Ons spandeer baie tyd saam as TV-eggenote met Magda Louw en ek love dit om hom en sy spel-keuses dop te hou.

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag?

Sjoe, daar is ongelooflik baie. So baie talentvolle mense saam met wie ek nog sal wil werk, maar om 'n paar te noem: Craig Adriaanse, Char Carrie, Tyrone Keogh, Mary Anne Barlow, Sean-Marco Vorster en Marijke Coetser.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Oeg, daar is so baie.

Juffrou X, Een keer om die Son, Trompoppie, om maar net 'n paar programme te noem wat ek dink lekker sal wees om in te speel. Great cast en great stories.

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Ek dink dankbaarheid is geneig om mens te motiveer, so ek probeer dankbaar te bly, al is/was dit 'n moeilike of besige of mallerige dag. En niks wat 'n lekker warm bad met bubbles nie kan regmaak nie.

Wat is jou motto in die lewe?

Young girl, a person stops and stops. 

Dit maak nie lekker sin nie, haha, maar ek het dit eendag gesien by 'n winkeltjie op 'n handspieëltjie, en toe die handspieëltjie gekoop. Ek dink die betekenis het iewers in die vertaling verander/verlore geraak, maar ek het toe die prent laat print en blok en dis nou teen my muur. Young girl, a person stops and stops.

As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?

Oh, dalk Nicole Kidman, want ek vind haar baie interessant. Of dalk die storie van iemand soos Sinéad O'Connor. Dink haar lewenstorie is dalk iets wat mense sal intrigue.

Stroom nou die tweede seisoen van Magda Louw op DStv Stream en skakel in vir Pronk Primêr op kykNET, kanaal 144 op Maandae-aande.