Logo
Plaasjapie

“Plaasjapie”- geïnspireerde plaaskos-idees wat jy moet probeer

Nuus
13 Junie 2024
Watter plaaskos-dis sal jy voorberei vir ‘n groep mense? Kyk na ons voorstelle!
meat and vegetables meal

Stel jou voor jy word genooi vir ’n “watch party” vir die finale episode van Plaasjapie. Jy moet ’n dis saambring en die tema is plaas kos. Natuurlik is die eerste gedagte ‘n skaapboud, braaiaartappels, soetwortels en dalk beetslaai.

Hier is nog ‘n paar voorstelle van wat jy aanmekaar kan slaan: 

Indien jy ‘n bykos wil bring…

Frikkadelle – Die hoofbestanddeel is gemaalde vleis of wors. Dit word dan met gekapte kruie, sous, speserye en meelblom (of krummels) in bolletjies gerol en word in ‘n pan gebak.

Pastei of ‘n jaffel – ‘n Jaffel is ‘n gebraaide panbroodjie met maalvleis, terwyl ‘n pastei se bestanddele ‘n pasteideeg is met ‘n vulsel.

Slaai – Talle Suid-Afrikaners hou van hulle aartappelslaai. Die ander wenners is natuurlik broccoli slaai, wortel- en koolslaai, of die bekende gemengde groenteslaai. In episode nege van Plaasjapie, was Karen Els, mede-wenner van Kokkedoor Vuur en Vlam, se raad dat ‘n gemengde groenteslaai altyd ‘n soet-suur kombinasie moet hê.

Sosaties oftewel “kebabs” – Tradisioneel word dit geken as die stukke vleis of hoender op ‘n sosatiestokkie. Dit kan ook verruil word vir verskeie stukkies  groente op ‘n sosatiestokkie.

Braaibrood of stokbrood – ‘n Warm gebakte broodjie met gesmelte botter en dalk knoffel en feta-kaas is altyd ‘n wenner. Hierdie broodjies (oftewel brooddeeg) kan eenvoudig oor die kole gebraai word, saam met, of sonder, ‘n vulsel.

Skorsie of botterskorsie – Jy kan ‘n botterskorsie opdis met ‘n vulsel soos ‘n maalvleis mengsel of ‘n feta-kaas en sampioene mengsel, of jou skorsie kan gevul word met ‘n romerige spinasie en feta-kaas vulsel.

Indien jy stysel of proteïen wil saambring vir die hoofgereg…

Dink hieraan: “Wat het jy op ‘n Sondagmiddag geëet?” – Nog raad van Karen Els. Dink terug aan jou kinderdae en die kosse wat vir jou uitgestaan het wat jou Ma of oumas graag gemaak het om die familie mee te bederf na ‘n lang week.

Indien jy stysel wil saam bring, gaan vir stampmielies, rys, aartapels, patat, of mieliemeel.

Indien jy dit wil waag om nagereg te bring…

In die negende episode van was die poeding-voorstelle malva-poeding, sago-poeding of ‘n Jan Ellis-poeding. Moenie die vla en roomys vergeet vir hierdie poedings nie!

Hier is nog voorstelle:

Koeksister of koesister – Maak seker jy ken die verskil tussen ‘n Afrikaanse koeksister en ‘n Kaaps-Maleise koesister (ook genoem koesiester). Vir beide is een van die bestanddele stroop, maar die koeksister of koesister word ‘n bietjie anders voorberei. Dit kan lekker bedien word met ‘n koppie boeretroos.

Tert – Dink aan iets soets soos suurlemoen-meringue-tert of ‘n melktert. Dit kan met roomys of room of selfs alleen bedien word.

Skakel Donderdae om 20:00 in vir Plaasjapie of stroom die reeks enige tyd met DStv Stream.