web uni tv guide
Die brug emmys slim BB

Só is die indrukwekkende stelle van “Die brug” gebou

Nuus
24 Oktober 2023
Die eerste episode van Die brug, wat uit elf episodes bestaan, begin op Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is by die Buffeljagsdam buite Swellendam verfilm en vir die bou van die stelle, is die gesegde “local is lekker” beslis waar.
Stel artikel Die brug

Om ’n reeks soos Die brug te vervaardig, neem maande se beplanning. Die regte spelers moet gekies word, die perfekte omgewing vir verfilming moet gesoek word, en dan is daar al die logistiek wat ’n hele produksiespan in staat moet stel om die beste moontlike reeks in ’n afgeleë plek te vervaardig.

Die eerste episode van Die brug, wat uit elf episodes bestaan, begin op Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is by die Buffeljagsdam buite Swellendam verfilm en vir die bou van die stelle, is die gesegde “local is lekker” beslis waar.

“Alles wat gebruik is om die Houthuis te bou, behalwe vir van die ligte, kom uit die Swellendam-area,” sê Freddy Louw, kreatiewe regisseur en vervaardiger by Red Pepper Pictures, vervaardigers van Die brug. “Al die hergebruikte materiaal, elke meubelstuk en al die rekwisiete is gekoop of gehuur van tweedehandsewinkels in die dorp of by boere in die omgewing. Van die poskanne is byvoorbeeld aan ons verskaf deur ’n melkboer in die omgewing. Die hout wat ons gebruik het om die Houthuis te bou, is van ’n plaaslike hardeware-verskaffer, en die hout wat gebruik is om die vlotte vir die brug te bou, kom van ’n plaaslike dennehout-bosbouer.”

Die brug set 1
Die brug set 6
Die brug set 10
Die brug set 7
Die brug set 8
Die brug set 9
Die brug set 4
Die brug set 2
Die brug set 3
Die brug set 5
Gallery

Die voordeur van die Houthuis is ’n ou staldeur. Die kaggel, die stoof en selfs die metaalplate wat vir die dak gebruik is, is alles al voorheen gebruik. “Toe die Houthuis klaar gebou is, het ons produksie-ontwerper, Laré Brink, en haar span ingetrek en die huis verder ingerig met meubels, eetgery en ander elemente.”

Plaaslike vakmanne is aangestel vir die bou van die stelle. “Oom Kosie was, as hoof van konstruksie, nie net saam met sy regterhand, Emile, vir die bou van die Houthuis  verantwoordelik nie, maar ook vir die oprigting van die Eiland en die Toring. Die grootste uitdaging was om die stukture teen die weer te beskerm,” sê Freddy. “Die bergwinde in die area kan veral baie gevaarlik wees.”

Die vloerplan vir die Houthuis is deur Freddy Louw en Cecil Barry ontwerp, en die konstruksie het ongeveer drie maande geneem. “Ons het gefokus op die detail en alles – van die deurhandvatsels tot die ligte – is met sorg gekies. Ons wou balans kry tussen ’n funksionele ruimte en ’n spasie wat visuele trefkrag het,” sê Freddy.

Inspirasie vir die ontwerp het van verskeie plekke gekom, sê Freddy. “Van aksieflieks en illustrasies in CJ Langenhoven-boeke tot binneversieringtydskrifte. Die voorkoms is dikwels bepaal deur die herverbruikte materiaal wat ons kon kry. Ons wou ’n jagtershutgevoel skep en ook Afrikaanse kultuur vier.”

Die brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Die reeks word uitgesaai op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober om 20:00. Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op XInstagram, TikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.