Logo
web uni tv guide

Skemergrond

145Telenovela13 V

'Skemergrond': 5 redes hoekom dit 'n moet-kyk is

Nuus
01 Julie 2024
Dis amper tyd vir kykers om kennis te maak met die inwoners van Gemoedsdrif in Skemergrond – maar eers vertel die akteurs vir ons hoekom jy nie dié telenovelle mag misloop nie.
Skemergrond speel af in Gemoedsdrif en draai om die Louw-familie en hulle pragtige blomplaas. Die Louws se rustige bestaan word omvergegooi wanneer onverwagte gaste opdaag wat dreig om skokkende familiegeheime te onthul.

Skemergrond skop op 1 Julie 2024 af en beloof om kykers vasgenael voor die kassie te hou met hope drama en intrige. Ons het gaan inloer by van die akteurs.

Carmen Maarman, wat die rol vertolk van Hazel Maarman, sê Skemergrond gaan die kyker op ’n wipwarit neem. “Ek dink alle kykers sal definitief hulself kan sien in ten minste een karakter. Die storielyn is aangrypend en soos hulle sê: ‘Elke huis het sy kruis.’ Ek is super-opgewonde om die eerste episode te sien,” vertel sy. 

Dann-Jaques Mouton, wat die rol van Ruan Smit vertolk, meen Skemergrond is die perfekte kykgenot ná ’n lang dag van werk. “Daar is twee verskillende wêrelde – Gemoedsdrif en Kaapstad. So daar is iets vir mense wat op die platteland bly en die mense op die Kaapse Vlakte. Ek dink almal sal iemand kan vind waarmee hulle hulself kan vereenselwig. Die temas en gesprekke wat plaasvind, is universeel. Ons kry ook die geleentheid om ons gunsteling-akteurs in ander rolle te sien,” vertel hy. 

Nazli George vertolk die rol van Ragel Pienaar, en sy sê Skemergrond praat met almal en van almal. “Maak nie saak wie jy is nie, ons almal ervaar die emosies wat ons in dié telenovelle uitbeeld. Ons mense se lewens word op ’n toer gevat waar ons verskillende karakters ontmoet wat ons kultuur in al haar glorie vier. Dis ’n storie van hoop en liefde, en raak almal,” sê sy. 

Devonecia Swartz vertolk die rol van Christine Atkins, ’n suksesvolle sakevrou van Kaapstad. “Die klein dorpie van Gemoedsdrif se aantrekkingskrag is ongelooflik bekoorlik, met boeiende storielyne en fantastiese akteurs. Ek hoop die gehoor sien die seer in Christine en besef dat nie baie mense ’n skurk is omdat dit lekker is nie, maar omdat hulle self seergekry het,” vertel sy. 

Gershwin Mias vertolk die rol van Kevin Johannes wat die blomme vervoer na die verskillende kliënte. “Die pragtige blomme wat die plaas Everlasting verskaf, maak vir pragtige beelde en prentjies en kleur die spesiale, mooi en vreedsame oomblikke tussen die karakters beeldskoon in. Skemergrond is ’n wêreld waarmee almal hulle kan vereenselwig. Daar is ’n deurlopende, universele boodskap. Dit gaan oor die verbond van liefde, lojaliteit en familie en hoe dit ons as individue beïnvloed.”

  • Skemergrond begin op 1 Julie 2024 om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Dit sal ook beskikbaar wees op DStv Stream en Catch Up.